SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Om stories te vertel is die beste werk ooit
Charles Smith

Ek onthou goed toe Ma Grietjie my doer in die tagtigs in Mispa se sitkamer gevra het wat ek gaan word. Ek het aangevoel hulle is raadop oor die seun wat nie wiskunde en skeinat verstaan nie.

Ek het Die Volksblad gelees en net my kop geskud toe sy deur die werke gegaan het: prokureur, polisieman, soldaat. Sy sou nie onderwyser of predikant op daardie lysie gehad het nie, want ek was ’n ramp op skool en het te dikwels kerk op Sondae geskiep om te gaan perdry of fossiele op Vogelfontein te soek.

Ek wou ’n argeoloog word (maar my skeinat was ’n probleem) wat saans in ’n rock band soos Pink Floyd gespeel het. Maar tant Nancy Smith het my toekoms as musikant vroeg met ’n rottang beëindig. Ek kon wel iets doen: skryf.

Ná ’n wilde twee jaar op die Grens as korporaal in PW & Seuns se magtige leër waar my drome van soldaatwees gesneuwel het, het ek vir twee jaar as onwillige leerling ingeklok in die NP-skool op Kovsies. Dit het nie gewerk nie. Ek het meer rooikaarte op die rugbyveld gekry as Vishuis se eerstes saam en die stryd teen die KP’s op kampus was woes. Dis toe ek die vak-leerlingskap by Die Volksblad kry.

Dit was goeie tye. Dis waar ek rowwe manne met baarde ontmoet het wat lang biere gegooi en Chesterfield gerook het.

Dit was goeie tye. Dis waar ek rowwe manne met baarde ontmoet het wat lang biere gegooi en Chesterfield gerook het. Manne soos Mike van Rooyen en Frans Coetzee. Hulle het saans hard gekuier en soggens groot stories op tikmasjiene uitgehamer.

Hulle het my geslyp om ’n koerantman te word. Dit was rowwe tye en ’n avontuur dui-send. Daar was gevegte met die AWB en die BWB. Ek het ’n lekker storie by Eddie von Maltitz op Ficksburg gedoen. Deur die dag het hy die CIA se vliegtuie afgeskiet wat sy koeie vermoor het en snags het hy sy gesig swart ge-smeer en in Lesotho gaan spioeneer.

Om stories te skryf is die lekkerste werk, Ma Grietjie.

Daar was die Tempe-skietery, die Nienkemper-gesinsmoord, toe ek deur dr. Leon Wagner, die patoloog, genooi is om die lykskouings by te woon, Hansie Cronjé se begrafnis, Kortbroek se verkiesing as leier van die NP en oorlopery na die ANC; FW se uitstappery uit die Regering van Nasionale Eenheid, wat vir my ’n ramp was.

Ek onthou hoe oudpres. Nelson Mandela my hand geskud het op Griekwastad se stoep en hoe hy later R600 se note vir ’n straatkind by Maselspoort gegee het. Toe was daar hoop. En tussenin moorde, geweld, plaasmoorde, Zuma en Ace. My drie jaar in Amerika en om pres. Barack Obama en sy vrou, Michelle, in lewende lywe te sien, was hoogtepunte.

Vanaand word my boek, Nuusmakers, oor 30 jaar se stories, rubrieke en foto’s, bekend gestel. Dit is vir wyle Ma Grietjie, wat net te bly was ek het ’n werk gekry, en Pa Hendrik, wat by die bekendstelling sal wees.

Ons het in ’n huis vol boeke, koerante en National Geopgraphics grootgeword. Om stories te skryf is die lekkerste werk, Ma Grietjie.

Vandag kan ek ’n boek vol stories vrystel omdat ek in en met stories grootgeword het.

Meer oor:  Charles Smith  |  Artikels  |  Joernalis  |  Joernalistiek  |  Stories  |  Media  |  Berigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.