Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om die kwaad deur die goeie te oorwin

Sedert September is alle rugbyondersteuners se aandag op die Wêreldbeker­toernooi in Japan gevestig.

Daar sien ons hoe mense met passie en geesdrif hul spanne ondersteun en aanmoedig. Sommige gaan so ver om die kleure van hul span op hul lyf te verf, party dra die snaaksste uitrustings, terwyl ander uitbundig skreeu en na hartelus hul land se vlag rondswaai.

Die Amerikaanse filosoof James Smith re­deneer juis in een van sy boeke hoe stadions, winkelsentrums en selfs universiteite eintlik liturgiese strukture is wat ons gedagtes en ons toegeneentheid, liefde of passie beïnvloed.

Hy sluit aan by die kerkvader Augustinus wat gesê het die mens is ’n begeertevolle agent wat vol verlange en passie is. Hy redeneer ons is waarvoor ons lief is. Smith probeer ons verlange en begeertes herkanaliseer om ons te laat fokus op die grootste goed, naamlik God.

Hierin lê onskatbare waarde vir ons wat gemoeid is daarmee om Suid-Afrika te transformeer weg van rassisme, korrupsie en geweld na ’n plek van menswaardigheid, gelykheid en veiligheid.

Met amper 80% van die land se bevolking wat Christene is, kan ons bydra om Suid-Afrika ’n vredevolle en groeiende land te maak

Met amper 80% van die land se bevolking wat Christene is, kan ons bydra om Suid-Afrika ’n vredevolle en groeiende land te maak waar vir almal ’n plekkie in die son is en waar niemand honger hoef te gaan slaap nie.

Hiermee is baie mense al baie lank besig en hulle ywer daagliks oor taal-, kleur- en godsdiensgrense heen om verandering in die regte rigting te bring.

Daar is lank geredeneer dat as ons mense wil verander, ons hul gedagtes en denke moet verander. Smith wys egter daarop dat die verandering wat ons wil sien, op die weg lê van wat mense begeer en liefhet, want wat ons liefhet, vorm ons en definieer ons. Uiteindelik is ons of word ons wat ons liefhet.

Ons moet daarom mense help om die regte dinge lief te kry, die hoogste goed na te streef deur hul passie daarvoor aan te vuur.

Hier kan die geloofsgemeenskappe, veral die Christen-eredienste en -aanbidding en Christelike praktyke, ingespan word.

Ons gaan dan juis kerk toe om te leer om die regte dinge lief te kry – dinge soos vergifnis en ondersteuning vir behoeftiges.

En ja, ons leer ook om geweld af te sweer omdat ons glo dat liefde die kwaad oorwin. Só leer Romeine 21:21 dat ons die kwaad deur die goeie oorwin.

Met hierdie inslag en benadering kan ons beslis die gety van korrupsie, rassehaat en geweld, veral teen vroue en kinders, in sy spore stuit en omdraai.

Suid-Afrika beskik oor genoeg goeie mense wat die goeie liefhet en nastreef om ’n land te bewerkstellig waar almal menswaardig behandel word en waar almal genoeg kan hê om ’n menswaardige en gehaltelewe te kan lei.

  • Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Godsdiens  |  Christenskap  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.