Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons benodig dié deugde in besluitneming

Voortbouend op die insigte van filosowe soos Aristoteles het die Christelike tradisie sewe kardinale deugde ontwikkel. Hierdie kardinale deugde – liefde, hoop, geloof, wysheid, geregtigheid, selfbeheersing en moed – is die “skarnier” waar rondom ander deugde draai wat daarmee verband hou.

Deugde verwys na die uitnemendhede, intuïsies, inklinasies en geprogrammeerdheid waarmee ons leef. Ook na die regte, goeie en mooie wat ons beliggaam, kies en uitleef, sonder om nog daaroor hoef te besin.

Deugde rig ons keuses en dade. In hierdie tyd van Covid-19 is dit juis noodsaaklik dat die deug van liefde, deernis en empatie alle besluitneming rig. Selfs die mees saaklike regulasies, soos die inperkingsmaatreëls, moet geskied in ’n gees van deernis. My keel trek toe van angs as ek in hierdie mees brose van tye onsensitiewe besluitneming en hardhandige optredes sien.

Die deug van hoop, ’n positiewe ingesteldheid en die verbeel van ’n nuwe werklikheid, gee energie aan ons besluite. Geloof weer laat ons besluitneming met oortuiging, geankerdheid en beginselgedrewenheid geskied, nie met angs en wispelturigheid nie.

Meermale moet ons kies tussen minder reg en meer reg, tussen minder verkeerd en meer verkeerd.

Wysheid, fyn aanvoeling, helder onderskeiding en goeie oordeel is sleutel-deugde vir besluitneming, onder meer om te besef ons keuses is nie altyd net tussen eenduidig reg en eenduidig verkeerd nie.

Meermale moet ons kies tussen minder reg en meer reg, tussen minder verkeerd en meer verkeerd. Dikwels moet ons ja sê vir twee skynbaar opponerende posisies.

Ons moet tans vir twee goeie dinge tegelyk ja sê: enersyds om die infeksiekurwe so laag moontlik te hou, en andersyds om die negatiewe groei van die ekonomie so laag moontlik te hou. Ons moet hierdie spanning só bestuur dat nuwe moontlikhede hieruit gebore kan word.

Al ons besluitneming en beleidsformulering moet regverdig teenoor almal wees. Ons moet vrae stel oor die aanvaarding van kleurgebaseerde hulpmaatreëls in ’n tyd soos die; oor die sentrale en inhiberende beheer van voedselverspreiding; oor gerugte van partypolitieke oorwegings in die verspreiding van voedsel; en oor maatreëls wat vryhede sonder goeie motivering ontneem. Besluite moet geregtigheid vir almal in die hand werk.

Die deugde van selfbeheersing, dissipline, matigheid en getemperdheid voed ook goeie besluitneming. Dit help ons om te waak teen ekstremisme en eensydigheid in ons besluite. Dit soek balans, ewewig en ekwilibrium.

Die deugde van moed, geduld en krag bevry ons van besluiteloosheid en vrees vir besluitneming. Ons word geroep om te leef met die geduld om opsies deeglik te oorweeg, met die moed om moeilike besluite te neem, en met die krag om dit uit te voer.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Geloof  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.