Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aktueel
‘Onbewustelike’ woorde

Die ander dag bel A om te vra of dit aanvaarbaar is om die rasterm “Kleurling” te gebruik. Hy, sy vrou en skoonma sit en gesels nou daaroor.

“Of wát moet ’n mens sê, Hein? Dis so verwarrend, jy weet. Dan’s dit dít, dan’s dit dát.”

A het my gehelp om my belastingsake in orde te kry. Hy’s ’n gawe en beskaafde ou.

Ek sê hom wat my benadering is: dat dit altyd maar, indien dit regtig nodig is om die onderskeid te tref, beter is om van “bruin mense” te praat (wit, bruin, swart). Om “Kleurling” te gebruik, kan vir jou meer as net ’n erge kopseer besorg.

jana le roux, pam okkers
Jana le Roux (links) en Pam Okkers. Foto’s: Kyknet

Dit is wel so, lig ek hom verder in, dat talle bruin mense sélf geen probleem het met die gebruik van die term nie – bepaald in gebiede soos Gauteng – maar dit gee nie die “nie-bruin mens” ’n liksens om dieselfde te doen nie.

Akademici sou hier kon sê: Vergelyk dit met die eie gebruik van die uitdrukking “d*rkie” deur swart Suid-Afrikaners en die “n-woord” deur swart Amerikaners. Ná dese sou ’n mens ook die gebruik van “m**d” deur ’n bruin deelnemer aan die kykNET-werklikheidsreeks Kwarantyn kon byvoeg.

Om dit op ’n eenvoudige wyse te stel, sê ek verder aan A: Die gebruik van “Kleurling” beweeg vir sommige mense net te na aan twee ander afstootlike rasterme uit ons apartheidsleksikon, naamlik “Boer” en “Bantoe”. A het tevrede geklink met die verduideliking.

Hierna is ek op verskillende wyses met “die tale wat ons praat” gekonfronteer deur die reaksies op die gebruiklike luisteraarsvraag op RSG.

Die vraag het gehandel oor Tito Mboweni, die minister van finansies, se spesiale aanpassingsbegroting verlede week waarin hy onder meer aangekondig het dat die ekonomie vanjaar met meer as 7% sal inkrimp.

But people can allude to race without realising it, too,” skryf die rubriekskrywer Johnson in The Economist van 13 Junie (“Snide and prejudice”).

Jy kon jou ore soveel spits as wat jy wou, maar jy sou bitter min positiewe reaksie hoor. Ook heel verstaanbaar: Dat dit slég gaan met die land se ekonomie, is gewis; almal voel dit aan eie lyf.

Dit is dan ook so deur die luisteraars verwoord – en deurentyd is daar verwys na “hulle” wat nie sou weet hoe om die ekonomie te bestuur nie en “hulle” wat nie weet hoe om te regeer nie.

Minstens een luisteraar het die strekking van die terugvoering in ’n WhatsApp-stemnota opgesom: “Ek hoop nie ek offend enigiemand nie,” het hy gesê, “maar as ek so luister na die kommentare, dan voel ek net die Afrikaanse mense is verskriklik negatief.”

Soos wat ek ook vir A gesê het, weet ek nie alle wit mense wat na “Kleurlinge” verwys, bedoel dit negatief nie. Dit is dalk net ’n ou gewoonte – sónder rassistiese bedoelings. Eweneens, glo ek, sal talle van die luisteraars verbaas reageer as jy hulle daarop wys dat die verwysing na die regering as “hulle” baie maklik leksikaal ’n verkeerde stel kan aftrap.

Hoe gemaklik het die wit vrou van die Le Roux-familie nie die gewraakte “k”-uitdrukking vir ’n groot pak slae laat uitglip nie? Net so nonchalant as die bruin vrou van die Scheepers-familie met die “m**d”- sêding?

“But people can allude to race without realising it, too,” skryf die rubriekskrywer Johnson in The Economist van 13 Junie (“Snide and prejudice”).

Navorsing van gesiene tersiêre instellings soos Harvard en die Universiteit van Kalifornië het gewys dat deelnemers aan ’n aanlyn peiling minder geneig was om positiewe taalgebruik met swart gesigte te kombineer en in ’n ontleding van honderde nuusberigte uit onder meer The New York Times oor professionele sportlui wat van misdaad aangekla word, was die beriggewing meer beskuldigend wanneer swart sportlui ter sprake was (ons eie Makhaya Ntini-geval?) en meer genuanseerd en mensliker wanneer die beskuldigde wit was (Hansie Cronjé?).

En om weer in die Kwarantyn-huishoudings te draai: Hoe gemaklik het die wit vrou van die Le Roux-familie nie die gewraakte “k”-uitdrukking vir ’n groot pak slae laat uitglip nie? Net so nonchalant as die bruin vrou van die Scheepers-familie met die “m**d”- sêding?

In albei gevalle, glo ek egter, is dit toe te skryf aan onbewustelike of implisiete “rasgebaseerde” taalgebruik – eerder as doelbewuste of eksplisiete “rassistiese” uitinge – maar die oorsprong daarvan is altyd maar ’n diepgesetelde rasbewustheid wat ons in ons DNS saamdra.

Dié is dalk ’n onderwerp vir dr. Willem Botha van die WAT se volgende “Woord van die week”-rubriek op RSG of vir die program Taaldinge.

  • Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en ’n TV-aanbieder.
Meer oor:  Jana Le Roux  |  Pam Okkers  |  M-Woord  |  Tv-Reeks  |  Kwarantyn  |  F-Woord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.