Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons eenheid in Christus groter as ons verskille

Die NG Kerk (NGK) se onlangse besluit oor selfdegeslagverhoudings is ná ’n moeilike tyd geneem. Die NGK het hieroor ’n hofsaak verloor, en by twee opeenvolgende sinodes teenoorgestelde besluite geneem waartydens prosedurele foute gemaak is. Die NGK wou egter die gay gemeenskap omarm én sy lidmate wat verskil, vashou.

Braam Hanekom

Die jongste besluit word verwelkom, maar daar is ook sommige wat sê dat dit te min te laat is, en party wat sê die NGK het die Skrif die rug toegekeer. Ander sukkel om te verstaan hoe die sinode iets kon goedkeur, maar terselfdertyd sê gemeentes en lidmate kan maar daarmee verskil.

Die kerkgeskiedenis help ons dalk hiermee. Eeue reeds word met die adiaphora-beginsel geworstel, ’n Griekse term wat onderskeid tref tussen die wesenlike dinge en die minder belangrike dinge (of dinge wat nie voorgeskryf óf verbied word nie).

Reeds in 1548 het koning Karel V probeer om Katolieke en Protestante te verenig deur die Augsburg Interim-wet. Die hervormer Philip Melanchthon het dit verwerp omdat dit glo die leerstelling oor “regverdiging deur geloof alleen” verwerp het.

Hiermee was die tafel egter gedek vir lang gesprekke oor wat adiaphora sou wees en wat nie. Calvyn het heelwat hieroor geskryf en in die 17e eeu sou Anglikane verder stry oor watter dogmatiese, liturgiese en kerkregeringskwessies wesenlik of weglaatbaar is.

Is die etiese vraag oor selfdegeslagverhoudings ’n adiaphora-kwessie vir die NGK? Die sinode het dit nie met soveel woorde gedoen nie, maar dit is in ’n sekere sin die implikasie van dié tweekantige besluit.

Oor die doop het die NGK per implikasie verklaar dat dit nié tot die adiaphora behoort nie, maar tot die kerk se wesenlike verstaan van die Evangelie. Daarom word nie ruimte gelaat vir ander standpunte nie.

Die sinode het egter nóg ’n baie belangrike beginsel vir eenheid neergelê.

Wat die jongste besluit verder doen, is om ’n koers aan te dui van hoe met sake gewerk kan word waaroor ernstige meningsverskille bestaan, sonder om standpuntloos te wees. In ’n wêreld vol verdeeldheid is ons op soek na maniere om sulke verskille te hanteer.

Die sinode het egter nóg ’n baie belangrike beginsel vir eenheid neergelê. Te midde van verskille is daar ’n eenheid in Christus wat altyd groter as ons meningsverskille is. Mag die sinode dit ook ernstig opneem in sy onafgehandelde soeke na eenheid met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK).

Het die NGK se foute hom finaal gekruisig? Geensins. Die kerk bestaan uit mense wat foute maak en vorentoe nóg foute gaan maak.

Genadiglik lewe ons onder die genade van Christus. Ons foute hoef nie die laaste sê in ons lewe te hê nie. Vir almal van ons is daar altyd weer ’n tweede kans in Christus.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.