Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om weer te stem dat alles sal verander
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Met die beste wil ter wêreld kan ek nie onthou waar ek vir die eerste keer gestem het nie. Soos vir die meeste mense in hierdie land is dit 1994 se verkiesing wat eerder steeds helder onthou word.

Ek was hoogswanger met die eersteling, sy wat deel is van die eerste geslag wat as die vryheidskinders bekend staan. Dis moeilik om aan hulle te beskryf hoe dit was voor daardie jaar, die goed en die sleg. Hulle vir wie die wêreld oop lê, wat gaan Engels gee in Suid-Korea, op die bote werk in die Mediterreense See, wat met rugsakke deur Colombië reis – hulle lag net in ongeloof as ’n mens vertel Malawi was omtrent die enigste land in Afrika waarheen ons kon reis.

Dit was ’n merkwaardige verkiesing in 1994 en elkeen het ’n storie daaroor, veral oor die lang toue. En die hoop. O, daardie hoop!

Oor die hoop en die verlies daarvan het niemand eergisteraand op die dorp se voorverkiesingspartytjie in die dorpskroeg gepraat nie. Die atmosfeer was eerder iets van ’n ligte, byna wanhopige histerie. Kom ons dans dan maar, kom ons praat oor die wisselvallige weer en die simpel rondloperbeeste en maak die Malawiese kroegman touwys hoe om DA-blou, ANC-geel en Vryheidsfront-groen shooters te meng, al waag niemand om dit te drink nie.

Die atmosfeer was eerder iets van ’n ligte, byna wanhopige histerie.

Almal van ons het wel ’n storie oor die stemlokaal waar ons die kruisies moet gaan trek. Dit is by die bosboustasie en van daar is die mooiste uitsigte oor die Laeveld se valleie en berge.

Daar is nooit lang toue nie. Trouens, die eerste keer toe ek daar gaan stem het, jare gelede, was ek die enigste stemmer, maar die kiesbeampte het my tereggewys omdat ek by die verkeerde deur in is. Toe ek by die “regte” deur in is, hang die aanwysingsborde met pyle al in die kort gang af: “Crowd control.” Ek was my eie skare.

Waarvoor hoop jy, Alpheus?

’n Mens ry daarheen deur die plantasie, deur die hek wat beman word deur die ou man wat ’n tyd kan onthou toe daar huise gestaan het waar nou net bome is, voordat daardie gemeenskap verskuif is om plek te maak vir die uitbreiding van die bosbougebied. Soms, as ’n mens daar stap, kom jy ’n geroeste kastrol teë of ’n nommerplaat met Mbombela (Nelspruit) se ou TBH-registrasie (“too bloody hot”, is destyds gespot) of ’n bos krismisrose wat half onvanpas onder die dennebome blom.

Ek vra die ou man of hy vroeg reeds, voor sy skof by die hek, gaan stem het. Hy lag tandeloos ’n “ja”, wys die inkmerk op sy duim.

“Ons moet stem, al hoor hulle ons miskien nie. Ons moet hoop, mevrou, with a big hope like ’94.”

Ons moet, beaam ek. “Waarvoor hoop jy, Alpheus?”

Sy oë het daardie waterigheid, die verafgeit van ouderdom en swaarkry. “Vir change. Dat alles nou sal change soos ons belowe is daardie eerste keer toe ons ook gaan stem het.”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Hoop  |  Stemdag  |  Verkiesing 2019  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.