Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om voorspoed toe te wens in teëspoed-tye

Soos sake tans staan, is planne om die nuwe jaar in te wy ietwat gedemp.

Emile Joubert

Miskien is dit maar net my direkte verwysingsveld wat dui op ’n ietwat verminderde kans van om Oujaarsaand te vier deur met ’n aantal vriende en wildvreemdelinge vonkelwynproppe te skiet, saam te smul aan ’n heel gebraaide skaap en ou Engelse liedjies te sing waarvan nie een van ons die woorde ken nie.

Wel, stel dit so: As daar so ’n uitnodiging was, het dit nog nie hier uitgekom nie.

’n Mens sou dink dat niemand die kans verby sou laat glip om 2020 met eenvormige vrolikheid vaarwel te roep en in sy hele ou moer te stuur nie.

Ding is net dat, anders as hierdie kalenderjaar, kan dít wat tydens sy 365 dae om die son begin het nie afgesluit word met ’n hande afstof en “finish en klaar nie”.

Om dit eufemisties te stel nadat die harde woorde opgedroog het, daar moet nog heelwat water onder die brug loop voordat China se parmantige gogga van die aardbol verdwyn.

Wat ’n mens laat wonder hoe daar van môre af gegroet sal word wanneer jy iemand bel of dalk buite die aandklokreël ’n persoon raakloop – dis nou nadat jy hom of haar agter die gesigmasker herken het.

Dit was nog altyd baie eenvoudig. “Jis, voorspoedige nuwe jaar!” Of, “alles wat mooi is vir 2021”.

Daar moet nog heelwat water onder die brug loop voordat China se parmantige gogga van die aardbol verdwyn.

Tot “Ek hoop die jaar hou net vir jou goeie dinge in, en sal jy asseblief onthou om die moersleutel terug te gee wat jy in 2003 kom leen het?”

Soms word die nuwe jaar-wensding oordoen. Sommige ywerige kennisse sal nog aanhou groet met ’n “geseënde nuwe jaar” tot die herfskleure al in die wingerde aangetrek en die galjoen-seisoen aan die kom is.

Tog, hoe nou van môre gemaak, noudat jy weet jou vriend of familielid weet dat die gewone “voorspoedig” en “alles van die beste” en “als wat mooi is” nie heeltemal gaan voldoen aan die huidige stand van die tye nie?

Iets soos: “Nog net twee weke voor die wynwinkels oopmaak!” toon inkennige humor en ’n gees van welwillendheid, veel meer oortuigend as nou die aand se aangedikte krokodiltrane waarin pres. Cyril Ramaphosa vir PW Botha na ’n likkewaan laat lyk het.

“Mag jy in 2021 geseën wees met goeie gesondheid – tot die entstof opdaag,” klink dalk na ’n kil en kliniese manier om iemand in die nuwe jaar te groet, maar dis beslis prakties.

Om iemand te groet met: “Ek hoop dat die nuwe jaar my toelaat om jou sonder jou masker te sien,” mag verkeerdelik as suggestief beskou word, want dit straal ’n komplimenterende verwysing na iemand se voorkoms uit. Iets wat wetenskaplik bewys is as positief vir die ontvanger se selfbeeld.

Synde ’n getroue navolger van tradisie sal ek my hou by: Mag daar geluk en vreugde wees in die nuwe jaar. En moet nie ophou wens nie.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Toekoms  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.