Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om te probeer sin maak van ’n land en sy dinge

Jy probeer maar om dit vir jouself te verduidelik. In die begin was daar Jan van Riebeeck en sy mense wat in die Kaap aangekom het om ’n verversingspos vir die VOC te vestig. In 1652. Toe kom die Franse Hugenote en ander Europese immigrante. Ook slawe en bannelinge uit die Ooste.

Op pad met Dana
Dana Snyman Foto: VIA

Later was daar vryburgers, en opstand teen die Kompanjie. Adam Tas. Ook Hendrik Biebouw, wat een Maart-dag in 1707 vir Johannes Starrenburg, die landdros van Stellenbosch, dronkerig uitdaag: “Ik wil niet lopen, ik ben een Africaander, al slaat die landrost mij dood, of al setten hij mijn in den tronk. Ik sal, nog wil niet swygen.” Die eerste opgetekende geval van ’n Europeër wat homself ’n Afrikaner noem.

In daardie tyd is dié benaming – Afrikaner – net gebruik vir sekere slawe, vry swart mense en Khoi-Khoin wat in die Kaap gebore is.

Intussen het hierdie immigrante, hierdie Europeërs met die bleek vel, ’n nuwe taal beginne praat, ’n heerlike kombuistaal wat moontlik eerste deur die Khoi-Khoin gepraat is, wat met die Hollandse seelui in aanraking gekom het. Afrikaans was van die begin af glad nie net wit nie.

Toe die eerste Britse besetting van die Kaap. Daarna die Groot Trek: Piet Retief, Gerrit Maritz, Louis Trichardt en ander wat die binneland in is met ’n Statebybel in die wakis en die nuwe bastertaal uit die Kaap op die lippe. Bloedrivier. Sarel Cilliers. ’n Volk wat ontstaan – die Afrikaners.

Later word diamante en goud in die noorde van die land ontdek. Die Anglo-Boereoorlog. Kruger, Steyn, Smuts, De la Rey, De Wet. Die konsentrasiekampe, die lyding, die afgebrande plase. Die armblankevraagstuk.

Die stryd om Afrikaans as ’n amptelike taal erken te kry. Langenhoven. Die Eerste Ekonomiese Volkskongres. ’n Volk wat uit die as van armoede opstaan. Die Reddingsdaadbond. 1938 se Simboliese Ossewatrek. ’n Gees van nasionalisme wat Die Volk beetpak. Toe 1948: Die Nasionale Party kom aan bewind. Malan. Strijdom.

Bruin mense wat in 1955 van die kiesersrol verwyder word – ’n laaste kans vir iets meer oop en wyd daarmee heen. Verwoerd. Die Groepsgebiedewet. Voorspoed vir party; hartseer vir ander. Sharpeville. Beyers Naudé.

Die digter D.J. Opperman wat waarsku: “Die Afrikaner het gebou aan sy eie wêreld, het hom sterk gemaak en in die proses die Engelsman, Kleurling en Bantoe van hom vervreem.”

Vorster. Steve Biko. ANC-bomme. P.W. Botha. Sanksies. Townships wat brand. F.W. de Klerk. Genl. Constand Viljoen. Drie AWB’s wat doodgeskiet langs ’n Mercedes in Bophuthatswana se stof lê. Die koms van die nuwe Suid-Afrika. Nelson Mandela. Never again. ’n Verlore droom.

En nou, in die jaar van onse Liewenheer 2019, rig soveel Afrikaners hul hoop vir nuwe sekerhede op ’n popsanger wat homself graag ’n Boer noem en swaar dra aan die nostalgie oor ’n vergeefse vroeëre tyd van Afrikaner-oorheersing.

Hoe de hel het dít gebeur?

Meer oor:  Dana Snyman  |  Menings  |  Geskiedenis  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.