Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Omkeer begin by die ekonomie

‘Dis die ekonomie, dommie!”

Dié nou gewilde sêding word aan oudpres. Bill Clinton van Amerika toegedig.

Dit is deur sy veldtogbestuurder, ­James Carville, in die presidentsverkiesing van 1992 uitgedink en as slagspreuk teen oudpres. George Bush ingespan. Clinton het Bush verslaan en ’n ekonomiese revolusie begin wat ’n fiskale tekort van $290 miljard omskep het in ’n surplus van $100 miljard aan die einde van sy tweede termyn.

Dit is te betwyfel of enige van die kandidate in die ANC se leierskapstryd dit hier sal kan vermag – nie eens adj.pres. Cyril Ramaphosa nie.

Suid-Afrika is in een van sy ergste ekonomiese krisisse. Tog is dit nie juis ’n onderwerp wat ter sprake kom wanneer ANC-afgevaardigdes, wat Sondag vir ’n leier gaan stem, onder mekaar praat nie.

Van ál die kandidate is dit net Ramaphosa wat lyk of hy ’n plan het om die ekonomie weer op koers te kry. Sy vernaamste teenstander, Nkosazana Dlamini-Zuma, het tot dusver net enkele opmerkings oor die ekonomie gemaak, maar niks wat klink na ’n deurdagte plan nie. Sy onderskryf die ANC-mantra van radikale ekonomiese transformasie, sonder enige aanduiding hoe daarvoor betaal gaan word.

Dit is nie duidelik of daar van die kandidate verwag gaan word om afgevaardigdes te oortuig van hul planne vir die ekonomie nie. Die afgevaardigdes stel klaarblyklik nie belang nie.

Sekerlik moet dit belangrik wees wat die kandidate se planne vir die ekonomie is. Hoe gaan groei in die ekonomie bewerkstellig word, werk vir die miljoene werkloses geskep word, en die onderwysstelsel reggeruk word om die menslike kapitaal te ontwikkel wat ’n ekonomie in die 21ste eeu nodig het?

Die uitdagings vir die toekomstige staatshoof is legio, tog weet ons bitter min van hul idees of vermoë om iets daaromtrent te doen.

Die ANC het ’n liefde/haat-houding jeens die idee van ekonomiese groei. In ’n onlangse uiteensetting van sy ekonomiese denke het Ramaphosa egter die belangrikheid daarvan beklemtoon.

Hy wil groei van 3% teen aanstaande jaar sien en 5% teen 2023. Dit is nog nie naastenby genoeg om werkloosheid behoorlik te pak nie.

Te veel mense in die ANC glo nog ’n sterk hand vir die regering is goed vir die ekonomie, eerder as ’n fasiliterende en ’n klimaatskeppende rol.

Hy voorsien verder beleggings van tot 20% van bruto binnelandse produk (BBP) in die ekonomie.

Hy meen ook die Nasionale Ontwikkelingsplan se teiken van ’n miljoen werksgeleenthede in die landbousektor moet aktief nagestreef word.

Suid-Afrika se skuldlas sal ook vir hom ’n prioriteit wees. Die skuldlas is 48% van die BBP, die hoogste onder vergelykbare ekonomieë.

Dié syfers onderstreep waarom dit so belangrik is dat die kandidate in die leierskapstryd daaroor gepols moet word om hul geskiktheid vir die pos van staatshoof te toets.

Te veel mense in die ANC glo nog ’n sterk hand vir die regering is goed vir die ekonomie, eerder as ’n fasiliterende en ’n klimaatskeppende rol.

Ek vermoed Ramaphosa se benadering tot die ekonomie sal sinvol en pragmaties wees. Dit is opvallend dat hy nie die term “radikale ekonomiese transformasie” in sy uitsprake oor die ekonomie gebruik nie.

’n Ramaphosa-presidensie sal ook sterk ingestel wees teen korrupsie, die grootste kanker in ons ekonomie.

Dit was nog nie nodig vir Ramaphosa of die ander kandidate om Clinton se slagspreuk oor die ekonomie in te span nie. Daar is kwalik ’n beter beskrywing van ons uitdagings.

Natuurlik gaan dit nie nét oor die ekonomie nie. Ons het te veel ander gewigtige uitdagings, maar die ekonomie lyk na die beste plek vir die nuwe leier om met die omkeerproses te begin.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Leierskapstryd  |  Anc  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.