
Jana Luther
Dat Europeërs in hul vroeë dae aan die Kaap baie van Suid-Afrika se inheemse soogdiere nog nooit gesien het nie, is algemeen bekend. Ook dat hulle baie van dié diere na diere elders genoem het, soos ons seekoei na Nederlands se “zeekoe”, terwyl ’n zeekoe in Nederland g’n seekoei is nie, maar ’n doejong. Afrika se seekoei is daar ’n “nijlpaard”, en ons meerkat ’n “stokstaartje”, want in Nederlands verwys “meerkat” na ’n hond(s)aap en “groene meerkat” na Afrikaans se blouaap.
Dit het my laat wonder: Hoe het dit met die benoeming van ons ongewerweldes gegaan? Insekte, spinnekopagtiges, oorkruipers, duisendpote, wurms. Die vlieëndes en kruipendes wat volgens Wikipedia tussen 70% en 90% van alle diersoorte uitmaak, maar wat die meeste van ons laat gril; wat ons gedurende ons leeftyd, doelbewus, per ongeluk, onwetend, by die miljuisende vermorsel, vergif, tot ’n grusame einde laat kom.
In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wemel hulle: Bontskapies, beeruile, bloutjies en bruintjies, dartelaartjies en dikkoppies, herfsblaarswerwers en heuningspringertjies, karoo-dansertjies en -skollies, kopervlerkies, koolwitjies, kwaggasandmannetjies en rooibroekkonstabels. Hulle is almal skoenlappers.
Boomsingertjies, sonroepertjies, die sonbesies, boombesies, hoor ’n mens op warm somerdae.
Boomsingertjies, sonroepertjies, die sonbesies, boombesies, hoor ’n mens op warm somerdae. Die boerkainja is ’n wollerige, geelbruin tor. Hy kom saans uit die grond as hy lig gewaar. Hooiwaens, ook bokwaentjies genoem, lyk soos spinnekoppe, stadig op lang, dun pote.
Om vyande af te skrik, laat die bombardeerkewer met ’n hoorbare knal salpetersuurdruppels uit sy agterlyf los. Gomwerpers, rysmiersoldate, spuit ’n klewerige stof uit hul monddele.
Brandassies, klein, swart muggies, ook warm-as(sies) of doemdoempies genoem, veroorsaak in die somer ’n brandende gejeuk waar hulle teen ’n mens vasvlieg. As die donderbesies, dondervliegies of onweersbesies, klein hardedopkewertjies, saans rondvlieg, is die reën glo naby.
Die skimmelagtige afskeiding op dié toktokkie se rug laat hom glo lyk soos ’n vrou met ’n karos.
Ook as die dolfie baie dons het. Die skimmelagtige afskeiding op dié toktokkie se rug laat hom glo lyk soos ’n vrou met ’n karos. Vandaar sy ander naam: fytjie-abbakaros.
Nog ’n toktokkie is die blinkswart ghannaghoetjie, of padlopertjie. Met sy gepunte agterlyf klop-klop hy teen die grond. Dié gewoonte en ’n wit kolletjie onder sy maag besorg aan hom nog twee name: klopgatjie en briewedraertjie.
Engels se geliefde swart-en-rooi kolletjieslyf-ladybird heet in Afrikaans, nes in Nederlands, liewe(n)heersbesie. Hy het ook ander name: bontbesie, skilpadjie, boom- of botterskilpadjie, botterbesie, bontrokkie, aljandertjie of giekergaker.
Maar die meeste van dié name ken ons nie meer nie. In die omgangstaal word dié diertjies voor die voet “gogga” genoem, met streeksinonieme, dalk, soos “krukkejeus” of “kokkejis”.
Dis ’n jammerte, want gogga maak vir baba bang. Onbekend maak onbemind.
- Jana Luther is redakteur van Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.