Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om in Frans (met ’n masker) te vry

Noudat Lynné Schoeman haar meestersgraad in joernalistiek verwerf het, is daar twee maniere vir haar om in Frankryk aan te bly: Sy sal óf ’n werk, óf ’n man moet vind.

‘Nou weet ons die probleem het al die jare by jou neus gelê.”

Dis my broer se antwoord op die onverklaarbare verskynsel wat ek in ’n Whats­App-videogesprek aan my gesin in Suid-Afrika probeer verduidelik: Vandat Frankryk gesigmaskers verpligtend gemaak het, het belangstelling van die teenoorgestelde geslag drievoudig toegeneem.

Ek is nie seker hoe om te voel oor dié skielike aandag noudat die helfte van my gesig bedek is nie. Drie jaar in Lille en nog nooit is ek só gereeld deur mans op straat genader nie. En ek praat nou nie van die smerige gifappel in ’n sweetpak op die straathoek wat ’n walglike ding fluister wanneer jy verbystap nie.

Die Fransmanne wat kom vra of hulle jou maar op Instagram mag volg en dan ’n persoonlike boodskap stuur om jou vir ’n koffie of ’n bier te nooi, is opgevoed en skaflik – of ten minste op die oog af.

Ná twee jaar se swoeg deur ’n Franse joernalistiekkursus soek ek kliphard werk. Dit sal die eerste prys wees, maar as rugsteunplan het ek op gemaskerde afsprake begin gaan.

So staan ek in my oefenklere in die librairie op die stadsplein. Met sy sewe verdiepings is Le Furet du Nord een van Europa se grootste boekwinkels. Natuurlik is daar ’n rak met ’n “Meyer”- plaatjie, spesiaal vir die Franse vertalings van Suid-Afrika se bekendste misdaadromans.

Foto: ISTOCK

’n Werknemer het ’n handgeskrewe nota aan L’Année du Lion (Koors) vasgespeld: “Meilleur polar de ma vie. Bon, j’ai trente ans mais ça compte quand même.” (Beste misdaadroman van my lewe – ek is nou wel 30 jaar oud, maar steeds).

Ek wil nog ’n foto van die juweeltjie neem, toe ’n gemaskerde man met ligbruin oë skielik langs my staan. “Ekskuus tog, ek is op soek na ’n Amerikaanse misdaadriller vir my ma. Het jy nie dalk enige voorstelle nie?”

“Nee, jammer,” sê ek. “Ek kyk hier na misdaadromans wat in Suid-Afrika afspeel, dis waar ek vandaan kom.” ’n Paar ditjies, datjies, koeitjies en kalfies later, los ek hom in die misdaadafdeling en ek stryk aan betaalpunt toe.

Amper by die deur uit, hoor ek die gemaskerde man aangehardloop kom. “E-Ek wou net hoor of ek dalk jou nommer kan kry? Ek sal graag my Engels wil oefen . . .”

Gabriel

Vir my eerste afspraak met Gabriel* het ek oorweeg om van daardie grotman-partytjietande in te sit en sy reaksie dop te hou wanneer ek my masker aan tafel afhaal.

Ek het egter te laat daaraan gedink en die kostuumwinkel was te ver van waar ek hom buite die moltreinstasie in die middestad moes ontmoet.

Ons gaan sit by ’n tafel buite ’n straatkafee. Hy het vir ons appelsap bestel. Dalk oor hy van Normandië is en nie van Lille waar almal bier drink nie, dink ek. Met ’n breë glimlag vertel ek hom van my voorgenome tandepoets wat toe nie gerealiseer het nie. “Dit sou snaaks wees,” sê hy, maar hy lag nie.

As ek nou terugdink, kan ek nie onthou dat hy vir enige van my grappies gelag het nie. Ek voel nogtans gevlei toe hy erken hy het nie regtig ’n boek vir sy ma gesoek nie, eintlik net ’n verskoning om met my te praat.

Ek het bietjie bekommerd geraak toe hy op ons tweede afspraak erken dat hy eintlik lanklaas ’n boek gelees het. Hy was baie besig.

Eers het hy sy werk as chemiese ingenieur in Strasbourg bedank en Lille toe getrek om sy eie onderneming te begin – een of ander skommeldrankie wat hy en vennote ontwikkel het, wat eersdaags die rakke gaan tref.

Om ekstra geld te maak, wil hy en ’n vriend teel met garnale wat in die donker gloei. Daarvoor moes hy ’n vistenk koop, wat in sy slaapkamer staan en wag vir die seediertjies wat hy in België moet gaan haal sodra sy ouers sy kar van Normandië af bring.

