Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om te verlang na ’n mooi land sonder vrees
Charles Smith

"Ek sal orraait wees. Ek het seker nie ’n keuse nie. . .”

Dit is die woorde van ’n matriekmeisie aan my ’n dag nadat sy en haar gesin in hul huis in die Vrystaat aangeval is.

En die dag voordat sy wiskunde in die eindeksamen moes skryf op die einste dag wat altyd as Swart Maandag bekend sal staan.

Sy moes vir erge trauma behandel word.

Sy, haar sussies, pa en ’n vriend het gehelp om die booswig te oorrompel. Een het hom selfs met ’n hokkiestok getakel. Hulle was ontsettend dapper en hulle is helde.

Net soos JP Verster ’n held is wat sy pa, Pieter, met ’n gholfstok te hulp gesnel het toe hy in hul huis in Stellenbosch aangeval is. Pieter, geliefde oud-Grey en oud-Shimla-kaptein, is in sy bed langs sy vrou, Adele, ’n oud-joolkoningin van Kovsies, doodgesteek.

Swart Maandag, ’n dag waarop honderde duisende Suid-Afrikaners saamgestaan het in solidariteit met boere én almal wat slagoffers is van misdaad soos dié sussies, JP en sy ma en boetie, Retief (3), het skielik Donker Dinsdag geword.

Kort ná die nuus van Pieter het die boodskappe van plaasmoorde ingestroom: Barry Baars by Ficksburg, Willie Barnard by Fochville en Willem van der Westhuizen by Griekwastad. Willem is ’n intreeboer wat die land só nodig het en wat wys dat die aanslag teen álle boere is.

Dit is net ’n handvol van die gemiddeld 52 mense wat elke dag in dié land vermoor word. Wie is die ander 47?

Dit is net ’n handvol van die gemiddeld 52 mense wat elke dag in dié land vermoor word. Wie is die ander 47?

Vermenigvuldig die angs en trauma van 52 gesinne met 352 dae en tien jaar en jy besef die ontsettende trauma waarin die land die laaste dekade alleen vasgevang is.

In enige normale land sou ’n regdenkende president ’n noodtoestand afgekondig het en sy polisiemag reggeruk het. Nie híér nie.

Hier skep die regering ’n wettelose staat om te midde van die trauma soos hiënas te vreet.

Ek voorsien dat die geweld gaan toeneem soos die ANC se interne oorlog al feller word tot voor Kersfees. Die geweld gaan net een groep baat – diegene wat gehelp het om ons geliefde land in ’n staat van anargie te omskep.

Ons is almal al geraak deur plaasaanvalle, geweld en moorde. Ek dink vandag veral aan neef Pieter Vermooten, wat ook op die familieplaas by Ficksburg vermoor is, en sy geliefdes wat met elke plaasaanval weer die ruk aan die hart voel.

Kom ons brei Swart Maandag uit na Swart Kersfees. Wees paraat, gee om, veg teen die gees van anargie wat doelbewus geskep word.

Ons skuld dit aan al die slagoffers. Aan JP en die meisie wat matriek skryf vandag.

Soos Taléta Willer, wie se pa, dr. Bennie Cilliers, op hul plaas Gouda, Rouxville, (my tuisdorp) vermoor is, vir my skryf ná die nuus van Baars se dood: “Vandag is ek baie moedeloos; nou raak dit net te veel! My hart pyn en ek verlang na ’n vreeslose mooi land.”

Meer oor:  Menings  |  Misdaad  |  Rubrieke  |  Moorde  |  Geweld  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.