Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om weer die land aan jou eie lyf te gaan voel

Donderdagaand, 13 Februarie: Ons is Sondagoggend met die Shosholoza Meyl in die Kaap weg, ek en E. Noorde toe. ’n Mens wil weer die land aan jou lyf voel. Het te veel van ons in die Kaap onsself nie verban na ’n Mugg & Bean of ’n Boschendal van die gees nie?

Dana Snyman

Ons los die land se probleme in koffiewinkels en restaurante op en skryf daarna verontwaardigde briewe aan – of rubrieke in – die koerant. Die trein vertrek betyds. Naby Leeu-Gamka haal die donker ons in. Ons hou by elke sinjaal stil, ook dié in die middel van nêrens.

Iemand het die kabels of iets gesteel. Warrenton. Christiana. Makwassie se plakkerskamp is maklik drie keer groter as Makwassie. Waar kom al die mense vandaan? Op Potchefstroom is ons al meer as agt ure laat.

Ons klim van die trein af, gatvol, huur ’n motor en boek by ’n hotel in. Ek bel vir Johannes Bogosi op Venters – die man wat oorlede Pa van die AWB help genees het. Die volgende oggend kom Johannes na ons toe, met die Porsche, ons naam vir die Nissan 1400-bakkie wat eens myne was.

Ons ry na die naaste plakkerskamp. “Vra vir hulle, Johannes,” sê ek. Ons loop van hut na hut en vra vir die mense waar hulle vandaan kom. Party kom van myne waar nie meer gemyn word nie. Ander kom uit die moederskoot uit. Voor baie van die hutte se venters is diefwering, voor die deure traliehekke. Ek neem foto’s daarvan om vir my vriende in die Mugg & Bean te gaan wys.

Later maak ek die koerant oop, en daar sit hy op bladsy 7 – daardie prokureur in die blou hemp met die wit strepies, ’n goeie boereseun, wat ’n tenderpreneur verdedig. Glad kamoefleer hy gierigheid in regstaal. Ons groet Johannes en ry verder die binneland in.

Ons los die land se probleme in koffiewinkels op en skryf daarna verontwaardigde briewe aan die koerant.

In my hart verklaar ek oorlog teen al die handelaars in skrootmetaal, wat gesteelde kabels, selfs padtekens koop. Hulle vanne is dikwels nie Gupta of Magashule nie, dis Swanepoel of Botha.

Wie is “ons” wonder ek al hoe meer. En wie is “hulle”? Ons gaan soek na Kitte Honiball, ’n hedendaagse Ampie, op ’n plot buite Meyerton. Kitte wat ’n polisieverklaring saamdra wat amptelik bevestig die snymerke aan sy linkerpols was nie ’n selfmoordpoging nie, die boor waarmee hy gewerk het, het net gegly. Ons oornag op Clarens en eet liggebraaide salm vir ontbyt.

’n Mens kan nie al die armoede op ’n leë maag beleef nie. Die dorpe wat verval. Die slaggate in die pad. ’n Swart regering-BMW flits by ons verby. “Sleg f****r!” hoor ek myself skreeu.

Duskant Hobhouse laai ons ’n vrou op wat ’n 2 liter-Coke-bottel vol melk op ’n plaas vir haar kind gaan haal het. Miskien is “ons” en “hulle” ryk en arm, dié wat het, en dié wat baie minder het. By die Gariepdam kry ons ’n gastehuiskamer wat oor die dam uitkyk. “Hierdie dam het ons mense gebou,” sê ek vir E, en wonder of dit nie ’n rassistiese ding is om te sê nie.

Pres. Cyril Ramaphosa is besig om die staatsrede te lewer terwyl ek nou hier sit en tik. Malema en sy rooi brigade drink seker al Moët & Chan­don in Kampsbaai of iewers. Hier buite voor die venster blink die dam hoopvol in die maanlig.

Meer oor:  Dana Snyman.  |  Van Alle Kante  |  Staatsrede2020  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.