Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om by die herlees weer geraak te word
Annemarie van der Walt

Wat sou ’n gewone leser vir die ontslape skrywer Karel Schoeman sê as sy hom raakgeloop het?

Die leser sou dit wel nie waag om oor koeitjies en kalfies te gesels nie, nie met iemand wat oënskynlik met gemak die stilte in en aan hom gedra het nie; ’n stilte byna hoorbaar op die handvol foto’s in die openbare domein van die skrywer.

Geboei deur die klaarblyklik onaantasbare persona, sou die leser telkens na veral twee foto’s van die skrywer terugkeer. Een is waar hy as jonger man met sy rug teen ’n muur leun, arms gevou oor die blokkieshemp en sy oë wat wegkyk van die kameralens van die fotograaf Philip de Vos. Die ander foto is van ’n veel ouer skrywer, sy hande netjies gevou op die lessenaar voor hom, yler en grys hare en baard, sy wenkbroue liggies opgetrek agter die brilraam en sy oë behoedsaam. Vir die leser is daar ’n sweem van deursigtigheid aan die foto’s, asof die beelde sienderoë sal oplos, weer verander in die onderskeie chemikalieë wat dit op die fotopapier vasgelê het – ’n omgekeerde ontwikkelingsproses.

Dit sou gepas wees indien geen digitale foto’s van die skrywer geneem is nie. Dit is hom nie waardig nie, dié vlietende vasvang van sy beeld op ’n klein skerm. Nee, sy ontwykende syn verdien ’n dofbruin negatief waarin sy ligte gelaat donker en substansieel sal uitstaan wanneer dit teen ’n skerp lig gehou word.

Sê maar die gewone leser is op ’n dag in dieselfde vertrek as die skrywer, sou sy suutjies nader staan, sy hande wit soos papier dophou, en wanneer hy dit, net dalk, vir ’n oomblik ontwapenend laat sak, vooroor leun en sê: “Van al u boeke is die een wat my bybly . . .” En dan sou die leser huiwer en eerder wegdraai, skielik onseker. Was dit ’n Lug vol helder wolke? Of eerder Die uur van die engel, Verliesfontein, Afskeid en vertrek, Waar ons gelukkig wasof ’n Ander land?

Dit is asof die boektitels ’n klein kantate word, die pas daarvan stadig soos die lang sinne in die mees herleesde boek op die leser se rak: Hierdie lewe.

Dit is asof die boektitels ’n klein kantate word, die pas daarvan stadig soos die lang sinne in die mees herleesde boek.

Die leser sou opkyk en sien die skrywer het hom teruggetrek na ’n hoek van die vertrek, en haar gedagte was: Dit herinner aan hoe die leggers in ’n leeskamer van ’n argief snamiddags opgeruim word, weer verdwyn in die onsienbare gange agter die toe deure om opnuut geliasseer te word; die ontsluiting van die geskrifte altyd uitgestel.

Aan al hierdie dinge het die leser gedink toe sy die nuus lees van Karel Schoeman se afskeid van en vertrek uit die lewe. Sy het Die uur van die engel van die rak gehaal en gelees: “Die leë landskap, dood en afgestroop in die winter, is plotseling verheerlik en die leegheid het gebot en geblom. [ . . . ] Die reis gaan inwaarts.”

Die gewone leser sal al die boeke herlees, die een ná die ander, en dit sal haar, soos tevore, buitengewoon raak.

Meer oor:  Selfbeskikking  |  Skrywer  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.