Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onluste in Iran wys die stelsel daar is uitgehol

Die vlaag betogings wat tans oor Iran spoel, hou ernstige implikasies in vir die Islamitiese fundamentalistiese bewind wat sedert die val van die sjah in 1979 regeer.

Dis nie te sê dat die regime op die punt van ineenstorting staan nie, maar dis duidelik dat die politiek-religieuse stelsel waarop die staat berus, steeds al hoe meer bevraagteken word.

Dis die tweede keer in die laaste dekade dat grootskaalse onluste voorkom. In 2009 het derduisende mense veral in die hoofstad, Teheran, betoog as deel van die Groen Beweging.

Die betogers was toe van mening dat die regering van pres. Mamoed Ahmadinedjad die verkiesingsuitslag tot sy voordeel gemanipuleer het en grootskaalse betogings het gevolg.

Maar ofskoon miljoene mense deelgeneem het, was die swaartepunt in Teheran self en by die hoër middestand – studente, professionele mense, ensovoorts. Die plattelanders en ongeskooldes het min of meer langs die kantlyn gesit en kyk.

Dié keer is dit anders. Die onluste kom landwyd tot diep in die platteland voor en dis veral die armer mense sonder veel formele opleiding wat in opstand is.

Die katalisator vir die geweld was die feit dat pres. Hassan Rohani geheime besonderhede oor vanjaar se begroting laat uitlek het.

Die katalisator vir die geweld was die feit dat pres. Hassan Rohani geheime besonderhede oor vanjaar se begroting laat uitlek het.

Heel waarskynlik het die uitlekkery te make met ’n magstryd tussen die relatief gematigde president en die streng fundamentalistiese geestelikheid wat kragtens die grondwet die egte mag agter die troon vorm.

Die geheime aspekte van die begroting, wat ongetwyfeld deur die geestelikes aan Rohani opgedwing is, het miljarde in die sakke van die klerus laat beland.

Nóg miljarde het na die Islamitiese Revolusionêre Garde gevloei of word aan Iran se rol in die burgeroorloë in Sirië en Jemen bestee.

As in ag geneem word dat ’n geraamde 40% van die land se jongmense (die helfte van die bevolking) werkloos is, is dit duidelik dat die begroting die vonk in die kruitvat was.

Dit word versterk deur ’n langdurige droogte, wat reeds 14 jaar duur en miljoene arm plattelanders laat stroom na die stede waar hulle van die hand na die mond leef.

’n Mens kan aflei dat Rohani dit wou gebruik om sy teenstanders in die geestelikheid te verswak, maar aangesien die betogings duidelik handuit geruk het, kan dit ook sy eie posisie benadeel.

Wat van die toekoms? Die regime – en dit sluit nou ook Rohani in – slaan kliphard en met groot geweld terug. Duisende mense is reeds in hegtenis geneem of doodgeskiet.

Die kanse dat die stelsel in duie gaan stort, is op kort termyn baie na aan nul. Maar op langer termyn wys die onluste dat die Iranse stelsel van binne uitgehol raak.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Teheran  |  Iran  |  Rubriek  |  Groen Beweging  |  Politiek  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.