Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om die dood te hanteer

Wat maak ons, juis in dié tyd, met die werklikheid van die dood wat ons onverhoeds bekruip? Dit is van veel meer belang om die sin van ons lewe te soek, nie in ’n lewe ná die een wat ons nou lei nie, maar juis in die lewe van hier en nou, meen Anton van Niekerk. 

Tradisionele godsdienste se boodskap is dat die dag as jy jou oë finaal sluit, dan breek die oomblik aan waarin jou lewe werklik sin verkry, sê die skrywer. Dit word treffend uitgebeeld deur Michelangelo se Die laaste oordeel in die Sistynse kapel in die Vatikaanstad, Rome. Foto: GETTY IMAGES

Ons word in hierdie tyd van die koronavirus-pandemie op ’n amper presedentlose wyse met die dood gekonfronteer.

Min bronne in die wêreldliteratuur vertolk ons angs en onsekerheid oor die dood beter as die Psalms – ons het in hierdie dae tereg ’n “dal van doodskaduwee” betree (Psalm 23); wat ons bedreig, is ’n “pes wat in die donker wandel, ’n siekte wat op die middag verwoes” (Psalm 91).

Ons het nuwe begrip vir waarskynlik die swartgalligste van al die Psalms, naamlik Psalm 88, waar die donker wolk nooit ’n silwer randjie kry nie. Dis asof hierdie psalm sosiale afstand amper letterlik voorsien: “U laat my vriende en my bure ver van my af staan.”

Die slotwoorde van die psalm is, buiten die uitroep aan die kruis oor ’n God wat Sy Seun verlaat het, die swartgalligste in die hele Bybel: “ . . . die duisternis van die dood is my geselskap”.

Moderne skeptisisme

Dis ’n boeiende studie om na te gaan hoe mense in verskillende tydvakke en sosiale kontekste met die werklikheid van die dood gehandel het, veral as die dood skielik loodreg in ons gesigsveld verskyn.

Godsdienskritici soos Yuval Noah Harari voer in ’n onlangse artikel in The Guardian aan dat godsdienste nooit die invloed sou verwerf het waaroor hulle beskik indien hulle nie kon inspeel op mense se vrees vir die dood nie.

Veral die “godsdienste van die Boek” (Judaïsme, Islam en die Christendom) se krag lê nog altyd in die wyse waarop hulle vir mense sin probeer maak van die dood. Hul boodskap is dat die dag as ’n mens jou oë finaal sluit tydens jou aardse lewe, dan breek die oomblik aan waarin jou lewe werklik sin verkry.

Daardie sin word treffend deur Michelangelo in sy manjifieke Die laaste oordeel in die Sistynse kapel in Rome uitgebeeld.

Aan Christus, wat in glorie terugkeer met sy wederkoms, se linkerkant daal die siele wat veroordeel word af in die hellevuur van die verdoemenis, terwyl aan sy regterkant die vrygespreekte saliges opstyg om te gaan deel in die heerlike teenwoordigheid van God self in die hemel.

Solank die godsdienstige leierskorps hierdie konstruksie aan mense kan verkoop, bly hulle in besigheid en maak die dood as poort tot die ewige saligheid of verdoemenis vir mense sin.

Dit is egter al etlike eeue – die tyd sedert die aanbreek van die moderne wêreld in die 17de eeu – dat skeptisisme oor hierdie soort voorstellings en konstruksie toeneem. Die moderne wêreld is die wêreld waarin ons geleer het om self verantwoordelikheid te neem vir ons wel en weë.

Moderniteit is die era van ’n ongebreidelde sug na beheer, aangevuur deur ambisie en selfvertroue. Dit is die era waarin die menslike rede sy stempel plaas op alle dinge. Dit omvorm die natuur en pas dit aan by menslike behoeftes.

Moderniteit is gebore uit die protes teen oorgelewerde gesag en bygeloof. Dis gewortel in ’n vooruitgangsoptimisme wat amper vier eeue lank al gevoed word deur die skynbaar grenslose potensiaal van wetenskap, tegniek en organisasie.

Die dood is (nog nie) oorkom

Die een groot anomalie wat moderniteit egter (nog) nie kon oorkom nie, is die dood.

