Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onreg mag nie vreugde steel
Elmarie Dercksen

Psalm 37:4 sê: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

As ek ’n rand moes ontvang vir elke keer wanneer iemand dié vers buite konteks gebruik, was ek al skatryk.

Die bedoeling is nie dat wanneer jy die lamp reg vryf, God uitspring en geld voorsien vir dit wat jy wil koop nie. Hoewel dit tog soms plesierig is om ons te verlekker in hoe verkeerd ons dinge kon verstaan en met hoeveel naïwiteit ons pad met God kon begin!

Ons ouers het moeite gedoen om ons morele waardes te leer: As jy stout is, word jy gestraf; as jy hard werk, sal jy ryk word, en as jy ’n goeie mens is, sal goeie dinge met jou gebeur.

Daardie leerstellinge is van onskatbare waarde in die ontwikkelingsjare en lê ’n waardevolle basis vir ’n goeie lewe.

Dit is egter naïewe wysheid en antwoord nie die moeilike vrae van die lewe nie.

Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? Waarom maai ’n mens nie altyd wat jy gesaai het nie? Waarom is daar soveel onreg in die wêreld?

In die Bybel is daar literatuur waar mense worstel met die moeilike vrae, byvoorbeeld in Job en Prediker.

In die Bybel is daar literatuur waar mense worstel met die moeilike vrae, byvoorbeeld in Job en Prediker.

Psalm 37 is egter, soos Spreuke, ingebed in naïewe wysheid.

Ek dink nie aan myself as ’n besonder naïewe mens nie, maar hou my toe dapper om te kyk of die betrokke Psalm (die hele een, nie net een versie nie) iets het om te bied vir die moeilike tyd waarin ons ons bevind.

Want kyk, dis beroerd. Ek wil nie eens die som maak om te bepaal hoeveel geld uit die Covid-19-begroting “verdwyn” het nie. Ekonome waarsku: Ons is eintlik al oor die skuld-afgrond.

Ons harte breek terwyl die plase brand.

En oor ’n maand is dit weer aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders en weinig het verander in ons mooie land.

Ten spyte van sy wysheid wat met grysheid kom, vertel Dawid nie hier hoekom hierdie dinge gebeur nie.

Dawid is self deur die loop van sy lewe gekonfronteer met onreg en wreedheid, dink maar. Hy waag dit wel om te mymer oor wat ons dan te doen staan wanneer ons voel dat die slegte ouens wen.

In die eerste plek moet ons waak teen te veel ontsteltenis (die woord beteken letterlik sooibrand, of iets wat jou opvreet soos vuur).

Dit beteken nie ons keur die onreg goed, of het niks daaroor te sê nie. Maar dit mag nie ons vreugde in God steel nie. Ons is veronderstel om in God te kan rus, om te weet Hy is steeds besig in ons wêreld. By God kan ek skuil, God is die een wat my ophelp en bevry.

Ons kan in verwonderende stilte by God wees en steeds vertrou dat Hy sal oordeel.

Verder moet ons konsentreer op ons persoonlike integriteit, allereers ter wille van onsself. Bly weg van die kwaad en doen wat goed is. Die gewone dinge, soos rustig woon en werk, is in moeilike tye juis van omvangryke waarde. Beskerm jou onskuld, moenie in versoeking kom om deel te neem aan die korrupsie nie. Weeg jou woorde en praat met wysheid. Leef steeds vrygewig.

Selfs hier vanuit die Kolonie het mense verlede naweek opgetrek na Senekal met wapens, om te gaan baklei.

Ek was diep dankbaar toe daar berig word dat meer mense gebid het as wat baklei het. Swart, bruin en wit het langs mekaar gebuig voor God.

Noem my naïef, maar dis hoe ek ons land se mense ken. Daar is meer goeies as slegtes. En verandering kom nie net van bo af, van die leiers af nie.

Dit kom ook vanuit individue, families en gemeenskappe wat goeie keuses maak in moeilike tye.

Meer oor:  Onreg  |  Geloof  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.