Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onbevoegde kaders ondermyn Cyril se korona-leierskap

Pres. Cyril Ramaphosa maak allerweë ’n indruk met sy leierskap in dié tyd van krisis, maar dit kan deur onbevoegde kaders in die regering ondermyn word, skryf Theuns Eloff.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek lede van die weermag Donderdagaand toe. Foto: Felix Dlangamandla

Die bekende Engelse uitdrukking “Cometh the hour, cometh the man” is beslis waar van pres. Cyril Ramaphosa se reaksie en leierskap met betrekking tot die uitbreek van die Covid-19-virussiekte.

Byna almal is dit eens dat hy sterk leierskap toon en selfversekering uitstraal. Hy kom beslis en ferm voor, maar nie arrogant nie.

Sy verkose strategie om sosiale kompakte te bou en almal in ’n eenheid teen een vyand saam te snoer pas hierdie omstandighede soos ’n handskoen. Sy houding en optrede getuig van staatsmanskap bokant en anderkant partypolitiek.

Hy praat met almal, kry almal (veral politieke leiers, sakemense en godsdienstige leiers op een verhoog) en hy bemoedig en vermaan die SAPD voordat hulle met hul moeilike taak begin. Veral met laasgenoemde was sy klem baie anders as dié van die gewoonlik kragdadige Bheki Cele (minister van polisie) en pedantiese Fikile Mbalula (minister van vervoer).

Soos met sy staatsrede, lyk hy ál meer na ’n man wat stewig in die presidensiële saal sit. Met sy strategie en leierskap (en waarskynlik sy vermoë om na goeie raad te luister en dit te aanvaar), is dit bykans ondenkbaar dat hy in Junie ’n moeilike vergadering van die nasionale algemene raad van die ANC sal hê (indien dit nog plaasvind).

Die “swart swaan” van Covid-19 het Ramaphosa die unieke en broodnodige geleentheid gegee om sy presidentskap te konsolideer – en hy het dit terdeë en goed gebruik.

Suid-Afrikaners is dankbaar en trots dat ernstige en dapper stappe deur ons president gedoen is om die Covid-19 te beveg.

As president (wat nou regtig van en met ál “ons mense” praat) oorskadu hy nie net oudpres. Jacob Zuma (maklik) nie, maar ook oudpres. Thabo Mbeki oor die ander groot krisis van die begin van die eeu, naamlik MIV/vigs.

Ace Magashule is nie eens naastenby in hierdie prentjie nie, en Zuma nog minder.

As ’n mens moedswillig wil wees, kan natuurlik gevra word of sy verkiesing as president van ’n land wat in die greep van staatskaping en korrupsie was, nie ook só ’n uur was nie. Hoekom het hy nie toe hierdie soort ferm en besliste leierskap getoon nie?

Maar dit daar gelaat.

Suid-Afrikaners is dankbaar en trots dat ernstige en dapper stappe deur ons president gedoen is om die Covid-19 te beveg. En tot dusver lyk dit asof die meerderheid Suid-Afrikaners die grendeltydperk (inperking) met vasbeslotenheid en in landsbelang gaan deursien, selfs al vra dit menslike en ekonomiese opofferings van baie.

Rasse-ideologie kniehalter land

Soldate het Vrydag in die middestad van Johannesburg haweloses na tydelike blyplekke geneem. Foto: Felix Dlangamandla

Politieke kommentators is (met reg) só beïndruk dat Ferial Haffajee byvoorbeeld verlede week skryf dat Covid-19 ’n geleentheid mag wees om staatskaping vir eens en altyd iets van die verlede te maak.

Ek wens vuriglik dat sy reg is. Maar soos wat die ou man aan die Weskus gesê het toe hy hoor die mense in die kerk bid vir reën: “Julle kan traai, maar die wind waai wes!”

