Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om sonder ’n afskeid te rou

In die Covid-19-wêreld sterf mense sonder geliefdes en mag net ’n handjievol mense begrafnisse bywoon. Johanna van Eeden het probeer uitvind hoe ’n mens dan moet rou sonder daardie finale afskeid.

Die pasiënt is sterwend, maar daar is geen geliefdes langs sy bed vir ’n laaste afskeid nie. ’n Dokter hou ’n selfoon vas sodat die pasiënt die skerm kan sien en sy familie vir oulaas kan groet.

Covid-19 ontneem mense van die troos van ’n sagte aanraking. Hier sit roubeklaers by die begrafnis van Larry Hammond op ’n veilige afstand van mekaar tydens ’n diens in New Orleans in die VSA. Foto: AP

So lyk die dood te midde van Covid-19. Die begrafnis is nie ’n laaste eerbetoon met geliefdes wat mekaar met sagte aanraking vertroos nie. Dis ten beste ’n klein byeenkoms wat dalk virtueel uitgesaai word vir naasbestaandes. Op sy ergste, ’n gesiglose massagraf.

’n Groet ontneem

Jorgan Harris, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, sê begrafnisse is belangrike rituele omdat dit ’n “bewys” is dat die oorledene weg is. Dis ook ’n geleentheid vir naasbestaandes om bystand en ondersteuning aan mekáár te bied.

Kry jy nie kans om behoorlik afskeid te neem nie, kan skuldgevoelens en onafgehandelde sake uiteindelik lei tot ’n baie komplekse rouproses, waarsku Harris.

Die enigste opsie is om aanlyn te rou.

’n Begrafnis is “die inleiding tot die rouproses” sê Sonja Smith-Janse van Rensburg, besturende direkteur van Sonja Smith Begrafnisondernemers in Centu­rion.

Sy meen die Covid-19-pandemie laat mense hulpeloos voel. Die geleentheid wat veronderstel is om troos te bring, veroorsaak nou meer trauma. Met ’n beperkte getal mense wat die roudiens mag bywoon, hoe kies jy byvoorbeeld wie daar mag wees en wie nie?

“Die enigste opsie is om aanlyn te rou. Maar bring dit werklik troos? Dit voel vreemd, disrespekvol en kan selfs woede ontlok om jou geliefde se begrafnis op dieselfde skerm by te woon as waarop jy jou gunstelingfliek kyk,” sê Smith-Janse van Rensburg.

Ds. Jan Lubbe van die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein sê in die Westerse kultuur “met sy klem op individualiteit, geneigdheid tot ’n kliniese in-beheer-wees van jou emosies en die wegdruk van broosheid is daar ook in Afrikaanse geledere oor die afgelope twee, drie dekades ál minder en minder gemaak van die rituele en tyd vir begrawe”.

Die benadering, sê hy, is “doen dit so gou moontlik, kry dit agter die rug en gaan aan, want die lewe gaan aan” pleks van om tyd te neem vir die afskeid, “om die stilte te gebruik . . . om tyd te neem om te rou. Hoe meer ‘lyflik’ jy die gebeure by daardie afskeidsoomblik kan beleef, hoe meer werklik die konfrontasie met die finaliteit daarvan”.

Met jou teenwoordigheid by ’n begrafnis kry jy kans om “dankie” of “jammer” te sê, verduidelik Jan. “Dit word ons nou ontneem. Ek is nie oortuig dat ’n digitale ‘bywoon’ dieselfde kan doen nie.”

Om ’n lewe te erken

Daar is ’n groep mense wat al iets beleef het van hierdie afskeid-sonder-groet: die ouers van babas wat dood is weens ’n miskraam of stilgeboorte.

Fetusse wat vroeër as 26 weke sterf word ingevolge die Wet op Registrasie van Geboortes en Sterftes van 1992 as mediese afval hanteer en verbrand.

