Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons besit nie Afrikaans nie, dit besit ons

Hoe bereik Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners die punt waar die taal nie langer as ’n bron van konflik en verdeeldheid benader sal word nie, maar eerder as ’n bron van iets om te vier? vra Nico Botha.

Nico Botha

Hoe kom ons daartoe om die taal nie te hanteer as iets waarvoor byle geslyp moet word nie, maar as ’n onuitspreeklike gawe aan die voorgeslagte en die nageslagte en ons? Wat naas al die ander tale in die land as deel van ’n ryke verskeidenheid geniet behoort te word.

Maar kom ons brei die vraag uit: Hoe bereik Afrikaanssprekendes die plek waar niemand aan watter kant van die spektrum ook al oor Afrikaans gedemoniseer sal word nie?

Om só ’n vraag te stel beteken lank nie dat mense nie in opstand mag kom nie as hulle oortuig is dat die taal of tale bedreig en vertrap word.

Wat die Afrikaanse taal betref, kan dit miskien versoberend werk om half filosofies soos volg te redeneer: Dat mense voor my geboorte reeds Afrikaans gepraat het en dat daar tot in lengte van dae ná my dood steeds mense sal wees wat die taal praat en wonderlike skeppende dinge in die taal tot stand sal bring.

’n Volgende kwessie is om die taal nie te sien as iets wat privaat besit word as deel van die triade van “ons taal, ons land, ons volk” nie, maar dat die taal ons besit.

Daarom sal aansprake dat iemand ’n taal besit en dit as dryfveer gebruik om daarvoor te baklei altyd as teenproduktief ontmasker word. As ’n taal jou besit, sal dit ’n ander emosie en gevoel tot gevolg hê.

Om deur die taal besit te word, is om te verstaan dat die woord moedertaal tegnies korrek is, maar baie meer beteken as om bloot net te sê: “Afrikaans is my moedertaal”.

Die taal voed ons en speen ons om soos volwasse Suid-Afrikaners steentjies by te dra tot ’n leefbaarder en mensliker samelewing.

Is daar ’n woord soos “taalmoeder” in Afrikaans?

Om van ’n “taalmoeder” te praat is ’n poging om te sê dat dit nie slegs iets is wat ons van ons ma’s geleer het nie, maar dat die taal self ons koppe streel en ons harte laat gloei.

Die taal voed ons en speen ons om soos volwasse Suid-Afrikaners steentjies by te dra tot ’n leefbaarder en mensliker samelewing.

Dit wil voorkom asof ’n burgerlike organisasie soos die Afrikaanse Taalraad hierdie benadering nastreef.

Eerstens gebeur dit deur die bemagtiging van die verskeidenheid van Afrikaans en deur ’n geloofstaalprojek waar die volgende vraag aan die orde is: Het Afrikaans ’n probleem geword in die godsdiens?

In die beantwoording van die vraag is daar geen poging om enige ander taal te na te kom nie, maar om juis die plek van Afrikaans in ’n meertalige konteks te verdiskonteer.

Tale van geloof

Daarom word daar byvoorbeeld heel simbolies oor die naweek wanneer die gebeure van 1976 herdenk word ’n geloofstaalseminaar in Eersterust, Pretoria, gehou om onder meer oor die verskuiwinge in die Afrikaanse taal en oor versoening gesprek te voer.

Hopelik help die inisiatiewe ’n bietjie om vrede te maak met Afrikaans en om vrede te maak in Afrikaans.

Een van die sprekers by die seminaar het vooraf reeds die aap uit die mou gelaat oor die perspektief wat hy beoog om te stel.

Deur die metafoor van die os te gebruik, sal hy sê die Afrikaanse taal is lank genoeg met die karwats gemoker en voor verskillende politieke karretjies ingespan. Dit is tyd dat die os vrygelaat word om groen weivelde te gaan soek en by rustige waters lafenis te kry.

Sal Afrikaans steeds openlik of op ’n verdoeselde manier as ’n potente politieke wapen aangewend word of sal dit mense tot geregtigheid en vrede roep?

Dit klink miskien ietwat na ’n cliché, maar dis tog ’n manier om uitdrukking te gee aan die verlange dat die taal ons weer met verwondering mag vul en dat die estetiese en skeppende potensiaal daarvan uiteindelik ook in ’n groter mate in die verskeidenheid van Afrikaans gestalte sal vind.

Dekades gelede in die nadraai van die Soweto-opstande het leerlinge in ’n pragtige voormalige Morawiese sendingstasie die kat ’n bietjie aan die stert beetgekry toe hulle gedink het dat die slagspreuk “amandla” hulle oproep om “ ’n maand lank” klasse te boikot.

Dit is te wense en te hope en te bidde dat Afrikaans nie maar ’n “maand lank” sal oorleef nie, maar lewenslank. Baie sal afhang van hoe Afrikaanssprekendes self met die taal omgaan.

Sal dit steeds openlik of op ’n verdoeselde manier as ’n potente politieke wapen aangewend word of sal dit mense tot geregtigheid en vrede roep?

God seën die Afrikaanse taal. God seën sommer alle tale waardeur mense hoor dat daar hoop is.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.