Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons durf nie ophou praat oor Afrikaans

Die debat oor die toekoms van Afrikaans bly baie belangrik in Suid-Afrika. Anders gaan ons eendag agterkom iets wat vir ons kosbaar was, is weg, skryf Wannie Carstens.

Wannie Carstens.

Gert van der Westhuizen het met sy rubriek oor of daar nie belangriker dinge in die land is as die “taalstryd” nie, omtrent ’n byenes oopgekrap, te oordeel aan die reaksie daarop.

Dit is natuurlik sy ervaring van die gesprek wat op 5 Oktober op Aardklop plaasgevind het, waaraan ekself, dr. Danny Titus, oudregter Johann van der Westhuizen en Willie Spies deelgeneem het.

Uit die reaksie blyk dit dat daar ontsteltenis uit verskeie kringe is asof hy sou gesê het dat Afrikaans nie belangrik is vir die Afrikaanse gemeenskap nie. Dit is sy goeie reg as joernalis om so te dink.

Oor van die aspekte wat hy noem, kan ek saamstem. Maar daar is ook ander aspekte wat hy nie verreken het nie.

Kan ons nie maar die negatiewe terme 'taalstryders' en 'taalbulle' uit die debat haal nie?

* Soos dat ’n taal wel mense nodig het om standpunte namens en in daardie taal te stel. Om hierdie persone dan te etiketteer as “taalstryders”, maak sake net moeiliker vir hulle. Kan ons nie maar die negatiewe terme “taalstryders” en “taalbulle” uit die debat haal nie? Respekteer en waardeer eerder die werk wat hierdie mense doen. Self wil ek eerder ’n “taalaktivis” wees omdat dit my meer ruimte gee om te beweeg in die nasionale taaldebat.

* Ook dat die belang van die verlies van funksies van ’n taal, selfs net een funksie, soos taal op skool, ’n enorme verlies vir ’n taal inlei omdat dit ’n proses van afskaling aan die gang kan sit. En ons durf nie toelaat dat hierdie proses in Afrikaans toeneem nie.

Soort tamheid vir debat oor Afrikaans

Deelnemers aan die debat oor die toekoms van Afrikaans op die Aardklop-kunstefees. Van links na regs is Barnard Beukman, redakteur van Beeld en die gespreksleier, regter Johann van der Westhuizen, Willie Spies, prokureur van Afriforum, dr. Danny Titus van die ATKV en prof. Wannie Carstens. Foto: PictureCafé

Ek wil ook reageer op Gert se afleiding dat daar weens die laer as verwagte opkoms by die betrokke gesprek sommer geoordeel kan word die belangstelling in die taal het afgeneem. Dit is ietwat simplisties. Die volgende moet ook in ag geneem word:

* Die lae opkoms kan moontlik ook toegeskryf word aan die ligging van die saal, die reën die oggend en die gebrek aan parkeerplek.

* Maar ook omdat daar onder so baie Afrikaanssprekendes die gevoel is dat daar “iemand anders” is wat namens hulle die “stryd” stry – dit het ek soveel kere teengekom waar ek bedank is en steeds word vir wat ek “doen”. Ek dink daar het ’n soort gelatenheid ingetree dat die “saak vir Afrikaans” in goeie hande is en dat mense (kom ons noem hulle eerder taalaktiviste) namens en vir hulle praat. Of dit waar is of nie, maak nie saak nie. Dus: “laat hierdie mense maar namens my praat, ek vertrou hulle”. Daar het daarom ’n soort abdikasie ingetree, ’n afstaan van eie verantwoordelikheid aan iemand anders, daardie “taalstryders”.

* Dan het daar ook ’n soort tamheid vir die debat ingetree omdat dit sonder oënskynlike sukses is. Die afgelope paar jaar het ondanks erge teenstand by universiteite waar Afrikaans ’n belangrike onderrigtaal was, as resultaat opgelewer dat Afrikaans as onderrigtaal sienderoë verdwyn het (UP, UJ, UV, Unisa) of dat dit afgeskaal is tot ’n mindere status (US).

As die pratery nie tot sukses lei nie, maak dit mense moedeloos.

Min sukses! As die pratery nie tot sukses lei nie, maak dit mense moedeloos en dan kan die gevoel ontstaan dat daar nie meer hoop is nie. Dit is wat ek op plekke waarneem, veral in gesprekke met jonger mense. So ’n soort “laat-maar-loop-houding” en “laat-ons-maar-sien-wat-gebeur-met Afrikaans”.

* Baie jonger mense het reeds die besluit geneem dat hulle oorgaan na Engels omdat hulle daagliks in ’n oorwegend Engelse omgewing werk. Dit raak vir hulle ’n pragmatiese keuse. Die voordele van moedertaalonderrig word nie eens besef nie. Dit het ek vanjaar tot my groot skok onder my eie studente en familiekring agtergekom.

* Lojaliteit vir die eie taal begin verdwyn. Dit is een van die groot gevare van die tamheid van die debat. Die jonger geslag het nie dieselfde lojaliteit teenoor hul taal as die ouer generasie nie.

Kyk maar net wie die debat in die media aan die gang hou. Dit is meestal mense bo die ouderdom van 50, en ook mense uit die wit gemeenskap. Waar is ons jong stemme vir Afrikaans? Waar is die stemme uit bruin geledere vir Afrikaans?

* Dan is baie mense ook bang dat Afrikaans hulle etiketteer. Hulle kan voel dat die verlede van taal en sy sprekers daartoe lei dat hulle wil wegstaan van die taal. En opruiende opmerkings en dreigemente uit regse geledere dra nie juis by tot ’n positiewe gevoel oor die taal nie. Kyk maar net na die aard van die kommentaar onderaan berigte van Netwerk24.

* En ja, daar is meer tale as slegs Afrikaans wat hier ter sprake is. Dit moet ons erken. Ons kyk dikwels net vas in ons behoeftes vir Afrikaans en vergeet dat ons deur ons eie veldtog vir Afrikaans met waardigheid te voer, ook in die ander tale bondgenote kan kry. Die vraag is wel: hoe vorm ons hierdie bondgenootskap?

Wat ek wel weet, is dat ons nie durf ophou praat oor Afrikaans se rol in die land nie. As ons nie aanhou praat nie, gaan die funksies van ons taal oor jare stadigaan afneem, sonder dat ’n mens dit agterkom. Om dan op ’n dag te besef dit wat kosbaar was, is weg.

Dit kan ons nie toelaat nie.

Kom ons praat dus konstant oor die taal, oor ons behoeftes vir ons taal en ons vrese oor die taal, maar kom ons doen dit op so ’n wyse dat ons vriende wen.

En as kan ophou om mekaar in hierdie proses sleg te sê, sal dit nog beter wees.

* Prof. Carstens is ’n taalkundige verbonde aan die Skool vir Tale by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Hy is ook ’n oudvoorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.