Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ongeskrewe reëls hou demokrasie in stand

Verbeel ek my of word Suid-Afrika elke dag gewelddadiger?

Dalk lyk dit net so omdat ons die afgelope twee weke soveel prominente gevalle van geweld gehad het.

Dr. Pieter Mulder

Glen en Vida Rafferty, landbouleiers, word in Newcastle vermoor.

Shongile Nkhwashu, ’n jong mediese dokter, word by Polokwane vermoor.

Lizette en Hettie Deacon, restauranteienaars, word in Polo-kwane wreed vermoor.

Sias Willemse, Potchefstroomse sportpersoonlikheid, vermoor.

Dr. Abdulhay Munshi, narkotiseer, word in ’n tipe sluipmoordaanval vyf keer geskiet.

Lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die Wes-Kaapse bende-eenheid, word voor sy huis doodgeskiet.

Die misdadigers huiwer nie om hul probleme op hierdie geweldmanier te probeer oplos nie.

In die primitiewe Middeleeue is probleme met geweld opgelos.

Waar mense ernstig van mekaar verskil, is swaarde uitgepluk. Die groep wat die beste kon doodmaak – hul saak wen.

Eeue later het howe tot stand gekom waar regters straf uitdeel in plaas van mense se wraak.

Die Britse parlement het tot stand gekom met die doel om verskille met debat, en nie met geweld nie, op te los.

In die Britse parlement is daar twee rooi strepe op die mat waar debatte plaasvind. Die regering sit regs van die speaker agter ’n rooi streep en die opposisie links van die speaker agter die ander rooi streep. Volgens oorlewering is die afstand tussen die twee strepe die afstand van ’n man se arm, ’n swaard, een duim, nog ’n swaard en nog ’n arm. Tydens ’n debat mag niemand oor die rooi strepe trap nie. Dit beteken as jy en jou opponent in die hitte van ’n debat jul swaarde uittrek, kan julle mekaar net-net nie oor die rooi strepe bereik nie. Dit dwing julle om probleme uit te praat en nie uit te baklei nie.

Ons parlement is ook daarop gegrond.

parlement
Rooi strepe in die Britse parlement. Foto: Verskaf

Toe die EFF onlangs nie sy sin in die parlement kry nie, bestorm hulle min. Pravin Gordhan by die podium en maak hom stil.

Onlangs stuur Floyd Shivambu van die EFF ’n twiet wat lui “Alle koloniale moordenaars” moet van die aarde “afgevee” word. Julius Malema, EFF-leier, herhaal ’n twiet van Robert Mugabe wat lui: “(T)he only white man you can trust is a dead white man.” Dink net wat sou gebeur as iemand hier “white” deur “black” vervang!

Al hierdie voorvalle skep ’n klimaat waarmee ons terugbeweeg na ’n tyd toe probleme met geweld en nie met debat en hofsake nie opgelos is. Dit is uiters belangrik dat hierdie populistiese geweldkultuur deur verantwoordelike leiers en instellings veroordeel en spoedig ongedaan gemaak word.

Die parlement se etiekkomitee ondersoek die geval waar Gor­dhan met geweld gekeer is om te praat. Die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek Shivambu se twiets en beplan ’n hofsaak teen Malema oor sy uitlatings.

Prof. K.A. Busia, politikus en akademikus van Ghana, skryf oor demokrasie: “Verkiesingsreëls kan gemaak word; vryhede kan in grondwette voorsien word en menseregte-aktes kan aanvaar word. Sulke maatreëls sal eenmalige aanvalle op die demokratiese stelsel moeiliker maak. Maar hulle op hul eie sal nie ’n demokratiese klimaat verseker nie.

“Daarvoor is ander ongeskrewe reëls nodig, soos eerlikheid, integriteit, selfbeheersing en respek vir demokratiese prosedures binne ’n gemeenskap.

“’n Suksesvolle demokrasie hang in die laaste instansie af van individuele mans en vroue se karakter en die morele norme van ’n gemeenskap.”

Ek stem daarmee saam en glo ons het ’n ernstige probleem weens ’n gebrek aan leierskap.

Daarom is dit belangrik dat die regte bevindings gemaak word in die toetssake hier genoem.

  • Dr. Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.
Meer oor:  Reëls  |  Pieter Mulder  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.