In November verlede jaar is ’n saak hieroor in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor in The Voice of the Unborn Baby vs. Die ministers van gesondheid en binnelandse sake.

Adv. Donrich Thaldar het aangevoer ouers behoort die reg te hê op ’n begrafnis weens die rol wat dit vervul in die rouproses, naamlik die skep van die realiteit van die verlies, die geleentheid om emosies te betoon en erkenning dat die ongebore fetus bestaan en betekenis het vir ouers.

Om te rou

Harris sê elke mens reageer verskillend op die dood. Daar is wel ’n rouproses. Hy verwys na die fases van rou soos geïdentifiseer deur die psigiater Elizabeth Kübler-Ross, naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding.

Die afwesigheid van ’n behoorlike afskeid kan volgens Harris die rouproses versteur.

Die verskillende fases van rou kan meer intens ervaar word en selfs langer duur. Jy kan ook byvoorbeeld by ontkenning vashaak.

En in die Covid-19-konteks kan woede vergestalt jeens die virus, die inperking en selfs die regering.

Nie almal volg hierdie fases van rou in dieselfde volgorde nie en die proses duur gewoonlik sowat ’n jaar.

En, waarsku Harris, ’n mens kan nie die dood “verwerk” nie. “Ons leer net om daarmee saam te leef.”

’n Onvoorbereide dood

Jan se vrou, Hanneke, werk as hoofbestuurder van die Hospies in Bloemfontein daagliks met die dood.

Familie en vriende neem afskeid van Benedict Somi Vilakazi, een van die eerste mense wat in Gauteng gesterf het weens Covid-19. Vilakazi is op 16 April buite Johannesburg begrawe. Foto: AP

Van wat ons sien, is Covid-19-sterftes eensaam.

“Om te sterf is vir die meeste mense ’n private proses, gebeurtenis of oomblik, maar tog wil mense nie noodwendig alleen sterf nie. Die behoefte is daar om geborge te sterf, verkieslik in ’n bekende omgewing en omring deur jou geliefdes,” sê Jan.

Die Hospies in Bloemfontein bied hoofsaaklik palliatiewe tuisversorging, met die hoofdoelwit om lyding te verminder.

“Die meeste van ons pasiënte is omring deur hul geliefdes, of het versorgers wat na hulle omsien. Hulle is al reeds daarmee gekonfronteer dat hulle gaan sterf, en die familie is deel van die voorbereidingsproses,” sê Hanneke.

Benewens die werklikheid dat Covid-19-sterftes eensaam is, is die siekteverloop so vinnig dat familielede meestal onvoorbereid is dat hul geliefde gaan sterf.

Neem só afskeid

Ds. Immanuel van Tonder, predikant van die NG gemeente Lynnwood in Pretoria, sê elke mens hanteer die dood anders.

“Om een voorgeskrewe rouproses voor te skryf is vir my nie respekvol nie. Sommige mense sit met skuldgevoelens, ander beleef diep pyn. En dan is daar mense wat die persoon se lewe wil vier . . .

“My uitnodiging vir mense in dié tyd is om teenwoordig te wees by hulself en met deernis te reageer op wat jou binnewêreld nou uniek van jou vra.

“Ons hoef nie al die pyn, verlange, lyding en verlies tegelyk te dra nie. Dis soos ’n uurglas wat net van ons vra om die korreltjie wat nou hier aandag nodig het, volle aandag te gee,” sê hy.

“Beleef die pyn,” sê Harris. “Ek sal eerder bekommerd wees as jy net aangaan met jou lewe. Skryf ’n brief aan die oorledene waarin jy alles sê wat jy wil en nodig het om te sê wat nie gesê is nie.”

Doen dit nóú

Jan se raad aan mense is om daardie laaste gesprekke nou reeds te hê.

My uitnodiging vir mense in dié tyd is om teenwoordig te wees by hulself en met deernis te reageer op wat jou binnewêreld nou uniek van jou vra.

