Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om kosgeheime te ontdek . . . en dan uit te lap
Martie Retief Meiring

Dit was die besbewaarde geheim in die ganse streek. Toe loop verklap ons dit.

Die aanloop: Midde die allermajesteitlikste omgewing tussen kranse en klippatrone wat Petra in Jordanië ’n go kan gee, loop staan ons teen die verraderlike bergpas van waar g’n mensgemaakte sein ooit gestuur kan word nie.

Toe daag drie engele op. Nou nie eintlik engele nie, want dit was ’n belustiging wat hulle op hierdie eensame Sondagmiddag oor die ongenadige pas gedryf het.

Hulle kon naamlik doodeenvoudig nie ’n dag langer sonder brinjalpiekel oorleef nie. Toe ry hulle. En toe kom hulle ons gestrandes teë. En vat ons saam steilte af na die eensame koel gebou in die vallei. Hier kon hulle hul intense verlange stil – ná ’n impromptu wynproetjie.

Brinjalpiekel is gepiekelde eiervrug. Maar dis nie enige ou piekel nie, dis Jaen-Marie se piekel. Dis dié vallei se produk wat soos truffels is vir die Franse, kaviaar vir die Russe, vis en tjips vir die Britte.

Kosluste laat mens soms snaakse dinge doen.

Die klein, fyn, skugter towenares van die Cederberge se kulinêre roem se naam is regtig Jaen-Marie. Ná die veeleisende boerdery het sy haar tot haar kombuis, plaaslike produkte en haar eie hande en smaakkliere gewend. Nee, ek jok, sy sou nooit woorde soos “smaakkliere” gebruik nie.

Sy maak inlêkos, finish en klaar. Baie mense, soos ons pad-engele, ry passe kaf tot by Mount Cedar vir Jaen-Marie se inlêkos.

Kosluste laat mens soms snaakse dinge doen. Vriende van die binneland móét eenvoudig Meraai se Paai by ons deftige Volkskombuis kom eet. Daar kan jy selfs pizza op geelhouttafels eet.

Niemand in haar ganse wye vriendekring sal ooit ons dorp se Kaffie Pretorius se kreefsop en afval-spyskaart wil misloop nie.

Een uitgelese gas kry ’n dik sny gekoopte witbrood by sy afval, want hy kom van Namakwaland af en gekoopte witbrood is dalk, vir al wat ek weet, soos kaviaar in Namakwaland. Daar het ek wel al skaapstertjies geëet dat ek nooit, soos die moppie lui, my mond wou afvee nie.

Kallie en Elna Schoeman se meel is to die for, hoor ek. Ook dat Putstop (Stilbaai) se roosterkoeke wel die koek vat. En, vertel ’n gesoute motoris my, enige ou padstal tussen Kaapstad en Pretoria het deesdae sterk koffie teen die vaak.

En eers in Pretoria moet die Boeremark nooit misgeloop word nie. Dis soos outydse Nagmaal. Almal is daar. Mense skinder dat die Boeremark die beste “koerant” in die land is. Maar benewens die nuusoorvertellery word groente en vleis en koek in trolliesakke weggedra.

Só kan jy maar ry vir Klein Simonsvlei se pampoentert, Lauretta se brisket, en in Limpopo sal jy songs oor Ma’Mphahlele se marog sing. Daar sal jy ook hoenderpote eet soos Weskussers kreef eet – jy suig die lekkerte uit.

Is daar lekkerder kos as uitgelapte kosgeheime? Ek dink nie so nie.

Meer oor:  Martie Retief Meiring  |  Kos  |  Kok  |  Resepte  |  Kosgeheime
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.