Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om terreur te beveg

Terroriste-aanvalle in Europa noop lande in die streek om beleid te hersien en nuut te dink oor die bekamping van terreur, skryf Heinrich Matthee.

Kerse, blomme en boodskappe waarmee hulde gebring is aan die 137 slagoffers van ’n reeks terroriste-aanvalle in November 2015 in Parys, Frankryk. Foto: ISTOCK

Die terreuraanvalle in talle Europese stede sedert Oktober het tot beleidsveranderinge in Frankryk en Oostenryk gelei. Selfs vreedsame uitings van politieke Islam of Islamisme word in dié lande voortaan regstreeks of onregstreeks as ’n strafbare teelaarde vir geweld hanteer.

Hoe doeltreffend sal dit wees? ’n Verskeidenheid van organisasies bekamp reeds jare terrorisme en georganiseerde­ misdaad in Europese lande. Daaronder val politieke en militêre intelligensiedienste, die polisie en teenterrorisme-instellings. Ook instellings wat immigrasie, opvoeding, welsyn en jeugwerk hanteer, probeer ekstremisme keer.

Die samewerking tussen die organisasies haper soms. Akademici aan die Universiteit van Utrecht het pas ’n verslag, “Krachtige lerende ketens” (Kragtige lerende kettings), daaroor uitgereik. Die verslag is gegrond op onderhoude met 41 betrokkenes by Nederlandse staatsorganisasies en ses nasionale en interna­sionale kundiges.

Misdaad en terrorisme

In die verslag word eers aandag gegee aan die verband tussen misdaadgroepe en terroriste. Soms het terroriste voorheen misdade gepleeg of vaardighede ontwikkel wat later dan vir terrorisme gebruik word. Opportunistiese alliansies vind ook plaas. Een van die aanvallers in Brussel in 2016 het byvoorbeeld sy neef in Amsterdam gevra waar hy wapens kon kry. Vervolgens kon hy dit by ’n wapenhandelaar in Rotterdam koop.

Slegs ’n klein aantal mense in misdaadkringe wend hulle uiteindelik tot terreurdade. Die doelwitte, geloofstelsels en tydshorison van terroristegroepe en misdaadgroepe verskil ook.

In die verslag word ’n amptenaar van ’n veiligheidsdiens aangehaal: “Jy het gevalle van ’n klein groep – sê drie of vier individue – en hulle doen iets misdadigs, maar net een persoon reis vervolgens na Sirië of Irak, of pleeg ’n terreuraanval”.

Spesifieke sosiale netwerke is deurslaggewend vir terroriste en guerrillavegters. Van die Nederlandse Moslem-burgers wat wel reis om in Sirië en Irak te gaan veg, het 48% familiebande met ander vegters en 65% vriendskapsbande.

Moeisame samewerking

Luidens die Nederlandse verslag het diegene wat terrorisme bekamp en diegene wat georganiseerde misdaad beveg, geleer om beter saam te werk. Dit is wel geensins ’n geoliede masjien nie.

Samewerking gebeur ad hoc en is veel moeiliker as wat ’n mens dink.

In die organisasies verskil mense se agendas en belange, prioriteite en organisasiekultuur. Daarby vereis volhoubare samewerking meer tyd as wat mense verwag, asook beroepslui met die nodige visie en vaardighede.

Die samewerking tussen veiligheidsorganisasies kan ook nie onbeperk wees nie. Wetlike take en bevoegdhede stel perke aan die konsentrasie van mag en inligting. Politieke debatte oor legitimiteit en die beskerming van burgerregte speel ook ’n rol.

Veiligheidsmense neem soms kennis van die nasionale veiligheidsbestuurstelsels teen terrorisme wat byvoorbeeld in 20ste eeuse Franse kolonies toegepas is. Hulle weet wel dit sal deesdae te omstrede vir die beskutte en diverse bevolking en die media wees.

Opdraande stryd

Die stryd teen terrorisme toon suksesse, soos wanneer ’n aanval voorkom word. Dit sal nogtans ’n opdraande stryd bly wat met stomp middele aangepak word.

Sosio-ekonomiese opheffing en opvoeding sal nie altyd werk nie. Beleidmakers se aannames daaroor is reeds verkeerd bewys. ’n Kwart tot ’n derde van terreuraanvallers kom volgens die Frans-Iranse sosioloog Farhad Khosrokhavar byvoorbeeld uit middelklasbuurte.

Hugo Micheron, Franse navorser, het met 80 vegters in die tronk onderhoude gevoer. Hy het ook vasgestel dat Franse ekstremiste uit spesifieke hegte netwerke in enkele voorstede en dorpe kom en nie uit swakker buurte nie.

