Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om korrupsie te stuit is ons almal se plig

Verlede week woon ek die tweede inter­nasionale konferensie oor korrupsie in Abuja, Nigerië, by.

Dáár vertel een van die sprekers hoe ’n ouer voorspraak gedoen het by sy universiteit oor sy dogter wat swak in die eksamen gevaar het.

As verskoning voer hy aan dat sy nie genoeg tyd gehad het om die vraestel te voltooi nie. Met die daaropvolgende ondersoek word met die hulp van kringtelevisie ontdek dat die dogter wel tyd gehad het, maar dat sy verkies het om met haar kop op die bank te slaap.

Die storie van die pa wat nie sy eie kind kon vertrou nie, het ’n mens aan die hart gegryp. Wat is aan die gebeur as ons nie meer ons eie kinders kan vertrou nie?

Met hierdie storie wou die spreker die omvang, diepte, krag en verweefdheid van korrupsie nie net in ons samelewing en instellings nie, maar ook in ons familie­lewe uitbeeld.

Wat het ons as ouers of ouer generasie ons kinders geleer? Watter rolmodelle was ons dan vir hulle?

Die omvang van korrupsie is só geweldig dat die uitwissing daarvan of die afbreek van die geneigdheid daartoe ons dalk nog dekades, indien nie eeue nie, gaan besig hou.

Wat is aan die gebeur met ons samelewing en opvoedkundige instellings as dit blyk dat ouers nie meer hul eie kinders se morele waardes en godsdienstige beginsels kan vertrou nie?

Wat het ons as ouers of ouer generasie ons kinders geleer? Watter rolmodelle was ons dan vir hulle?

Watter morele en sosiale of religieuse invloed het ons dan op ons kinders gehad?

Dat hierdie soort vrae by ’n konferensie oor korrupsie gevra word, toon die realiteit dat die tentakels van korrupsie reeds die volgende generasie gevange hou.

Oudpres. Nelson Mandela het gesê kinders is ons grootste skat en na hulle verwys as die rots waarop ons toekoms gebou sal word.

Dit is daarom van belang dat ons nóú alles doen om te sorg dat korrupsie nie ons kinders se toekoms verwoes, hulle van geleenthede beroof, of erger, dat korrupsie van ons kinders slawe van bedrog maak nie.

Hoewel dit blyk dat korrupsie al hoe aantrekliker vir al hoe meer mense in verskillende samelewingsfere word, en al redeneer mense dat hulle deur korrupsie menswaardigheid kan bekom en daarom hul korrupte handeling regverdig, moet ons met passie en verantwoordelikheid enige vorm van korrupsie pak, uitlig en aanmeld.

Dit is ’n mite om te dink dat almal korrup en aandadig aan korrupte handelinge is. Korrupsie is kompleks en benodig daarom ’n kollektiewe aksie van verantwoordelike burgers om te werk vir ’n samelewing vry van korrupsie.

Die Bybel leer ons in Spreuke 22:1 dat ’n goeie naam meer werd is as groot rykdom.

Korrupsie beskaam, maar ’n goeie naam word vereer.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Korrupsie  |  Waardes  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.