Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons almal ly – party net meer

In dié anderwêreldse tydsgewrig wanneer ’n mens veral met woorde sou kon doen, ontglip hulle my.

Vir meer as 24 uur al heers daar ’n staat van inperking. Wat skryf jy tog om van als sin te probeer maak?

Uit watter put katrol jy slimmighede of ’n netjiese struktuur op terwyl jy ’n bevoorregte kwarantyn tussen kuns en boeke slyt? Soos jy produktief voor ’n reuse- glimmende skerm sit, en elke dan en wan op ’n doodstil Johannesburgse straat uittuur. Waar lê dié onbekende kerker se sleutel verberg?

Soos die koerant – verbasend genoeg vanoggend nog deur ’n traliehek afgelewer – die eerste Covid-19-sterfte in Suid-Afrika aankondig en vertel die infeksietal hier ter plaatse het 1 000 oorskry, is daar óral ’n dowwe leegte.

Paniek is ’n trae brander wat, al aaiend, my gemoed wil-wil verdonker. In die wiskunde van dié puntige gedrog vermenigvuldig iets alte vinnig in baie.

Soos in Shirley Jackson se kortverhaal “The Lottery” is hierdie nie ’n waagspel wat jy wil wen nie.

Die hoeveelste e-pos met die woorde “Disaster Management” as opskrif gons my inboks binne. Dan, nóg ’n direktief van die regter-president oor toegang tot die howe.

Op die televisie word die stygende siekte- en sterfgetalle by die minuut blink opgedateer. Who wants to be a millionaire? Soos in Shirley Jackson se kortverhaal “The Lottery” is hierdie nie ’n waagspel wat jy wil wen nie.

Uit Washington basuin pres. Donald Trump dit uit dat Amerika die infeksie-geeltrui dra alleen omdat dié land met toetsing uitmunt. Die Pase moet net kom, sê hy, sodat Amerika weer pol-send die kerke kan volsit. En die Chinese virus die nekslag kan toedien.

Uit Londen flikker beelde die TV en WhatsApp vol van opslaanhospitale en van ’n treffende aandelikse handegeklap vir die gesondheidswerkers in Brittanje se National Health Service.

Koningin Elizabeth se annus horribilis is nog maar nét begonne. Selfs sy blyk aan dié demokratiese virus blootgestel te gewees het.

Op Facebook klink ’n gespreksversoek van Londense vriende uit die niet op. Die kameraliggie blink groen.

Aktrise Liraz, wat onlangs in die buiteland rolprentwerk gedoen het, had dit eers onder lede. Toe sy reeds aan ’t herstel was, het Ben, ’n dosent knaend omring van hoeveel studente, siek begin word. Sy WhatsApp-boodskap ’n week terug was bondig: “Dit gaan maar rof. Ek is pas bed toe.”

My borskas voel in iets se ysere greep. Die malste pyne in my bene. Sweet. Bewerasies.

En die dag daarop: “My borskas voel in iets se ysere greep. Die malste pyne in my bene. Sweet. Bewerasies.”

As die Facebook-kameratjie nóú begin rol, is hulle en my peetdogtertjie in een stuk. Ben het byna sy rug op die ergste gekeer. In hul knus sitkamer, wat ek só goed ken, lyk áls haalbaar en ’n lewe hierna verseker.

Die buurt se WhatsApp-groep wat op veiligheid fokus, waarby ek eers onlangs aangesluit het nadat ek vir ’n Sondagmiddag-rooftog gasheer gespeel het, is druk besig. Wat sê die nuwe regulasies? Sal die buurt se privaat polisie op die been kan bly?

En dan: “ ’n Inwoner het laat weet daar is bedelaars wat in die buurt die ronde van vader Cloete doen. Hulle soek kos. Die staat het skuilings opgerig waar hulle tydens die inperking kan gaan. Moet asseblief tog nie vir bedelaars kos of geld gee nie. Hulle sal pal terugkeer. Julle goeie bedoelings sal inderwaarheid meer kwaad as goed doen. Dit staan ook soos ’n paal bo water dat hulle dikwels hul oë en ore aan misdadigers uitleen.”

In dié tyd van onsekerheid – van in ons kasteeltjies sit omring van spys en drank – is daar tog iets wat vasstaan. Die armes is nou nóg armer. Waar ék na vervlietende woorde gryp, het die ontheemdes selfs die strate deur hul vingers laat glip. Ons almal ly. Sommige – weer eens – net meer as ander.

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Besmetting  |  Covid  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.