Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om te glimlag sonder om hoef te sê waarom
Johan van Wyk

Almal met eerstehandse ervaring daarvan weet boerdery is ’n bliksem. Vra my.

Nie verniet nie word gespot die mense wat kos op ons tafels sit, is hulle wat op die Landbank se grond met die handelsbanke se geld vir die koöperasie boer.

Dis hoekom ek my hoed vir Suid-Afrika se boere afhaal wanneer ek deur ’n supermark gelaai met kos stap. Vir eers, altans.

Die moontlike alternatief laat my sidder. By al Suid-Afrika se vele oplaaiende probleme is dit die spreekwoordelike strooitjie wat die kameel se rug sal breek.

Maar kan daar ’n groter bliksem wees as die ouderdom?

Die aangrypende foto in Die Burger van 10 Junie van Jack van Renen – waar hy by ’n venster, oopgehou met sy kierie, aan die buitekant van ’n siekeboeg in Bellville sit omdat dit die naaste is wat hy aan sy bedlêende vrou mag kom – het my daaraan herinner.

Wys jou hoe ’n bliksem is die ouderdom.

Wie onthou nie nog die Jack van Renen toe hy in sy fleur met sy forse, kragtige liggaamsbou ’n kranige atleet in veral diskus en gewigstoot was, vir die WP op Nuweland opgedraf en ’n toegewyde, gewilde skoolhoof was nie?

Sekerlik die ouers en hul kinders, vandag seker al middeljariges, wat deur sy hande gegaan het toe hy hoof van die Laerskool Excelsior in die De la Haye-woonbuurt in Bellville was, en later die Laerskool Eversdal in Durbanville, wat hy van die grond af en tot een van die beste in die noordelike voorstede van Kaapstad opgebou het.

Hy was toe ligjare weg van die skraal, krom “oom” van 85 met sy kierie in ’n oop venster by sy vrou in ’n siekeboeg.

Wys jou hoe ’n bliksem is die ouderdom.

En dan het elke huis boonop nog sy kruis, oftewel sy Waterloo, soos die ou tante in die ouetehuis dit genoem het. Toe teëspoed in ’n gesprek ter sprake kom en Napoleon se nederlaag by Waterloo in die verre, vae verlede in ’n vlietende oomblik van helderheid by haar opkom, het sy gelate gesug en gesê: “Ja, só het elke huis ook sy eie Waterloo!”

Jack van Renen en Marina – sy vrou van 60 jaar wat hy twee keer per dag by die siekeboeg van ’n aftreeoord waar sy ná ’n beroerte hulpeloos lê deur ’n venster met vrugte en sjokolade besoek – het ook al hul eie Waterloo gehad.

Hul dogter, Renate, een van ’n tweeling (die ander ’n boetie), het jare gelede as ’n jong onderwyseres in ’n motorongeluk gesterf.

Jy dra mos ’n kind se dood saam tot in jou eie graf.

Wat ek nou met my saamdra, is Anna M. Louw se woorde in Die groot gryse oor die laaste jare van pres. Paul Kruger in ballingskap in Switserland.

Oor sy naderende einde peins die afgetakelde ou staatsman: “ ’n Ou mens mag niks van ander verwag nie, al wat ’n ou mens nog mag doen, is om te glimlag, sonder dat hy hoef te sê waarom.”

Dis wat ek van nou af gaan doen.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Boerdery  |  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.