Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om te lieg of nie te lieg nie, dít is die vraag

Hoe verander ons die kultuur van lieg in Suid-Afrika sodat die waarheid kan seëvier? vra Dawid Kuyler.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het al dikwels sy kop in ongeloof geskud by die aanhoor van getuienis voor sy kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images

Ons almal kan lieg. Dis die waarheid. Party van ons lieg dalk meer dikwels as ander.

Dis net ons vissermanne wat nooit lieg oor ons vangste nie.

Om te lieg, is deel van die lewe en ons doen dit om verskillende redes.

Van kleins af kan ons lieg. My kleindogter van 20 maande kuier verlede naweek by haar ouma en breek een van die seepampoentjies wat ouma in ’n bakkie het.

My dogter sê vir haar om die stukkende seepampoentjie na ouma te neem en te sê sy is jammer. Kleindogter maak so en sê vir ouma: “Boetie”. Heel waarskynlik het ons kleindogter by haar boetie geleer om die skuld op iemand anders te pak.

Ons leer ons kinders dat dit verkeerd is om te lieg. Ons probeer ’n skuldgevoel by hulle te kweek wanneer hulle lieg. Dit is nie altyd suksesvol nie. Ons leer as jy lieg en jy kom weg daarmee, dan is dit goed so.

Mense kan ook vir hulself lieg. As jy ’n drank- of dwelmprobleem het, ontken jy dit totdat iemand wat dieselfde pad geloop het, jou help om jou eie leuens in te sien.

Daar is baie wat ons kan skryf oor lieg, dit is so ’n wye onderwerp. In hierdie rubriek wil ek graag fokus op hoe leuens ontbloot kan word.

Leuens kan ander groot skade aandoen. Binne ons verhoudinge kan jy vir iemand vertel hoe lief jy hom of haar het terwyl jy ’n buite-egtelike verhouding het. As jy daarmee gekonfronteer word, sal jy dit ontken, maar as jy met die feite soos byvoorbeeld ’n foto of video gekonfronteer word, val jou leuens plat.

Mense kan ook vir hulself lieg. As jy ’n drank- of dwelmprobleem het, ontken jy dit totdat iemand wat dieselfde pad geloop het, jou help om jou eie leuens in te sien.

Vra maar persone wat bo hul inkomste leef en wat al dieper in ’n finansiële krisis beland, hoekom hulle nie iets doen wat die probleem kan oplos nie.

Hoekom leef hulle met ’n leuen? Hoekom verkoop hulle nie die duur motor en ry eers met ’n goedkoper een nie? Dikwels is die beeld wat ons voorhou teenoor ander belangriker as om te erken ons leef ’n leuen. Ons wag eerder dat ons huis en motors deur die bank teruggeneem word.

Zondo-kommissie en leuens

Fopnuus en leuens word maklik op sosiale media versprei. Foto: Getty Images

Vir tydverdryf, wanneer ek nie visvang of in die tuin werk nie, kyk ek graag na TV-uitsendings van die Zondo-kommissie. Regter Raymond Zondo en sy span se werk is om die waarheid oor staatskaping bloot te lê.

Dit is nie so eenvoudig soos dit klink nie, want baie getuies hou aan om te lieg of die waarheid te ontduik.

Zondo skud dikwels sy kop in ongeloof as getuies maak asof hulle niks onthou of weet van iets wat hulle verkeerd gedoen het nie.

Gelukkig is die ondervraers goed geskool en ontbloot hulle met feite en tegnieke van ondervraging die leuens.

Die leuens van staatskaping het ons land miljarde rande gekos en op lang termyn gaan ons nog die gevolge daarvan dra.

Om die leuens van die verlede te ontbloot kos ons baie geld.

Die liegkultuur van sosiale media maak dat ons maklik meegesleur word om daaraan mee te doen.

’n Mens is dankbaar vir joernaliste wat oor die jare moeite gedoen het om politici en hul meelopers se leuens te ontbloot.

Hulle het dit gedoen en dikwels hul eie veiligheid op die spel geplaas. Sonder deeglike joernalistiek en ’n werkende regstelstel het ons nie ’n kans om die leuens van politici aan die kaak te stel nie.

Die geweldige verantwoordelikheid van joernaliste is kritiek in ons tyd. Met sosiale media dink almal van ons ons is joernaliste as ons op Facebook en Twitter ons eie mening lug oor gebeure sonder dat ons seker maak van ons feite.

Fopnuus versprei maklik. Elkeen wat fopnuus met ander deel, is eintlik besig om saam te lieg. Dit is eers wanneer iemand hof toe gesleep word vir fopnuus en skuldig bevind word, dat ons versigtiger is om liegstories te versprei.

Die liegkultuur van sosiale media maak dat ons maklik meegesleur word om daaraan mee te doen.

Hoe verander ons ’n kultuur van leuens?

Hoe kan die waarheid weer seëvier? Hoe kan ons mense kry om weer die regte te ding te doen? Gaan dit help as meer mense oranje oorpakke dra omdat hulle gelieg het en hulself verryk het en hulle ontbloot is?

Ons sal ’n gelieg nooit kan uitroei nie, maar dalk kan ons dit aan bande lê. Ons kan mense twee keer laat dink voordat hulle lieg. Strafmaatreëls kan help, maar ons moet mense van integriteit word.

Mense wat die regte ding doen en sê.

Die kerk en leuens

Dawid Kuyler

As Christen moet ek bereid wees dat God se Woord en die gemeenskap van die gelowiges my help om in waarheid te lewe.

Dit kan pynlik wees om te erken dat ek leuens glo en dikwels saam lieg. In die verlede het die kerk ’n stryd gehad om mense te oortuig dat ons nie verder die leuens van apartheid kan glo en ondersteun nie. Ja, selfs die kerk kan lieg en liegstories versprei.

Mense wat die liegstories van die kerk ontbloot het, is dikwels verguis en as verraaiers uitgemaak. Dit het die kerk in ’n geloofwaardigheidskrisis laat beland. Hiermee sal die kerk nog moet saamleef.

Dit maak dat die kerk as geloofsgemeenskap nie sy rol as ontbloter van leuens kan vervul soos hy moet nie.

Nie almal in Suid Afrika is Christene nie, maar dit beteken nie dat mense wat nie Christene is nie, nie ’n morele lewe lei nie. Soms is dit sulke mense wat die regte ding doen.

Metodes om leuens aan bande te lê in ons samelewing is uiters belangrik.

Ek sien saam met baie uit na die dag dat ons minder sal lieg in Suid Afrika en minder kostes sal aangaan om leuenaars en leuens te ontbloot.

• Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawid Kuyler  |  Raymond Zondo  |  Apartheid  |  Fopnuus  |  Joernaliste  |  Leuens  |  Sosiale Media  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.