Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Omgord maar jou lendene, SA

Pres. Cyril Ramaphosa se bestuur van die korona-pandemie is nie perfek nie, maar hy kry nietemin punte vir hoe hy die situasie tot nou hanteer het. Daar is egter kommerwekkende tekens dat Suid-Afrikaners se geduld met die streng inperkingsmaat­reëls aan die taan is.

Mense blyk veral omgekrap te wees met die maatreëls wat die verkoop van alkohol- en tabakprodukte verbied, en kom in opstand daaroor. Dit is duidelik ’n area waaroor die regering meer oortuigend behoort te kommunikeer.

Die groeiende onrustigheid met die inperking kom te midde van stappe in lande soos byvoorbeeld Duitsland en Frankryk waar inperkingsmaatreëls verslap of afgeskaf word. Duitsland het Maandag ook dele van sy sakesektor toegelaat om weer oop te maak.

In Amerika, die nuwe episentrum van die pandemie, dreig pres. Donald Trump om sy land weer vir sake oop te stel. Sy motivering klink egter verdag en irrasioneel. Dit word sterk teengestaan deur die goewerneurs van die land se deelstate wat glo hulle het medeseggenskap oor die kwessie.

Hier te lande is die raad aan die regering om nie oorhaastig te wees om die ramptoestand op te hef nie.

Karim het ook gesê hy werk verkieslik onder leiding van die politici nou in beheer in Suid-Afrika as met ’n leier soos Trump.

Dit klink sinvol. Die raad kom van die wetenskaplike raadgewers op wie die regering staatmaak om die pandemie te bestuur. Dit sluit in prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die regering se adviesraad oor Covid-19 en een van die land se voorste epidemioloë. Karim was ook een van die wetenskaplikes wat destyds die regering oor die MIV/vigs-pandemie raad gegee het.

Hy het die afgelope week in ’n media-onderhoud vertel van die ongelukkige ervaring destyds met oudpres. Thabo Mbeki se waningeligte sienings oor MIV/vigs, onder meer dat daar geen verband tussen MIV en vigs is nie. Dit was ’n dodelike standpunt wat die regering se beleid gedryf en die lewens van derduisende mense gekos het.

Karim het ook gesê hy werk verkieslik onder leiding van die politici nou in beheer in Suid-Afrika as met ’n leier soos Trump. Dit is ’n waardevolle pluimpie vir Ramaphosa en sy minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize.

Karim het ook te kenne gegee dat sy raad aan die regering sal wees om die rampmaatreëls stelselmatig eerder as plotseling op te hef. Ons is nog nie in die oog van die Covid-19-storm nie, maar die ervaring tot nou het die land voorberei om die ergste – wat onvermydelik nog moet kom – beter te kan bestuur. Ons moet dus die lendene omgord, want ons gaan nog langer met die ramptoestand moet leef as wat die meeste van ons hoop. Ons moet eenvoudig ons ongeduld temper.

Die Verenigde Nasies en die Wêreldgesondheidsorganisasie het verlede week die uiteindelike sterftesyfer weens Covid-19 in Afrika op meer as 300 000 geraam. Suid-Afrika is die episentrum van die pandemie in Afrika, wat beteken ons sterftesyfer gaan noodwendig nog die hoogte in skiet.

Die beste wat ons as burgers kan doen, is om te hou by die voorsorgmaatreëls. Dit verdien om herhaal te word: bly (verkieslik) tuis; was jou hande gereeld; hou jou afstand van ander; moet nie in die openbaar hoes of nies nie; en kry mediese raad of behandeling indien jy vermoed jy het die virus onder lede.

Kenners soos Karim is baie duidelik oor die pad vorentoe: vermy ’n plotselinge opheffing of verslapping van die ramptoestand. Dit sal net, reken hulle, lei tot ’n skerp toename in die verspreiding van die virus.

Die druk op die regering om die maatreëls op te hef is groot. In die volgende weke sal Ramaphosa se grootste uitdaging wees om die druk om voortydig op te tree te weerstaan, ongeag die moontlike latere politieke gevolge.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Salim Abdool Karim  |  Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.