Volgens Zygmunt Bauman in sy Mortality, Immortality and Other Life Strategies is die strategie wel in die moderne wêreld ontwikkel om die dood klein te kry deur dit op te breek in ’n groot aantal “stukkies” of “repies”, wat ons “siektes” noem.

Ons sterf nie meer, soos vroeër, bloot aan ons eie sterflikheid nie, maar aan een of ander “siekte”.

Ons kan elke keer die siekte probeer vermy, maar nie permanent nie. Die dood bly die groot enigma en die groot verleentheid van die magtige moderne mens.

Dit beteken egter nie dat die stryd teen die dood prysgegee word nie. Inteendeel.

Wat in die 21ste eeu volgens Harari gebeur, is dat die dood al hoe meer beskou word as niks meer nie as ’n tegniese probleem.

Mense sterf nie omdat God dit verordineer het en ná ’n mens se dood sin aan jou lewe gee nie. Mense sterf eerder bloot vanweë tegniese ontsporings.

Die hart hou op om bloed te pomp, kankerselle versprei vanweë ’n genetiese mutasie, virusse kom sit in my borskas omdat iemand in die taxi genies het.

In ons tyd glo ons al hoe meer dat die dood onder beheer gebring of selfs uitgeskakel kan word.

Harari sluit in hierdie opsig aan by ’n groeiende groep intellektuele (soos Aubrey de Grey en Ray Kurzweil) wat reken dat menslike onsterflikheid ’n haalbare ideaal is.

Defekte harte kan met behulp van onder meer pasaangeërs gestabiliseer word, kankerselle kan met bestraling of chemoterapie gebombardeer en vernietig word en entstowwe kan ontwikkel word om virusse skadeloos te stel.

Soos Harari dit formuleer: “We don’t need to wait for Christ’s second coming in order to overcome death. A couple of scientists in a lab can do it.”

Maar, soos ons maar al te goed weet, gebeur dít nie oornag nie.

Ook die insig en vermoëns van die nuwe geslag witjas-helde van ons samelewing stuit op grense.

Ten spyte van die uiters lofwaardige werk wat hulle elke dag doen en die derduisende lewens wat hulle gereeld red, is die koronavirus ’n wrede herinnering daaraan dat hulle ook net mense is, en daarom feilbaar. Die dood steek vir ons almal tong uit te midde van ongekende mediese kennis en vaardighede.

Ook die witjas-helde van ons tyd is beperk en feilbaar. Niemand kon al ooit of sal in die afsienbare toekoms die dood kan vermy nie.

Die sin van die lewe

Wat maak ons dan, juis in ons tyd, met die werklikheid van die dood wat ons onverhoeds bekruip?

Was die tradisionele godsdienstige beskouing dan altyd reg dat die sin van die lewe slegs onthul sal word in ’n tans onkenbare dimensie wat eers ná die dood vir ons aanbreek? Ek meen dat só ’n uitweg ook nie meer vir ons as moderne mense aanvaarbaar is of troos bring nie.

Om tot in alle ewigheid met ’n harp op ’n wolk te sit, is ’n onaantreklike (en waarskynlik hoogs vervelige) vooruitsig.

Dit is van veel meer belang om die sin van ons lewens te soek, nie in ’n lewe ná die een wat ons nou lei nie, maar juis in die lewe van hier en nou.

Nóú is daar die kans om goed te doen, om hongeres te voed, om lydendes te troos en te ondersteun, om genadig te wees vir en te lewe ter wille van die medemens.

Miskien slaag die witjas-helde daarin om lewe onbepaald te verleng. En miskien, as ons ons oë die laaste keer sluit, ontdek ons dimensies van de werklikheid waarvan ons nie kon droom nie en wat korreleer met dit waaraan gelowiges tans vashou.

Hoe ook al, die lewe is daar om hier en nou jouself in te verlustig en om in diens te staan van die medemens. Covid-19 en ons konfrontasie met die dood moet daardie oortuiging nie verswak nie, maar eerder versterk.

Bronne:Bauman, Z. 1992. Mortality, Immortality, and Other Life Strategies. Cambridge: Polity Press.

Harari, Y.N. 2020. “Will the Coronavirus change our attitudes to death? Quite the opposite”. The Guardian, 20 April 2020.

Van Niekerk is professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van die boek Die dood en die sin van die lewe (Tafelberg, 2017.)

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Pandemie  |  Dood  |  Sterfte  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.