Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om ’n punt aan die einde van ’n sin te sit
Johanna van Eeden

Vir maande skuif ek die inskrywing in my dagboek van die een week na die volgende: Sit ’n grafsteen op.

Ek stel uit. Dis later meer as ’n jaar, maar ek kry myself nie sover om ’n punt aan die einde van die sin te sit nie.

Toe, uiteindelik hier teen die middel van Maart, skraap ek die moed bymekaar en reël vir die oprigting van Ma en Pa se grafsteen.

Sit ’n punt aan die einde van die sin.

Kort voor die grendeltydperk staan ek in ’n apteek. En daar vang my oog die leë rakke ontsmettingsmiddel. ’n Ordentlike ontsmettingsmiddel bevat blykbaar 60% of meer alkohol. Teen dié tyd is die rakke dolleeg . . . behalwe vir ’n paar botteltjies 4711.

Ma het nooit eintlik gebodder met grimering of roompies of die soort goed nie. Vir baie spesiale geleenthede – waarvan ek nie tien kan onthou nie – ’n tikkie ligpienk lipstiffie iewers uit ’n laai gediep. Maar dis dit.

Ma het ook nie veel erg aan parfuum gehad nie. Behalwe vir die groot bottel liggroen lekkerruikgoed met die wit blompatrone op wat vir jare op die rooi vensterbank van die kombuisvenster gestaan het. Asof die terloopse val van die sonlig laatmiddag deur die groen water haar dalk groter plesier verskaf het as die reuk daarvan.

Ma was agter die toonbank. Pa het daarna nog ’n hele paar keer seëls gaan koop.

Maar in haar laai was ’n paar piepklein botteltjies 4711. Sulke fraai miniatuurtjies met rooi proppies. Ek onthou al die detail van die botteltjies, maar kan nie een keer onthou wat ma daarvan agter haar ore of dalk op haar polse getik het nie.

Jare terug het Pa en ek ’n lang ent gery. Of dalk was die pad nié so lank nie en het dit net so gevoel oor alles wat Pa my in die tyd tussen vertrek en aankoms vertel het.

Klein stukkies wéét van ma – moontlik sonder dat sy ooit geweet het ek weet – wat gemaak het dat ek haar van daardie dag af soveel beter verstaan het, hoewel dit steeds nie altyd my ongeduld met haar versag het nie.

Pa, vars uit die Kaapprovinsie, het toentertyd as ’n jong man by ’n poskantoor in Pretoria ingestap om ’n seël te koop om ’n brief vir sy suster te skryf. Ma was agter die toonbank. Pa het daarna nog ’n hele paar keer seëls gaan koop.

Die eerste keer toe hy vir haar by haar ouerhuis gaan kuier het, het Pa my vertel, het Ma bo in ’n boom gesit toe hy daar aankom. Teenwoordig, maar veilig op ’n afstand. Hy moes haar afpraat uit die boom.

Ek wonder op watter soort boom het Ma vertrou? En wat het Pa daardie dag vir haar gesê?

Dis Ma en Pa se storie, wat nou begrawe lê onder ’n hoop grond en Rustenburg-graniet.

Daar, in die apteek, selfs sónder die reuk van 4711 (85% alkohol – geskik as handontsmettingsmiddel en oorspronklik geskep deur Wilhelm Muelhens wat sy “wonderwater” as ’n gesondheidsdrankie bemark het) tref die leestekens van die lewe my.

  • Die liefde is nie ’n punt aan die einde van ’n sin nie. Dis ’n dubbelpunt: Ma.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Ouers  |  Dood  |  Begraafplaas  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.