Die laaste strooi was sy samesweringsteorieë . . . Vanweë sy wetenskap-agtergrond glo hy darem nie die aarde is heeltemal plat nie. Maar omdat hy al “ ’n paar keer in sy lewe” towersampioene gebruik het, is hy “meer agterdogtig”. Hy sien hoe my oë rek en sê vinnig: “Jy weet, Steve Jobs het ook LSD gebruik.”

Ek het dit nie geweet nie, maar ek dink nie Jobs se suksesverhaal het op proteïenskommels en gloeiende garnale berus nie.

Hadrien

Hadrien* is ’n lang donkerkopman met vriendelike bruin oë wat ’n geselsie aangeknoop het nadat hy my in die ry van ’n salon de thé met my Venezolaanse vriendin hoor Engels praat het.

Die Instagram-boodskap het later daardie aand gevolg en ons spreek af om by ’n koffiewinkel te ontmoet.

Hadrien maak sy verskyning en mik vir die eerste van twee wangsoene soos ons in pre-koronatye in die noorde van Frankryk gemaak het. Ek tree verskrik terug. “Kom nou, glo jy regtig in die virus?” vra hy.

Sy doktorsgraad in sielkunde kom vroeg ter sprake en hy verduidelik: In ’n verhouding is daar altyd een mens wat liewer is vir die ander een. “Dis seker moontlik,” sê ek.

“Dis ’n feit soos ’n koei,” sê hy. “Kyk byvoorbeeld na jou ouers. Van die foto’s wat ek op Instagram gesien het, sou ek sê jou ma is liewer vir jou pa.”

Daar was nie ’n tweede afspraak nie.

Hugo

Ek wend my toe maar tot Tinder.

Hugo* is ’n bierdrinkende ingenieur met ’n sin vir humor, wat my vir ’n derde afspraak see toe neem. By Le Touquet lê ons met maskers op die strand en ek swem vir die eerste keer in die Engelse Kanaal. Ons praat oor vreemde tradisies en ek vertel hom dat sommige Afrikaanse mense hul vriende en familie op die mond soen.

“So, in Suid-Afrika is daar nie veel nut om ’n kêrel te hê nie, is daar?” vra hy. “Klink my daar is genoeg ander mense om te soen.”

“Ja, maar daar is nou nie juis iets romanties aan ’n verrimpelde hand wat jou aan die wang nader trek vir ’n nat soen op die mond nie,” sê ek.

Dis reeds donker toe hy my voor my woonstel in Lille aflaai. Ek skraap my sanderige besittings by my voete bymekaar en wip uit die kar. Die volgende oggend kry ek ’n WhatsApp-foto van ’n geblomde masker. Mý geblomde masker met die byskrif: “Kyk wat het my kollega in my kar ontdek. Hy wou weet wat ek die naweek aangevang het.” As ek nie my (ander) masker gedra het nie, sou ’n mens ’n effense blos op my wange bespeur het.

Hugo verstaan egter nie dat ek wíl werk nie. Teen die vyfde afspraak begin hy praat oor sy ideale gesin: ’n vroutjie by die huis en vier blonde kinders met blou oë. Ek besef my rugsteunplan en sy Lebensborn-broeikasplan is nie versoenbaar nie.

Matthijs

Terug op Tinder swipe ek ’n aantreklike Belg.

Nadat ek doodseker gemaak het die grense is oop, klim ek die Saterdagoggend op ’n bus na Gent. My afspraak met Matthijs* is eers later, so ek het genoeg tyd om die stad op my eie te verken. Ek reken indien die afspraak flop, sal ek halfnege se bus haal. Gaan dit goed, tienuur s’n.

Matthijs laat weet hy het op die stasie aangekom. Ek bel hom toe ek naby die stasie kom.

“Het jy ’n bruin jas aan en het daar nou net ’n duif in jou vasgevlieg?” vra ek.

“Ja,” lag hy. “Hoe weet jy?”

“Want ek sien jou.”

Om my tuis te laat voel, het Matthijs vir ons by ’n “Afrika”-restaurant bespreek. Daar is houtmaskers teen die mure en die Nederlandssprekende kelners het almal Afro’s.

“Dis my eerste keer by ’n Afrika-restaurant,” sê hy.

“Myne ook,” glimlag ek. “En ek sal my hoed opeet as hier hoenderpastei of malvapoeding op die spyskaart is.”

Daar is toe wel kippenvleugels en krokodil, maar ook ’n Middelvlei-merlot en Beyerskloof-pino­tage!

Matthijs het mooi maniere, sy oë is die kleur van skoon swembadwater en ons deel ’n humorsin en belangstellings. Maar wat my die meeste beïndruk, is dat hy voor die afspraak spesiaal ’n hele lys Afrikaanse woorde gaan leer het.

Die tienuurbus sal dit wees.

*Skuilname

  • Schoeman is ’n joernalis van Frankryk. Sy kom oorspronklik van Kaapstad.
Meer oor:  Frankryk  |  Gesigmaskers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.