Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onderrig in moedertaal: Tydbom tik

Die belangrikste gevolg van die onderwaardering van moedertaalonderrig is dat ons ’n hele geslag jong mense tot ongeletterdheid verdoem. Dis ’n morele tragedie en ’n sosio-politieke tydbom, skryf Theuns Eloff.

Kinders kan ook toepassings gebruik om moedertaalonderrig te kry. Foto: Verskaf

Die onlangs gepubliseerde verslag oor die studie oor vordering in die internasionale leesvermoë (Engels: PIRLS) het opvoedkundiges en ouers behoorlik op hol. Die verslag bevat die skokkende onthulling dat 78% van gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie.

En dadelik is die oorsake gesoek – en oënskynlik gekry. Onder sulke sondaars tel onderwysbeleid, uitkomsgebaseerde onderwys, ouers se gebrekkige rol, onderwysers se onvermoë om kinders te leer lees, onderwysers se gebrekkige opleiding en ’n skoolomgewing waarin leerlinge dikwels geboelie word.

En dit mag waar wees dat hierdie en ander faktore wel ’n rol in die teleurstellende uitslag gespeel het. Dit is ’n baie ingewikkelde probleem.

Een van die faktore wat egter byna glad nie deur kommentatore na vore gebring is nie, is moedertaalonderrig (of die gebrek daaraan).

Die grootste enkele aanwyser van uitsluiting van onderwys is wanneer onderrig nie in die moedertaal is nie.

Dr. Fernand de Varennes, ’n Frans-Kanadese taaldeskundige, verkondig al jare die onbetwisbare waarde van moedertaalonderrig wat deur internasionale navorsing en internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies na vore gebring word. In Mali, ’n voormalige Franse kolonie, het navorsing tussen 1984 en 2000 byvoorbeeld gewys dat die slaagsyfer van leerlinge wat in hul moedertaal onderrig is, 32% hoër was as dié wat in Frans onderrig is.

Die Wêreldbank het in 2000 in ’n verslag oor moedertaalonderrig gesê dat die grootste enkele aanwyser van uitsluiting van onderwys is wanneer onderrig nie in diemoedertaal van die leerlinge is nie – en dis waar van 50% van die wêreld se skoolleerlinge.

Hierdie erfenis van nieproduktiewe praktyke (om nie moedertaalonderrig te hê nie) lei tot lae vlakke van leer en hoë vlakke van uitval en herhaling. Klink dit bekend?

Oor die koste van moedertaalonderrig (waaroor baie dit afskiet) sê die Wêreldbank in 2005 dat hoewel onderrig in slegs die amptelike taal (lees in ons konteks Engels) 8% per jaar minder kos as moedertaalonderrig, die totale koste om ’n leerling deur ’n siklus van ses jaar sonder moedertaalonderrig te neem, omtrent 27% meer is, hoofsaaklik as gevolg van herhaling en hoë uitvalsyfers.

Leerlinge presteer beter in hul moedertaal

Johanna Maaopola voor ’n klas in die Boikgantsho Primary School in Mamelodi in 2014 waar kinders moedertaalonderrig gekry het. Foto: Deaan Vivier

Die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys se beleid is in teorie promoedertaalonderrig. Op ’n parlementêre vraag in 2006 het die destydse minister (Kader Asmal) geantwoord dat sistemiese evaluering vir gr. 3 en gr. 6 internasionale tendense bevestig het dat leerlinge wat in hul moedertaal onderrig ontvang, beter presteer as dié wat in ’n ander taal onderrig word.

Die departement was van plan om ’n gidsprojek te doen om moedertaalonderrig tot by gr. 6 te neem. Hierdie gidsprojek het klaarblyklik nie gerealiseer nie, want vandag nog is die praktyk dat leerlinge in skole anders as Engels- en Afrikaans-enkelmedium, in gr. 3 van moedertaalonderrig na Engels oorskakel.

Die meeste van die leerlinge het beter gevaar as hulle die toets in hul huistaal geskryf het.

Trouens, een van die opmerkings van Celeste Combrink, waarnemende hoof van die sentrum wat die PIRLS aan die Universiteit van Pretoria bestuur, was dat die swak uitkomste ook daarmee te doen het dat gr. 4 die oorgang van onderrig in Afrikatale na onderrig in Engels is.

Die PIRLS-toetse is egter nie net in Engels of Afrikaans afgelê nie, maar waar van toepassing ook in die ander nege amptelike tale. Die meeste van die leerlinge het beter gevaar as hulle die toets in hul huistaal geskryf het.

Die tale waarin die leerlinge die beste presteer het, was Engels en Afrikaans – waarskynlik omdat hulle die toets in hul huistaal (moedertaal) afgelê het. Een van die aanbevelings van die verslag is dat die onderrig van leesvaardigheid en die opleiding in pedagogiese vakkennis van onderwysers in die grondslagfase verstrek moet word – in alle tale, maar veral Afrikatale. Dis ’n goeie aanbeveling en begin dalk moedertaalonderrig na waarde skat.

