Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ivor Price: 'Keelvol om vir geld gevra te word'
Ivor Price

Elke nou en dan kry iemand – gewoonlik ’n Kapenaar soos ek – omtrent ’n ligte beroerte wanneer hulle hoor dat ek al byna ’n dekade heel gelukkig in Johannesburg woon en werk. Vir baie is dit net so sleg soos die Sodom en Gomorra van ouds; ’n stad wat net op sonde gebou is.

Dis dalk waar dat ons hier, soos elders in die land, dikwels oopoog gaan slaap. Maar dis nog lank nie die volle evangelie dat my liefste Jozi net uit geld, gru-kapings en grillerige moorde bestaan nie. Baie van dié wat vuil kyke na hierdie deel van die land gooi, vergeet gerieflikheids­halwe navorsing wys dat Johannesburg vergelykenderwys eintlik ’n heel veilige stad is. Lekker ook – so sonder die see en berg.

Een van die dinge wat my nogal opgewonde maak, is dat die kunstenaars stadig maar seker die bedelaars by die verkeersligte uitrook. Daar is nog baie wat uit pure desperaatheid bakhand staan – of selfs erger, ’n mens se bloeddruk opjaag omdat hulle daarop aandring om jou motorruite met ’n vreemde konkoksie te was.

As jy egter net ’n entjie verder ry, is daar ’n groot kans dat jy by die volgende verkeerslig deur ’n kleurvoller gesig begroet sal word: straatkunstenaars wat die kuns vervolmaak het om in so min as ’n halfminuut ’n minivertoning op te dis wat jou gewis met ’n glimlag sal laat, en moontlik selfs jou asem sal wegslaan. Die rooiligbrigade kies om nie bloot te bedel om ’n bestaan te maak nie, maar eerder deur danstoertjies hul brood en botter te verdien.

Deesdae is hulle toenemend in dieselfde uitrustings uitgevat. Die danspassies is haarfyn uitgewerk en teen die einde van elke verkeerslig­vertoning sit motoriste spontaan met ’n geldjie in die hand.

Al wat die dansers dan hoef te doen, is om vinnig die paar rand te kollekteer sodat hulle nie ’n verkeersoponthoud veroorsaak nie.

Wees nou maar eerlik. Ons is eintlik al keelvol om kort-kort vir geld gevra te word.

Wees nou maar eerlik. Ons is eintlik al keelvol om kort-kort vir geld gevra te word – en omdat ons weet dat die meeste mense ’n sukkelbestaan voer, gee ons selfs wanneer ons dit nie regtig self kan bekostig nie.

As jy iewers parkeer, kom daar oombliklik iemand aangehardloop wat ’n wakende ogie in ruil vir ’n muntstuk of twee belowe. Tot die per­soneel van ’n bekende kitskosplek (ja, daai een!) het al die kuns van emosionele manipulasie aangeleer deur aan die einde van elke bestelling op R2 vir hulpbehoewende kinders aan te dring. Waag jy dit om nee te sê, voel jy hoe jy tot die hel verdoem word . . .

Dit herinner my altyd aan my eerste oorsese reis lank gelede toe ’n portier op ’n lughawe in die gesig gevat was oor ek hom ’n dollarnoot vir sy “gratis diens” in die hand gestop het. Hy’t meer verwag en die geld met ’n “God bless you” teruggegee.

In daardie geval gee ek eerder graag vir die dansers wat my by die verkeerslig laat vergeet van die feit dat ek self my sente moet omdraai.

Meer oor:  Ivor Price  |  Rubrieke  |  Geld  |  Menings  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.