Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om Cyril van Afrikaans se integriteit te oortuig

Sal groepe wat met die president oor Afrikaans wil praat, daarin slaag om Afrikaans in sy volheid voor te dra? vra Danny Titus.

Danny Titus

Prof. Hein Willemse is onlangs uitvoerig deur regter J. Froneman van die konstitusionele hof in die saak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat aangehaal.

Dit gaan daaroor dat groot getalle Afrikaanssprekendes geweldig arm is en in moeilike omstandighede ’n bestaan moet voer.

Die regter plaas Willemse se aanhaling naas dié van oud-regter Albie Sachs, wat nie sy respek vir die Afrikaanse taal en kultuur onder stoele of banke wegsteek nie.

Dis ’n minderheidsuitspraak wat spesifiek argumenteer dat die Afrikaanse taal, en by implikasie die Afrikaanse kultuur, borrel van verskeidenheid en kompleksiteit en veel meer aandag moet kry.

Dis enersyds van belang vir Afrikaanssprekendes wat bewustelik die stappe na inklusiwiteit geneem het en andersyds om die stereotipes by swart landgenote en veral ook by wit Engelse landgenote oor Afrikaans en sy mense aan te spreek.

Afrikaans veel groter as sy beperkende verlede

Ek werk van tyd tot tyd deur Willemse se boek Aan Die Ander Kant – Swart Afrikaanse Skrywers in die Afrikaanse letterkunde (2005).

In een van die hoofstukke, “Afrikaans se onsigbare grense”, verdiep Willemse hom in die gedienstigheid van Afrikaans aan die ideologie van die tyd.

’n Mens is bekend met die politieke ingesteldhede sowel as die historiese, maar om dit so te sien in die Afrikaanse letterkunde is vir my nogal verrassend. Daar is die onderskeid tussen beskaafde en onbeskaafde Afrikaans, die ongemak om Afrika-diereverhale te erken as inheems.

“Die inboorling, veral die mak Boesman en Hottentot, vertel sy dier- en jagstories oor aan hul ‘blanke basies en nonnies’.”

Tereg sal gesê kan word dat dit alles tot die verlede behoort en daar toegesluit behoort te word.

Daar is die hemelse regverdiging vir die eksklusiwiteit.

“Die Afrikaanse taal ons moedertaal . . . wat ons Liewe Heere ver ons gegee het.”

Afrikaans het op ’n “misterieuse wyse tot die Afrikaner gekom,” dit is ons enigste taal. En so gaan dit aan.

Tereg sal gesê kan word dat dit alles tot die verlede behoort en daar toegesluit behoort te word.

Afrikaans is vandag veel groter as die beperkthede van die verlede.

Waarom dan in dié tyd ’n pop van Lesufi Panyaza, LUR van onderwys in Gauteng, aan die brand steek?

Is dit wat ten grondslag lê vir die fanatici?

Afrikaans is vandag veel groter as die beperkthede van die verlede.

Adam Small se Afrikaans is afgemaak as die taal van “kleurling-skollies” en tog is hy met die Herzogprys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.

Ons kan nie van die verlede ontvlug nie

Ons wil so graag glo dat ons die verlede en dié se denkrigtings agtergelaat het. Ons kan egter nie van die verlede ontvlug nie.

Was dit nie Jan F.E. Cilliers nie wat gedig het “Ek hou van ’n man . . . .” en dan om te bevestig dat Afrikaans nie ’n bastertaal is nie, “en die bastergeslag in sy siel verag.” Die taal van die afgesonderde boer “wat tog weer edeler is as dan het gebroken taaltje der gekleurde bedienden”. Vandag is daar sprake dat die Afrikaanse gemeenskap binnekort ’n gesprek met die president oor Afrikaans en Afrikaanse onderwys kan hê.

Watter Afrikaans, watter Afrikaanse onderwys?

Het ons dié keer anders as die enkele kere met oudpres. Jacob Zuma se ontmoetings met Afrikaanse organisasies ’n kans om Afrikaans in sy volheid voor te dra?

Ons weet wat die verskille is, ons weet wat die knelpunte is.

Het ons dié keer anders as die enkele kere met oudpres. Jacob Zuma se ontmoetings met Afrikaanse organisasies ’n kans om Afrikaans in sy volheid voor te dra?

Kan ons pres. Cyril Ramaphosa oortuig van die integriteit van Afrikaans?

Dit lyk my ons kan in die onderlinge gesprekke die afgelope tyd baie sterker fokus op die groter stem van Afrikaans en die nasionale relevansie van die Afrikaanse taal en kultuur.

Ons moet hard en duidelik kan praat en na mekaar kan luister.

Verlede week was daar ’n grondberaad van die Khoi en San in Johannesburg met uiteenlopende mense soos dié uit die wye Khoisan-spektrum, Black First Land First onder leiding van die vuurvreter Andile Mngxitama, AfriForum se Kallie Kriel, die Griekwa-leier Cecil le Fleur, prof. Ruth Hall van die UWK en talle ander.

Die tafel was gedek vir konflik van hier tot gunter en die konferensie het nie teleurgestel nie. Standpunte is skerp en fel gestel. Tog het dit nie uitmekaar geval nie. Ons moet hard en duidelik kan praat en na mekaar kan luister.

Ek moes aan die konferensie dink toe ek lees van die “mak Hottentotte en Boesmans” in die literatuur. Die makkes praat nou oor hul grond en die herstel van hul verlede.

Die Afrikaanse letterkunde van vandag kan gewoon nie apaties hieroor staan nie.

* Dr. Titus is uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Danny Titus  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.