Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onenigheid oor vlag niks nuuts

Die laaste tyd is daar kort-kort nuusberigte oor simbole, oftewel die onenigheid daaroor.

By die Universiteit van die Vrystaat sing ’n paar studente voor die afskop van ’n Varsitybeker-wedstryd slegs die Afrikaanse deel van die volkslied, terwyl daar by dieselfde universiteit opnuut ’n beroep gedoen word om M.T. Steyn se standbeeld te verwyder.

In Stellenbosch word die ou landsvlag oor ’n sypaadjie gedrapeer sodat mense daaroor kan loop. Die Nelson Mandela-stigting nader die gelykheidshof om die vlag tot haatspraak te laat verklaar. AfriForum veroordeel dit omdat die vlag deel van die geskiedenis is en ’n mens nie die geskiedenis kan verbied nie.

Sulke voorvalle het vir ons algemeen geword, veral in ag genome dat ons in ’n land woon waar ons twee dekades gelede ’n enorme politieke omwenteling deurgemaak het en sedertdien ’n weg moet probeer vind tussen die simbole van die verlede en nuwe simbole wat daarop gemik is om te verenig.

Die stryd oor naamsveranderinge en standbeelde wat die laaste paar jaar kort-kort opgevlam het, is ’n teken daarvan.

Simbole het uiteenlopende betekenisse vir verskillende gemeenskappe en is ’n weerspieëling van ons historiese verdeeldhede. Dit is wel niks nuuts nie en dis eintlik ironies dat die einste ou landsvlag waaroor daar nou opnuut verdeeldheid heers self in verdeeldheid gebore is.

In 1925 het D.F. Malan, die destydse minister van binnelandse sake, die bal aan die rol gesit om die Union Jack as amptelike vlag te vervang deur ’n nuwe Suid-Afrikaanse landsvlag. Die nuwe vlag moes ’n nuwe Suid-Afrikaanse nasie beliggaam wat die twee wit gemeenskappe sou saamsnoer en daardeur ’n nuwe, breër Suid-Afrikaanse nasionalisme sou aanwakker.

Die Engelssprekende gemeenskap wou niks weet van ’n vlag sonder die Union Jack nie.

Dit was in teenstelling met die eksklusiewe Afrikanernasionalisme en jingoïstiese Britse imperialisme wat onder die twee gemeenskappe geheers het. Om dít te bewerkstellig wou Malan ’n “skoon” vlag hê wat geen verdelende simbole van die verlede sou bevat nie. Hy het homself lelik misgis.

Die Engelssprekende gemeenskap wou niks weet van ’n vlag sonder die Union Jack nie. Vir hulle was dit ’n verwatering van Suid-Afrika se band met die Britse Ryk – ’n band waaraan hulle baie waarde geheg het – en tekenend van die “Afrikanerisation” van die samelewing, wat uiteindelik sou lei tot ’n afskeiding van die Britse Ryk.

Vir Afrikaners het die Union Jack koloniale onderdrukking, die vernedering van die Anglo-Boereoorlog en die lyding van die konsentrasiekampe verteenwoordig. In die noorde van die land was daar nog sterk lojaliteit teenoor die ou republikeinse vlae wat nie noodwendig deur die Kapenaars gedeel is nie.

’n Storm het in die media losgebars wat die volgende drie jaar sou woed. In Durban, Kaapstad, Johannesburg en Port Elizabeth was daar pro-Union Jack-optogte. In Bloemhof het geweld uitgebreek tussen NP- en Suid-Afrikaanse Party-ondersteuners. In Natal het dit in so ’n witwarm saak ontaard dat die provinsie gedreig het om van die Unie af te skei. Die spanning in die land is selfs vergelyk met die Jameson-inval van 1895 en die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog.

Malan het die stryd om ’n skoon vlag verloor: Die nuwe vlag sou bestaan uit ’n sameflansing van simbole uit die verlede. Toe die nuwe vlag uiteindelik op 31 Mei 1928 vir die eerste keer gehys is, het hy geen toespraak gelewer om dit te vier nie. In plaas van versoening, het die vlag eerder opnuut verdeeldheid gesaai. Sy ontstaansgeskiedenis het wel sedertdien in die vergetelheid vervaag.

  • Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Lindie Koorts  |  Mening  |  Vlag  |  Landsvlag  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.