Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons eens trotse universiteit is by ’n kruispad

My Kovsie-erebelofte van 1970 lui dat ek getrou sal wees aan die ideale, beginsels en tradisies van my alma mater en met trots en lojaliteit die naam van my universiteit hoog sal hou.

Inus Aucamp
Inus Aucamp

In my gesin se lewe het dié universiteit ’n baie groot rol gespeel. Ek was voorsitter van die studenteraad, my vrou primaria van haar koshuis en sy en drie van ons kinders was in eerste sportspanne. Tussen ons was ons 40 jaar lank studente. Ons kan nie ophou dankie sê vir die waarde wat die universiteit tot ons lewe toegevoeg het nie. ’n Skaar van personeel en medestudente het hiertoe bygedra.

In 1973 was ons een van die eerste Afrikaanse universiteite wat bande met ’n swart universiteit, die Universiteit van Zoeloeland, gesmee het. In my nuwelingstoespraak in 1987 in die parlement het ek die universiteit ’n trotse sieraad van die Vrystaat genoem en hulde gebring aan almal wat onvermoeid hul deel bygedra het tot die vorming en opvoeding van mense en gehelp het om ons land te ontwikkel.

Dat verandering moes kom, het die meeste aanvaar. Ek het swaar gesluk toe my koshuis, D.F. Malherbe, se naam en tradisies verander is.

Later is oudinwoners van ’n ander koshuis tydens ’n reünie weggewys. Terwyl die Grondwet respek betoon aan diegene wat hulle beywer het om ons land op te bou, word oud-pres. C.R. Swart, eerste staatshoof en voormalige kanselier, se beeld onseremonieel afgebreek en sy naam van ’n gebou verwyder.

En nou die beeld van pres M.T. Steyn!

Onlangs skryf Leopold Scholtz dat beeldbestormers hul oortuigings oor die hede (iets wat verander en waaroor geldige debatte gevoer kan word) verhef tot ’n filter waardeur na die verlede gekyk moet word, in plaas dat die verlede vir homself moet praat.

Helaas, alles moes verander in die naam van transformasie, nieteenstaande die bewyse van die klaaglike mislukking van die toepassing van “transformasie”.

Toe val Afrikaans. Dit terwyl die Grondwet die reg op onderrig in die amptelike taal of tale van keuse erken. Meer nog: Die personeel moet getransformeer word. Dit is dus nie die beste wat op meriete aangestel word nie. Dit móét mos standaarde laat daal.

Ek wil nie ’n doemprofeet wees nie, maar ek voorspel die universiteit sal – ook as gevolg van druk van “studente” wat gratis studeer en nooit ’n kwalifikasie sal verwerf nie – binne ’n paar jaar verval, met graadsertifikate wat nie veel werd is nie.

Die universiteit is by ’n kruispad. Gaan voort om beelde en name en personeel en tradisies en standaarde op te offer en maak van die eens trotse instelling nog ’n grafsteen van vermoorde kanse (geleen by Langenhoven). Dan is ’n kort skande beter as ’n lang verdriet (geleen by rubriekskrywer Johan van Wyk).

Verander dan sommer die naam van die universiteit en die name van geboue, sportspanne ensovoorts!

Die ander opsie is om vas te skop en karakter te toon. Vat die radikale vas, laat standaarde en meriete geld, maak plek vir die geskiedenis, erken ons verskeidenheid en taalregte, streef na uitnemendheid, harmonie en nasiebou en maak van die universiteit weer die sieraad waarop ons almal trots kan wees.

Intussen van my kant: ’n vallende traan. Dis al!

  • Aucamp, oud-LP, was SR-voorsitter van die UV.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.