Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om te skryf is vir ons heel onnatuurlik
Jana Luther

Elke taal bestaan uit ’n woordeskat en ’n grammatika waarmee die sprekers hul idees en gedagtes in ’n eindelose versameling patrone rangskik. Hoe beter ek die prentjie in my kop na jou kop kan oordra en omgekeerd, hoe beter kommunikeer ons, want kommunikasie behels die deel en uitruil van patrone.

In gesproke tale bestaan die patrone wat ons skep, uit reekse en reekse opeenvolgende klanke. In gebaretale skep ons patrone met opeenvolgende bewegings van vingers, hande en gesig. Met ons lywe – lyftaal – vul ons dié vorme aan.

Gesproke taal bestaan uit duisende variëteite. Ethnologue.com onderskei, terwyl ek skryf, 7 139 lewende tale. Tel ’n mens dialekte by, is daar duisende meer. Die getal verander voortdurend, want tale sterf uit. Van dié waarvan ons weet, word 3 018 (42%) as bedreig beskou.

Ook gebaretaal het verskillende variasies. Taalgebruikers wat mekaar se tale nie ken nie, verstaan mekaar nie. Daarom gebruik ons – aanvullend by praat en gebare – ook visuele taal. In strokiesprente, byvoorbeeld, want opeenvolgende beelde is ook ’n soort taal.

By die mens as spesie het visuele taal natuurlik ontwikkel. Ons voorsate het spontaan die mure van grotte met tekeninge en simbole versier lank voordat hulle kon skryf. In sommige kulture is geskrewe taal vandag nog afwesig; in ander moes skrif eers uitgevind word.

Wanneer ’n mens skryf, teken jy natuurlik ook. Dink aan die hiërogliewe wat die ou Egiptenare as skryftekens gebruik het of Chinese skrif, wat as ’n kunsvorm beskou word. Maar skryf – die kuns om spraakklanke te teken – moet aangeleer en geoefen word. Dit kom nie vanself nie.

Presies hóé onnatuurlik skryf vir ons is, hoe dit al hoe onnatuurliker skyn te word, besef ’n mens deesdae, wanneer jy na die media, sosiale media en boodskappe op jou selfoon kyk.

Presies hóé onnatuurlik skryf vir ons is, hoe dit al hoe onnatuurliker skyn te word, besef ’n mens deesdae, wanneer jy na die media, sosiale media en boodskappe op jou selfoon kyk. Facebook word vir Twitter verruil, Twitter vir Instagram, Instagram vir TikTok . . . Asof ons met emotikons, emoji’s en memes na ’n virtuele grotmuur, na dans en stories om ’n virtuele vuur wil terugkeer.

Praat, gebare, teken, skryf lyk dalk verskillend, maar as taal werk hulle in een geïntegreerde kognitiewe stelsel afwisselend en aanvullend tot mekaar. Hoe goed dié stelsel werk, hang van ons aktiewe woordeskat af en van hoe goed ons die narratiewe struktuur, die grammatika, van ons taal beheers om taalpatrone en -legkaarte so bou dat die bedoelde geheelbetekenis duidelik blyk.

Die basiese dele van ons taal kan ons sonder veel oefening gebruik. Ons kan praat, handgebare maak, die meeste van ons kan ’n pen vashou, die letters van die alfabet skryf, weet hoe om te tik. Maar as ek my hande in die lug swaai, beteken dit nog nie ek ken gebaretaal nie en as ek soos Fred Mouton wil teken, moes ek lankal daarvan werk gemaak het. Passiewe nabootsing is nie genoeg nie.

Om die woordeskat en grammatika van ’n taal goed genoeg te leer ken om werklik suksesvol te kommunikeer, verg aktiewe onderrig en doelbewuste, voortgaande oefening in lees en skryf.

  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Skryf  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.