Onderrig in moedertaal nie polities bekostigbaar

Hoewel moedertaalonderrig dus nie die enigste oorsaak van die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerlinge is nie, blyk dit ’n belangrike faktor te wees. Die vraag is: Hoekom het die regering in 23 jaar (en veral sedert 2006) nie moedertaalonderrig na minstens gr. 6 geneem nie? Dis tog in ooreenstemming met onbetwisbare internasionale navorsing en lesse. Bewys die regering slegs lippediens aan moedertaalonderrig?

In ’n onlangse persoonlike gesprek met een van die intellektuele leiers van die ANC (wat nie meer in die aktiewe politiek staan nie), het hy die stelling gemaak dat onderrig in die moedertaal eerder vroeër as later na Engels moet oorskakel.

’n Hele geslag jongmense word opgeoffer ter wille van ’n konstruk soos 'sosiale kohesie'.

Op my vraag hoekom, was sy insiggewende antwoord: “As ons nie almal Engels praat en daarin leer nie, sal ons nooit sosiale kohesie in Suid-Afrika kry nie.” Anders gestel: Engels moet de facto die enigste amptelik taal wees, en moedertaalonderrig kan nie polities bekostig word nie, omdat dit weer na verhoogde etnisiteit kan lei en die eenheid in die land en die ANC kan ondermyn.

Behalwe vir die ooglopende gebrek aan logika in hierdie argument (as ’n mens in jou moedertaal op skool onderrig word, beteken dit nie dat jy nie Engels sal leer of magtig is nie), is die implikasie dat ’n hele geslag jongmense opgeoffer word ter wille van ’n konstruk soos “sosiale kohesie”.

Dat laasgenoemde belangrik is, is nie te betwyfel nie. Maar dit is duidelik dat die ANC-regering hiermee ’n baie spesifieke homogeniteit in gedagte het, tot nadeel van kulturele, taal en selfs godsdienstige diversiteit. Dit is die uiteindelike bewys dat die ANC-regering bloot lippediens aan meertaligheid en moedertaalonderrig bewys – tot nadeel van die hele land en veral sy jong mense.

‘Gelyke’ en ‘ongelyke’ diskriminasie

’n Sydelingse opmerking oor Afrikaans as onderrigtaal: Dis duidelik dat die antagonisme by die regering en onderwysowerhede (lees veral die Gautengse LUR Panyaza Lesufi en adjunkminister Enver Surtee) teenoor Afrikaans as onderrigtaal mooi by die ongeërgdheid oor moedertaalonderrig inpas.

Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys. Foto: Christopher Moagi

Die feit dat Afrikaanse leerlinge beter presteer as gevolg van hul moedertaalonderrig word selfs deur sommige juriste as ’n bewys van “ongelyke diskriminasie” beskou. Almal moet liewer nie in hul moedertaalonderrig word nie sodat daar “gelyke diskriminasie”kan wees.

Hierdie ideologiese interpretasie van die Grondwet staan lynreg teenoor internasionale navorsing en beste praktyk.

Die belangrikste gevolg van die onderwaardering van moedertaalonderrig is dat ons ’n hele geslag jongmense verdoem tot ongeletterdheid – en daarmee hul vermoë om werk te kry en te soek. Dis ’n morele tragedie en ’n sosio-politieke tydbom.

Prof. Wayne Hugo van die Universiteit van KZN sê van hierdie ongeletterdheid dat dit tragies en gevaarlik is.

“Ons lewer ’n toekomstige geslag van jong mense wat kwaad en geïsoleerd sal wees.”

Theuns Eloff

’n Ander probleem wat bestaan, is dat Afrikatale (anders as Afrikaans) skandelik ten opsigte van handboeke, leesboeke en leer-hulpmiddels afgeskeep is. Die swak PIRLS-uitslae waar die toetse in Afrikatale afgelê is, is ’n bewys hiervan. Daar is gelukkig aanduidings dat Afrikatale nou meer aandag kry as in die laaste 15 jaar.

Maar een van die groot probleme – die olifant wat byna almal ignoreer – is dat daar nie erns gemaak word met die internasionaal bewese waarde van moedertaalonderrig tot minstens in gr. 6 nie.

En dit word eenkant toe geskuif as gevolg van ’n gewaande bekommernis oor ’n nuwe opkoms van etnisiteit en ’n verlies aan sosiale kohesie. Hopelik is dit nie te laat om internasionale beste praktyk oor moedertaalonderrig te begin volg nie – en ook art 29(2) van die Grondwet in die praktyk vir alle Suid-Afrikaners te laat realiseer nie.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting en ’n trotse oud-Puk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.