Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om anders te leef in die tyd van korona

Verlede naweek steek ons versigtig voelers uit met die nuwe manier van doen. Saterdag al bestel ons aanlyn groente, slaai en vleis vir die komende week.

Sondagoggend besef ek daar is geen manier dat my boekbekendstellings van die komende weke kan voortgaan nie. Sondagaand, wagtende op Cyril Ramaphosa se toespraak wat nie wil begin nie, wissel ons tyd voor die televisie af met besoeke aan ons voortuin van waar ons die naderende brand teen Leeukop kan dophou.

Byna soos ’n jaar gelede in Hermanus, waar ons ons vakansiehuis moes ontruim toe ’n vuur reguit op die dorp afgepyl het.

Sedertdien dink ek dikwels aan ’n Katswink-rubriek wat die befaamde Cecile Cilliers jare gelede vir De Kat oor brande geskryf het. Helaas, ek kan die oorspronklike nie opgespoor kry nie, maar onthou die vraag: Hoe besluit jy wat om saam te vat as jou huis brand?

Dít was ook die dilemma ’n jaar gelede in Hermanus toe die opdrag op ons selfone ge-pieng het: Ontruim dadelik jul huise. Ons pak die kleinste tassies: skoon onderklere, ’n warm trui, tandeborsels, ’n handsak met ID-boeke en paspoorte, selfoon en my skootrekenaar met my pas voltooide manuskrip. Honde- en katkos. Water.

Niks wêreldsgoed nie, is die maklike besluit. Belangrikste is dat die twee van ons en ons drie diere veilig is en ’n heenkome het.

Niks wêreldsgoed nie, is die maklike besluit. Belangrikste is dat die twee van ons en ons drie diere veilig is en ’n heenkome het.

’n Paar uur later daardie dag kon ons teruggaan. Die huis was ongedeerd, behalwe vir fyn roet oral. Ons was oneindig gelukkig, want die brand het 100 meter van ons huis gestop. Geblus deur dapper brandslaners en ’n onverwagte harde bui reën wat net op daardie tydstip uitgesak het toe die dorpshuise bedreig is.

Teen verlede naweek, net voor Ramaphosa se aankondiging, was dit weer sulke tyd. Wat sal ons saamvat? Maar gelukkig trek die brand hoër op onder Leeukop verby en kan ons ons volle aandag aan die begin van ’n nuwe tydperk wy: isolasie en verminderde kontak met ander mense. En weer die besef van wat werklik die belangrikste in jou lewe is: vriende, familie, geliefdes en jou huisdiere. Nie aardse goed nie.

’n Vriendin het gesê sy gaan haar ma haal by die aftreetehuis om by haar te kom woon omdat die tehuis (heeltemal tereg) die deure vir besoekers gesluit het. Iemand anders hou ’n danssessie van ’n uur lank vir haarself en haar lewensmaat. Ander probeer nuwe resepte uit.

Ons kanselleer ons herdenkingsete wat drie maande tevore bespreek is. Hou ’n eerste virtuele boekbekendstelling op Twitter in die afwesigheid van ’n konvensionele byeenkoms, en neem ’n welsyn-kat aan.

Dit is maar nog week twee, maar ons leer om bewustelik anders te leef, ons gedragspatrone te verander. Kleiner, stiller, rustiger, meer waarderend. Versigtiger met mens en aarde.

En dis goed.

  • Van Zyl is ’n misdaadskrywer wie se derde roman, Bloedsteen, pas verskyn het.
Meer oor:  Irna Van Zyl  |  Besittings  |  Brande  |  Covid  |  Eenvoud  |  Aardse Besitting  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.