Dalk kry ons dit wel reg dat die Solidariteitsfonds nie gekaap word nie, en dalk kry ons dit reg om die kurwe van nuwe Covid-19-gevalle te laat afplat. Maar daar is ’n paar belangrike en wesenlike aspekte waar die winde inderdaad nog “wes” waai. En dit het die potensiaal om die goeie leierskap van Ramaphosa te ondermyn.

Die eerste hiervan is die rasse-ideologie van die regerende party. Dit bly in die bloed van die ANC en sy amptenare – soos wat apartheid in die bloed van die vorige staatsdiensamptenare was.

Toe die eerste konsep van die onlangse regulasies oor die hulp aan klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) gepubliseer is, was een van die kwalifiserende kriteria vir hulp dat die 51% van die onderneming in swart besit moet wees. Dit sou letterlik duisende Suid-Afrikaanse ondernemings uitsluit.

AfriForum het dadelik ’n brief van protes geskryf en Johann Rupert het dit via Twitter duidelik gemaak dat sy skenking van R1 miljard vir alle KMMO’s beskikbaar sal wees.

My versugting is dat die Covid-19-krisis ons as land die geleentheid sal gee om van die rasse-ideologie te vergeet.

Na verneem word, het Rupert nou besluit dat sy skenking deur ’n onafhanklike sake-organisasie bestuur sal word.

Watter een van hierdie reaksies die betrokke minister genoop het om die rasse-kriteria as “fopnuus” af te maak en om te swaai is nie duidelik nie. Dalk was dit ’n kombinasie.

Die punt is: Die eerste formulering is perfek in ooreenstemming met die rasse-paradigma van die ANC. Die amptenare wat dit geformuleer het, het net voortgegaan om die ideologie van die ANC toe te pas. Dit kom byna outomaties, dit is in die bloed, dit is die formule.

Dat dit hoegenaamd verander is, is merkwaardig. ’n Mens sou kon vra: Watter omstandighede maak dit nou belangrik dat finansiële hulp nie rasgegrond moet wees nie?

Wat is die grens wat oorgesteek moet word voordat rassevoorkeur nie in werking tree nie? ’n Grootskaalse nasionale krisis dalk? En kwalifiseer die vlakke van werkloosheid nie as so ’n krisis nie? Veral as KMMO’s se kapasiteit om werkgeleenthede te skep in ag geneem word?

In ooreenstemming met Haffajee se wens oor staatskaping, is my versugting dat die Covid-19-krisis ons as land die geleentheid sal gee om van die rasse-ideologie te vergeet. Maar ek is bevrees hierdie wind waai steeds wes.

Kader-ontplooiing verlam staatsdiens

Lede van die Johannesburgse metropolisie wat ontplooi is om orde in die tydperk van inperking te handhaaf. Foto: Felix Dlangamandla

Die tweede aspek waar die wind wes waai, is die bitter gevolge van die bogenoemde rasse-ideologie, gekoppel met kader-ontplooiing in die staatsdiens.

Dit kan selfs ’n groter negatiewe impak op Ramaphosa se leierskap en dapperheid hê. Daar is die afgelope paar jaar herhaaldelik oor die inploffing van die staatsdiens, veral op munisipale en provinsiale vlak, asook met betrekking tot staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) geskryf. In sy staatsrede het Ramaphosa self die blaam vir Eskom se onvermoë om te bestuur en te onderhou, onder meer voor die deur van kaderontplooiing gelê. Hy het nie so ver gegaan as om die ANC se rasse-ideologie ook die skuld te gee nie, maar het van ’n “gebrek aan kapasiteit” gepraat. Dit bloot kodetaal vir dieselfde verskynsel.

In elk geval: Ons het nadat die president met sy aankondigings oor die strategie teen Covid-19 se verspreiding begin het, nie ewe skielik ’n ander, meer doeltreffende staatsdiens nie.

Dieselfde staatshospitale wat in wanorde is, sal ewe skielik beter moet funksioneer – met dieselfde kaders.

