Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onplesierige tye in ons geliefde kerk
Blou Willem

My pa het altyd in sy kantoor ’n inmandjie en ’n uitmandjie op sy lessenaar gehad. En een van daai groot Morris-stoele om oor middagete ’n vinnige uiltjie te kon knip.

Daai twee mandjies se inhoud is leeggewerk voordat hy huis toe gekom het, want doerie jare het pa’s nog smiddae laat met hul kinders gespeel en aan ’n tafel met hulle gesit en kookkos eet.

Nou se dae is daar mos nie meer mandjies vol papier nie, maar ’n rekenaarskerm met ewe veel moeilikheid op. En meer. Dit vat jou elke oggend ’n halfuur net om van al die gemorspos ontslae te raak.

Maar so tussen al die potensiële items om te “delete”, is daar skielik weer een van ou Don, Paul of Hennie se juweeltjies. Partykeer te stout vir ’n ordentlike gesinskoerant, maar gewoonlik ideale medisyne vir fronsplooie.

So kry ek onlangs ’n lekker enetjie oor blapse wat in gemeentes se kerkblaadjies verskyn het (nog voor die nuutste onenigheidstories van Moreleta wat Minderleta wil word). Onder meer die volgende: “Moenie dat bekommernis jou doodmaak nie, laat die kerk help!”; “Ds. Jannie gaan volgende Sondag sy afskeidspreek lewer, waarna die koor gaan sing ‘O, blye dag!’ ”; “Die onderwerp van Dinsdagoggend se bejaardesorgbyeenkoms is ‘Die hemel, hoe kom ek daar?’ Vervoer vertrek om 10:30 van die bushalte oorkant die ouetehuis”; “ ’n Boontjiesop-aand word Saterdagaand in die kerk se lapa gehou. Bring ’n baadjie saam in geval dit winderig en onplesierig raak”; en “Die kerklike vredesberaad is gekanselleer weens sinodale konflik.”

Jaaa, swaer, voorwaar onplesierige, winderige tye in ons geliefde kerk!

Jaaa, swaer, voorwaar onplesierige, winderige tye in ons geliefde kerk!

Oom Johnny sê hierdie onheilighede laat hom dink aan die storie van Van der Merwe (hy’s nie seker of dit Koos of ’n ander een was nie) wat op ’n eiland uitgespoel het en drie jaar lank moes oorleef op kokosneute en vis.

Eureka, en daar kom ’n skip verby en Van se nagmerrie is op ’n einde! Die kaptein van die skip is nuuskierig toe hy drie grashutte sien en vra vir Van: “Wie bly dan nog hier saam met jou?”

“Nee, dis net ek,” antwoord ou Van. “Die hut links is waarin ek heeltyd gebly het, die een in die middel is my eerste kerk en die een regs my nuwe kerk nadat ek afgestig het.”

Ai, mense, waarmee hou julle julle besig? As julle eendag daar op die perron staan ná jul laaste treinreis, gaan julle ook dalk agterkom dat julle toe nie al die antwoorde reg gehad nie. Altyd ’n ou ietsie wat ons gewone sterflinge nie weet nie, of hoe?

Dik Daan sê wat vir hom vreemd is, is dat in die kerk, nes in ons politiek en met ons rugby, moeilikheid en swak uitslae altyd iemand anders se skuld is.

“Ek verlang sommer na die Guptas, want as hulle nog hier was, het ons ten minste lankal geweet wie ons nuwe ministers was.”

Meer oor:  Blou Willem  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.