“Sê: ‘Ek is jammer. Vergewe my. Ek het baie by jou geleer. Ek is lief vir jou. Ek gaan jou mis.’ Neem vroeër afskeid. Dit klink vreemd, maar dit het besondere helende waarde. Wanneer die dood dan regtig kom, kan jy dalk ’n klein bietjie makliker laat gaan.”

Vir Suid-Afrikaners met familie in die buiteland is die vooraf-afskeid nie ’n vreemde scenario nie, vertel Hanneke uit haar Hospies-ervaring.

Indien ’n familielid ernstig siek word kom geliefdes van oorsee “ten minste een keer kuier” om praktiese reëlings te tref. “Die kuier is soms so kosbaar en kort, dat hulle moeilike en emosionele temas vermy, dit lig hou.”

Sterf iemand kort ná so ’n besoek, is dit dikwels onmoontlik vir die buitelandse familie om weer terug te kom vir die begrafnis.

“Daarom moedig ons mense aan om, wanneer hulle hier is, wel daardie gebied versigtig te betree, te begin praat oor die moontlikheid van afskeid.”

Gesprekke word ook vooraf met dié familielede gevoer om te hoor hoe hulle in hul afwesigheid deel wil wees van die afskeidsritueel.

“Dis belangrik om dié wat nie daar kan wees nie, nie skuldig te laat voel oor hul afwesigheid nie. In die geval van Covid-19, is dit belangrik om waarskynlik veral erkenning te gee aan hul magteloosheid, selfs woede, oor ’n situasie waaroor hulle geen beheer het nie,” sê sy.

Van Tonder haal Martin Seligman aan wat in Authentic Happiness skryf: “Take care with endings”.

Mediese navorsing, verduidelik Van Tonder, wys pasiënte wat ’n slegte operasie gehad het, onthou dit meer positief as medici in die laaste oomblikke moeite gedoen het.

“Dis ook andersom bewys – hoe ’n slegte einde ’n skadu oor die hele ervaring werp,” sê hy.

Die einde van ’n wêreld

Maar dit is nie net dood wat in dié tyd lei tot smart nie. Die Amerikaanse skrywer David Kessler, wat saam met Kübler-Ross gewerk het, sê mense is wêreldwyd in rou gedompel omdat die wêreld vóór Covid-19 vir altyd weg is.

Kessler het aan Harvard Business Review gesê die wêreld rou “weens ’n verlies aan normaliteit, vrees vir die ekonomiese gevolge en ’n verlies aan (fisieke) verbintenis met ander”.

Johanna van Eeden

Volgens Jan wéét ons iets is verby.

“Maar wat was daardie ou wêreld? ’n Groeiend-globale ekonomiese bestel wat besig was om ons bronne uit te put, ons planeet te verwoes? Die droomwêreld waarin sporthelde en vermaaklikheidsterre en godsdienstige ikone miljoene dollars betaal is . . . en nou is dit nie eens noodsaaklike dienste nie?”

Omdat mense sukkel om die finaliteit van dood en verganklikheid te verwerk, is hul eerste reaksie gewoonlik ontkenning.

Dit is vir Jan bevestig toe daar met die aankondiging van inperkingsmaatreëls “lockdown-partytjies” gehou is.

Dit het hom herinner aan verslae oor die atmosfeer op Europese treinstasies toe jong mans in 1914 (met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog) “na die fronte vertrek het en hulle en hul families met piekniekmandjies opgedaag het, terwyl vrolike marsmusiek deur orkeste gespeel is . . .”

Covid-19 konfronteer ons met die dood en dwing ons om rituele – wat ons menswees voorheen geanker het – te herbedink.

Jan haal die Nederlandse Gereformeerde teoloog Herman Bavinck aan, wat in 1921 op sy sterfbed gesê het: “Het leven is vreemd, het sterven nog vreemder.”

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Johanna Van Eeden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.