Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onderwys kan by Taiwan leer

Taiwan se onderwys- en leerkultuur kan ’n rigtingwyser vir Suid-Afrika wees. Die kontras tussen openbare skole in dié twee lande is nie net skril nie, maar skreiend.

Dit word nie net weerspieël in die uiterlike (geboue, studie- en sportgeriewe) nie. Onderwys en opvoeding pols met die hartklop van ’n nasie op pad na die toekoms.

Mohamed Shaikh.

Jy snap die Taiwanners se toewyding aan onderwys gou ná ’n besoek aan
Taipei se Confucius-tempel. Confucius word bestempel as die “modelleermeester van alle tye” en is bekend om sy onwrikbare geloof in die waarde van onderrig en leer. Soos een van sy leerstellings lui: “As jy aan ’n tydperk van ’n jaar dink, plant ’n saadjie; as jy aan tydperke van tien jaar dink, plant bome; en aan 100 jaar, leer die mense.”

In gesprekke met gemiddelde Taiwanners en onderwysers daar kry jy die indruk die onderbou vir leer en opvoeding lê waarskynlik ingebed in historiese en kulturele faktore, soos die groot waarde wat geheg word aan opvoeding, wedersydse respek en ’n gedeelde begrip om die gemeenskapsbelang te dien as eienskap van algemene vooruitgang.

Die onderwys en onderwysers staan sentraal in die handhawing van hierdie sosiale en kulturele kontrak.

Onderwyskenners en -navorsers is dit eens dat die status wat onderwysers geniet ’n goeie aanduider is van die waarde wat daardie samelewing aan onderwys en opvoeding heg.

Terwyl die meeste Westerse lande swoeg om die moreel, beeld en status van onderwysers te verhoog, het onderwysers en die onderwys in die algemeen hoë aansien en status in Taiwan en die groter China.

Navorsers in ’n studie oor die sosiale status van onderwysers in Taiwan bevind dat hulle ’n relatief hoë beroepstatus en in die algemeen groter werkbevrediging het as leerkragte elders ter wêreld. Hulle skryf dit toe aan gunstige beleidsvorming oor onderwysopleiding en die bedryf van skole wat in onlangse jare deur die regering aanvaar is.

In ag genome dat onderwys ’n hoeksteen is van die Suid-Afrikaanse strewe, sal dit nie skade doen nie as ons onderwysbase en politieke leiers kennis neem van die onderwysresep van ’n groeiende ekonomiese reus in Asië.

Taiwan vier sy onderwysers. Skole maak ’n groot ophef van hulle op Onderwysersdag. Daarby is waarderingsboodskappe en -gebare aan die einde van die akademiese jaar ’n instelling.

Onderwysers ontvang ’n onderwyser-kaart wat hul beroep bevestig en voorsiening maak vir bepaalde sosiale en ekonomiese voordele, soos afslag by sekere hotelle en kettingwinkels, “omdat hulle gemoeid is met die vername taak om kinders se intellektuele groei te verseker en nuwe generasies toe te rus vir die uitdagings van die toekoms”.

Belowende en presterende onderwysers kom ook in aanmerking vir hoogaangeskrewe pryse met geldelike voordele. Pryse word soms gekoppel aan konferensies, seminare en werksessies om die vlak van onderwys in die klaskamer nog verder te verhoog.

Onderwysers in openbare skole het die standaardvoordele van “openbare amptenare” soos jaarlikse bonusse plus aansienlike pensioen- en aftreevoordele. Kortliks, onderwys word geposisioneer en geprojekteer as ’n vername beroep in die Taiwanse en breër Chinese samelewing.

’n Hoë vlak van professionele opleiding word van onderwysers vereis: minstens ’n B-graad plus nagraadse onderwysopleiding.

Voorts is ouers baie nou en intens betrokke by die skool en die opvoeding van hul kinders.

In ag genome dat onderwys ’n hoeksteen is van die Suid-Afrikaanse strewe, sal dit nie skade doen nie as ons onderwysbase en politieke leiers kennis neem van die onderwysresep van ’n groeiende ekonomiese reus in Asië. Die beste kom gewis nie altyd uit die Weste nie.

  • Shaikh is ’n voormalige joernalis van Die Burger.
Meer oor:  Suid-Afrika  |  Taiwan  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.