Baie owerhede probeer terreur bekamp deur terroriste voor aanvalle aan te keer, te verhoor en tronkstraf op te lê. Micheron noem dat die tronk vir die meeste van dié mense ’n oord van ideologiese indoktrinasie is waar hulle netwerke bou.

Onder die aanvallers in Dresden en Wene die laaste paar maande was selfs mense wat regeringsprogramme van deradikalisering ondergaan het. Hulle het die betrokke amptenare dus suksesvol om die bos gelei en laat glo dat hulle nie meer ’n aktiewe gevaar inhou nie.

Ekstremiste se ekostelsel

Sonder om ’n duidelike organisasie te kan identifiseer, word dit moeilik om met tradisionele metodes terroriste in Europa betyds op te spoor.

In die Bosniese stryd in die 1990’s en met Al Kaïda ná 2001 en Isis, was Islamistiese groepe die rolspelers. Deesdae speel ’n losser ekostelsel sonder lidmaatskap en leierskap ook ’n groot rol in Islamistiese terrorisme.

Voor die onlangse aanval op die Franse onderwyser Samuel Paty het die pa van ’n leerling byvoorbeeld op sosiale media sy woede geuiter­ dat Paty spotprente oor die profeet Mohammed bespreek het.

Uiteindelik het ’n ingeburgerde jong man van Tjetsjnië geroepe gevoel om die onderwyser te onthoof.

By die aanslag in Wene op 2 November het ekstremiste weer ’n boodskap op die internet geplaas dat dit tyd is vir optrede. Ander het die boodskap oorgeneem en uitgevoer, waarna die terreurgroep Isis die aanval opgeëis het. Dit word dus moeiliker om die ekstremistiese moeras uit te droog.

Die Europese veiligheidsmagte self bly ook kwesbaar. Op 3 Oktober 2019 het ’n rekenaartegnikus by die polisie se hoofkwartier in Parys wat verantwoordelik is vir die bestryding van djihadisme, vier kollegas met messe doodgesteek. Mickaël Harpon het homself in 2008 tot Islam bekeer en ongemerk geradikaliseer.

Politieke modelle onder druk

Sowel regerings- as opposisiepartye lyk nie of hulle die politieke antwoord op Islamistiese terrorisme het nie.

Die Franse regering van pres. Emmanuel Macron het ook vreedsame politieke Islam nou duidelik die stryd aangesê. Franse burgers wat al dekades ’n sterk sekulêre skeiding tussen staat en kerk handhaaf, sal daardeur beter beveilig voel.

Demografies en polities sal hul invloed langsaam taan. Hoe sou hierdie sekulêre politieke model behoue bly sonder ’n strenger en selektiewer beleid oor migrasie en moskeefinansiering? En hoe kan regerings­ ook anti-Moslem-radikalisme by sommige inheemse Europeërs teenwerk?

Dieselfde kwessies geld in ander Europese lande. Selfs die gematigde regerende VVD-party in Nederland beklemtoon voor die komende verkiesing dat hy ’n streng migrasiebeleid wil voer.

Diverse Moslems

Baie van die sowat 5 miljoen Franse Moslems is al geslagte lank in Frankryk­. Van die Moslems is beroepslui of middelklasburgers en stem gereeld vir sosialistiese pro-migrasiepartye.

Die meeste Moslems, veral ouer geslagte, is kultureel konserwatief. Al volg hulle nie die 20ste eeuse ideologie­ van ’n streng Islamistiese orde nie, word hulle ook beïnvloed deur die identiteitspolitiek van Moslems internasionaal.

Hierdie Moslems wil erkenning of ruimte vir hul waardes hê.

Ironies genoeg het van hulle al op hierdie grondslag gestem vir anti-migrasiepartye met konserwatiewe, Katolieke steunsegmente, soos Marine­ le Pen se Rassemblement National (Nasionale Byeenkoms).

Toekomstige ordes

In die stryd teen Islamistiese terroriste sal die samewerking tussen veiligheidsorganisasies dikwels nie vlot of voldoende wees nie.

Dit is op sigself ’n onaangename les vir beskutte Europeërs wat gewoond geraak het aan hul state se swaardmag.

Die owerhede in Frankryk en elders benodig uiteindelik ook aansienlike hulp van gesagsfigure en bondgenote in die diverse Moslem-gemeenskappe self. Hoe sal sulke samewerking of teenstand die politieke ordes van Europa verander?

Vir alle betrokkenes in Europa duur die soms pynlike leerkurwes voort.

Dr. Matthee is ’n dosent in konflikstudies in Europa. Hy was ’n lid van die advieskomitee vir die projekverslag “Krachtige lerende netwerken”.

Meer oor:  Terreuraanvalle  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.