Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Alle Kante
Om tuis te sterf is beter as in ’n veldhospitaal
Annelie Botes

In die voordagure van Sondag het ek en die gryse besluit in óns huis word teruggegaan na vlak 5-inperking. Want met dié hand-oor-hand-toename in koronavirusgevalle in Port Elizabeth het ’n groot skrik ons getref.

Ek wis nie of dit fopnuus is nie, maar volgens die media is daar nêrens in die Baai hospitaalbeddens of ventilators beskikbaar nie. Al het jy dus die beste mediese fonds, is jy gedoem tot die Livingstone-staatshospitaal. En volgens die media gaan dit vanweë ’n sloerstaking haglik daar.

Die enigste ander opsie is ’n veldhospitaal. En nie ek of die gryse kan die gedagte uitstaan dat ’n ambulans een van ons veldhospitaal toe neem nie. Ons sal mekaar nie mag sien of ondersteun nie. Niemand kan vir niemand nagsê of oggendkoffie maak nie. As dit gebeur dat een van ons die koronavirus kry, gaan ons by ons huis kom lê.

Ons sal mekáár oppas, versorg en beskerm. Nie een van ons twee se oë sal in ’n veldhospitaal toegedruk word nie. Maak nie saak as ons mekáár aansteek nie. Want soos die trougebod mos sê: Tot die dood ons skei. Daarom het ons teruggeskuif vlak 5 toe. Vroeg Sondag, terwyl dit stil was, het ons die koskaste en toiletgoed gaan aanvul. Brandstof ingegooi. Kontant getrek (nadat ons eers die OTM se sleutelbord ontsmet het). Nou is ons hermiete in soverre dit moontlik is.

Ek weet net die hartseerste begrafnisse waar ek nog as orrelis opgetree het, was dié van kinders.

Intussen gaan almal skool en werk toe, bedryf besigheid, kuier en eet uit asof ons nie midde-in ’n oorlog staan nie. Huiswerkers, tuindienste, koeriers en kontrakteurs tree ons domeine binne asof hulle nie uit brandpunte kom en dikwels met volgelaaide taxi’s ry nie.

Daar is al 700 skole gesluit, want die koronavirus vlieg heen en weer. Wat van 6 Julie af gaan gebeur, is ’n ope vraag. Ek weet net die hartseerste begrafnisse waar ek nog as orrelis opgetree het, was dié van kinders.

Totdat die koronavirusgevalle afplat, gaan ons niémand by ons huis toelaat nie. Waar ek vroeër in bunkertyd gegrinnik het oor die virus, grinnik ek nie meer nie. Soos 1 Petrus 5:8 sê: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Ons hoef nie obsessief of oorbeangs te wees nie. Net klipnugter. Want ons wil nie vanuit die Livingstone of ’n veldhospitaal Anderkant toe vertrek nie.

Om te verhoed dat ons snare te styf span en breek, het ons vars idees bedink: Wendyhuisie skuur en olie. Waenhuis regpak. Legkaarte bou. Vensters was. Foto’s in albums sit. Rekenaars skoonmaak van ou e-posse. Groentesaad saai. Die tuin kosgee voor die lente. Soesji maak. Klapperkoekies bak.

Ek wis nie hoe alleenlopers en mense wat werk of kinders in die skool het moet maak nie. Of ’n ouma in ’n ouetehuis het wat onderskraag moet word. Mag die engel van bewaring met álmal saamgestuur word. Met die oumas. Die kinders. Die pa’s en ma’s. Die alleenlopers. Die taxiryers. Want niemand wil deur die duiwel verslind word nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Covid-19  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.