Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om debatte te voer wat menswaardigheid bevestig

Dit lyk soms asof ons debatte, menings en verskille ’n uiters noodsaaklike element kortkom: om mekaar met die nodige (mens-)waardigheid te hanteer, skryf Leslie van Rooi.

Leslie van Rooi

Verskeie relevante debatte oorheers tans die diskoers in Suid-Afrika. Dit sluit debatte oor grondhervorming, geweldsmisdaad, gay lidmate in die NG Kerk, bendegeweld en die ekonomiese moontlikhede van ons land in.

Hierdie debatte, soos ander, is broodnodig en wys dat die burgery verstaan dat ons ’n rol in ’n demokrasie het. Dit is natuurlik nie net waar vir ons rol in debatte nie. Sonder hierdie diskoers sou ons sukkel om sin te maak van wat om ons aan die gang is. Dit help ons dus ook om aktief deel te kan hê in ander prosesse in ons land.

Soos dit gaan in debatte wat op verskeie vlakke heers, is dit so dat daar vele kante aan ’n saak is. So is daar ook vele menings. Hierdie elemente is, onder meer, noodsaaklik om ’n debat gesond te hou en om dit te stimuleer.

Dit lyk egter soms asof ons debatte, menings en verskille ’n uiters noodsaaklike element kortkom: om mekaar met die nodige (mens-)waardigheid te hanteer. Selfs wanneer ons sterk verskil en gewoon nie met die ander se siening kan saamleef nie, behoort die idee daarvan om die ander party met waardigheid aan te hoor en om waardig van hom of haar te verskil en om weer te probeer, sentraal te staan. Dit is dalk juis hierdie element wat die grondslag moet vorm van ’n samelewing wat uit sy verlede vorentoe moet leef.

Die een gevoel wat ons sal bybly

In hierdie verband val twee onlangse belewenisse my by. Een verhaal hou verband met gesprekke gedurende ’n onlangse huiskomiteekamp van die Univeristeit Stellenbosch (US), waar ’n diverse groep pasverkose studenteleiers saam probeer soek (het) na nuwe moontlikhede vir hul studentegemeenskap.

Koshuise op ons universiteitskampusse is mikrokosmosse van die land en word ook beïnvloed deur kontinentale en globale diskoerse. Dit is ook in hierdie geval waar.

Dit is egter die idee dat jong leiers die moeite doen om die ander se (mens-)waardigheid te bevestig deur elke stem toe te laat in die gesprek en om mekaar met sagte(r) ore aan te hoor, wat my veral opval. Selfs in die moeilikste debatte en gesprekke is hierdie verbintenis tot mekaar en tot nuwe moontlikhede waar. Nie omdat hier iets magies aan’t gebeur is nie. Maar juis omdat ’n groep jong Suid-Afrikaners besef dat dit noodsaaklik is om mekaar as medemense waardig te hanteer. Dit doen hulle juis omdat hulle weet dat, in ’n soeke en strewe na wat die beste moontlike uitkoms kan wees, hulle mekaar in hul diversiteit broodnodig het.

Om met mense te werk, beteken dat jy jouself moet verstaan en moet vind. Maar bowenal ook dat jy hul (mens-)waardigheid moet erken.

Die tweede belewenis speel op Gansbaai in die Overberg af, waar ds. Dirk van Dyk se tyd as dominee van die plaaslike NGK-gemeente tot ’n einde kom. Op sy afskeid herinner hy sy gemeente aan iets wat hom gedurende sy bediening gedra het. Ná jare se diens, ’n fanfare van ervaringe en verskillende paaie, is daar veral een ding wat hom bybly: dat hy deur sy loopbaan beleef het dat mense hom met waardigheid hanteer. Dit, meen hy, het hom meer laat doen, verder laat mik en dieper sin gebied.

’n Mens sou verwag dat ná jare in die leraarsamp daar ander dinge moes wees wat die dominee kon herroep. Maar as ’n mens mooi daaroor nadink, is dit verstaanbaar – om met mense te werk, beteken dat jy jouself moet verstaan en moet vind. Maar bowenal ook dat jy hul (mens-)waardigheid moet erken.

En dan is ’n mens soms gelukkig dat jy self iets daarvan herbeleef.

Dalk is dit daardie gevoel dat jy waardig hanteer word en dat jy ander se waardigheid bevestig, die een gevoel wat ons sal bybly – wanneer dit goed gaan en wanneer ons weet dat dit beter behoort te gaan. Dalk is dit wat ons woedend maak wanneer ons dit nie beleef in ons land nie. En dalk is dit wat ons tot ’n gesprek laat toetree. Dit kan ook waar wees dat die afwesigheid van menswaardigheid gesonde en nodige gesprekke laat afwater tot iets wat as skeltaal verdoem is.

As ek kyk na ons huidige debatte, is dit dalk hierdie element wat die gesprekke verder laat vorder. Net dalk is dit die toets wat ons debatte moet slaag om werklik ’n positiewe uitwerking te hê.

* Dr. Leslie van Rooi is die senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Stellenbosch  |  Gansbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.