Ons staatsdiens is op grondvlak nog grootliks dieselfde een as wat Eskom laat misluk het, wat die meerderheid munisipaliteite in die grond in bestuur het en wat talle provinsiale regerings en nasionale departemente grootliks gebrekkig bestuur.

Dit is hierdie staatsdiens wat vir die toepassing en afdwing van die Covid-19-noodregulasies verantwoordelik sal wees. Dit is hulle wat op provinsiale en plaaslike vlak tydelike huisvesting sal moet vind om haweloses te huisves en om mense onder kwarantyn en in isolasie te plaas.

Dit is dieselfde amptenare wat die logistieke en finansiële reëlings vir hierdie sentrums sal moet tref. Dit is hulle wat aan die waarskynlik groeiende getal mense kos en water sal moet voorsien.

Dieselfde staatshospitale wat in wanorde is, sal ewe skielik beter moet funksioneer – met dieselfde kaders. En dit is dieselfde amptenare wat hulp aan KMMO’s sal moet gee en ander maatreëls sal moet tref om te voorkom dat die ekonomie nie heeltemaal inplof nie.

Ministers soos dié help nie

Lindiwe Zulu, minister van sosiale ontwikkeling, het pres. Cyril Ramaphosa geen guns bewys met haar twiet oor inkopies nie. Foto: Felix Dlangamandla

Maar dit is nie net op middel- en laer vlak waar onbekwame en onbevoegde amptenare Ramaphosa gaan ondermyn nie.

Selfs van sy ministers – wat die opdrag gekry het om die gees en letter van die grendeltyd toe te pas – kan probleme skep. Die minister van sosiale ontwikkeling, Lindiwe Zulu (’n bekende Zupta), het sosiale media onlangs aan die gons gehad met ’n videogreep en twiet waar sy kraai van die lag dat sy nou so lekker kan inkopies doen. Maar meer nog, haar departement se maatskaplike werkers is almal onttrek of “onbeskikbaar”, ondanks die feit dat maatskaplike dienste as ’n nooddiens verklaar is. Sy het – óf ongeërg óf onnadenkend – skuilings, kinderhuise en sentrums van versorging gesluit, met tienduisende kinders en haweloses wat sonder kos en versorging sit.

Private organisasies soos Solidariteit se Helpende Hand sit nou met hierdie probleme opgeskeep; hulle kan maatskaplike werkers help en gee kos waar hulle kan, maar die taak is letterlik tien keer groter as waarvoor hulle toegerus is en die middele het.

Zulu laat haar president gruwelik in die steek, en help skep aan ’n maatskaplike ramp wat in die toekoms verreikende gevolge sal hê.

Theuns Eloff

Kortom, die toepassing van die noodregulasies en die voorkoming van nog groter skade aan die ekonomie is ’n ontsaglike groot taak, wat selfs vir bekwame en doeltreffende amptenare ’n enorme uitdaging sou gewees het. Om te verwag dat amptenare, van wie die meeste nie die “kapasiteit” het om hul normale take af te handel nie, hierdie uitdagings die hoof moet bied, is om die minste te sê, optimisties.

Op die ergste is dit wensdenkery. Die winde waai dus ongelukkig ook wes vir die toepassing van baie van die goeie noodregulasies en voorkomingsmaatreëls.

Ramaphosa het in sy toespraak aan die SAPD gesê dat hy ’n paar keer saam met hulle op straat sal wil kom. Dit is simbolies ’n goeie plan.

Maar miskien is meer besoeke aan en inspeksies van ander toepassingsvlakke van die noodregulasies nog belangriker – anders sal die westewinde sy goeie werk ongedaan maak.

* Dr. Eloff is ’n nie-uitvoerende direkteur van verskeie organisasies en ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Lindiwe Zulu  |  Theuns Eloff  |  Jacob Zuma  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Staatshospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.