Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om tyd te mors

Dalk, skryf Cas Wepener, moet ons in hierdie tye ophou jaag en so bietjie tyd mors met mekaar.

Ek was 25 en dit was my eerste pos. Lieflike dorpie in die Klein-Karoo. Knap ná my aankoms staan ek op ’n Vrydagmiddag met ’n glasie port in die hand en luister na ’n toespraak. ’n Nuwe portwyn-kelder word geopen en die eerste oes gevier.

Die Engelse eienaar vertel ons van Portugal, van druiwe-kultivars en natuurlik van sy port. Ná sy slotsin voeg hy by: “I see the local vicar is here; I think I should ask him to come forward and bless this cellar and our first harvest.”

Gelukkig het ek toe al Roald Dahl se The Vicar of Nibbles­wicke gelees – die storie van die dominee met ’n baie spesifieke soort disleksie. Hy sê sekere woorde presies verkeerdom. Só word “God” in sy sinne “dog” en “Mrs. Prewt” word “Mrs. Twerp” en dit was nogal lastig toe hy die erediensgangers vra om nie op die sypaadjie te “park” nie.

Die oplossing was om ’n permanente truspieëltjie aan die priester te monteer. Só doen hy toe sy hele bediening, soos eredienste en siekebesoek, deur agteruit te loop.

Wanneer hy in trurat sy werk verrig, kom die woorde reg uit – “the blessing of the almighty dog” was iets van die verlede. Goed, so ek weet dus wat ’n “vicar” is en ek weet ook dat sommige “vicars” se woorde maar lekker deurmekaar kan raak, juis ook wanneer hulle die seën moet uitspreek.

Ek is gelukkig ’n proponent, ’n amperse dominee, Afrikaans en definitief geen “vicar” nie.

Om ’n wynkelder te seën is dus nie deel van my posbeskrywing nie en dit was ongetwyfeld ook nie deel van die kweekskool se kurrikulum nie. Daarom kyk ek om my in die kelder en soek iemand met ’n boordjie soos dié wat Engelse predikante dra. Helaas, geen boordjies in sig nie.

Toe ek weer vorentoe kyk, ontmoet my oë dié van die eienaar en, nes Nibbleswicke se dominee, dink ek: “O, hond.”

Kruie en olie

’n Maand nadat ek die nuwe wynkelder en eerste oes geseën het, laat ’n Griekse vrou my haal. Ek daag ewe met my Griekse Nuwe Testamentjie by haar op. Sy het my Griekse teks waardeer, maar my ’n lessie in diksie gegee. Op die eerste taalles het opleiding gevolg in rituele soos haar priester op Patmos dit gedoen het. En dit was almal rituele wat in verband met seën staan. Ek was verbaas oor hoeveel dinge geseën kan word. Daar was geen Grieks Ortodokse, of selfs ’n behoorlike priester, binne trefafstand nie.

Sy moes dus maar werk met wat sy kon kry – die nat-agter-die-ore-proponentjie. Die moderator mag dalk dié rubriek lees, so ek sal net sê sy het my geleer dat basiliekruid-takkies en olyfolie meerdere gebruike as slegs die bereiding van pastasous het.

Kyk, dis nou maar wors, so ’n geseën, van kelders tot kamers, is ongetwyfeld tydmors. Ons kon daai olie en kruie gebruik het om kos vir die armes te berei, soos Judas lank gelede tereg opgemerk het. Maar is dit nie presies wat ons wêreld benodig nie?

Tydmors. Want tydmors gaan oor staan; dit gaan oor raak-sien; oor albasterflesse wat breek en aandag fokus. Is dit nie maar wat seën ook is nie, in welke vorm ook al – droë Gereformeerde of druppende Ortodokse hande – om dit wat jy seën, anders te benader?

Seën bring ’n ander perspektief en dit wat geseën word, kry ’n nuwe raam, ’n dik raam wat sê: “Moenie miskyk nie.” Dinge wat geseën is, hoor, sien en voel ek nie net nie, ek luister nou daarna met onderskeiding, ek kyk daarna met insig, ek vat daaraan met takt. Ook mense.

Om iets te seën is nie om heiligheid oor te dra nie, herinner Barbara Brown Taylor ons. Om te seën­ is veel eerder om heiligheid wat reeds teenwoordig is, te herken en te erken. Sy sê byvoorbeeld sodra jy begin om dinge in die natuur te seën, dan word dit moeiliker om daarop te trap. Dieselfde geld die mense wat ek seën.

Dit beteken ook ons seën nie sommer enige ding nie; ons seën nie goed wat seermaak nie.

‘Strome van seën’

Cas Wepener

Dit is natuurlik ’n fout om te dink net sekere mense kan seën.

Dis die seënende Engelse en Grieke van die Klein-Karoo wat my destyds laat besef het dat sommige Afrikaanse tradisies arm aan seën is. Dalk is die gewoonte om nie alles en almal te seën nie ’n soort disleksie. Miskien kort sommige mense, soos ek, ’n les in die taalskat en diksie van seën. Dalk moet daar vir my en my soort truspieëltjies gemonteer word sodat ons anders na alles en almal om ons kan kyk. Hopelik sal ons dan ook meer gereeld teen mekaar vasloop, besef daar is nog mense om ons, en dan sommer ook port en olie en lekkerruikkruie op mekaar mors – en tyd. Miskien is die tyd wat mense só op mekaar mors deel van Halleluja 315 se “strome van seën van bowe”.

Strome wat kom wanneer ons deur te seën en tyd te mors, in die woorde van Anton Goosen, die wind onder ons vlerke met alle mense om ons deel.

  • Wepener is ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.