Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons eie Hunter S. Thompson

Die dood van die veteraan-joernalis Jan Taljaard het Liesl Louw-Vaudran laat dink aan die dae toe joernalistiek nog anders was en Saterdag se rugby met ewe veel passie as die sin van die lewe bespreek is.

Jan Taljaard

Vandag sou dit ondenkbaar wees om ’n nuuskantoor só te bedryf.

In Beeld se vensterlose kantoor in Strubenstraat, Pretoria, ’n paar blokke van Kerkplein af, het die rook dik gehang, veral so van vieruur af wanneer die spertyd vir môre se koerant nader kom.

Dit was die laat 1980’s en daar was nog geen selfone, internet of spellcheck nie. Net tannie Kleintjie Botha in die biblioteek wat vir jou kon naslaan hoe spel ’n mens nou weer Gorbatsjof en wanneer is die vorige stel reeksmoorde opgelos.

Die verslaggewers het op ronderug-rekenaars met dik klawers getik en tussenin backgammon gespeel as dinge te stil geraak het. Teen middagete is “Die Student” – dit was meestal ek – na die kafee op die hoek gestuur vir olierige pakkies toasted cheese en tamatie.

“Ons skryf maar ’n bietjie propaganda ou maat,” het Jan Taljaard vir my op die tweede of derde dag gemompel. Die juniors in die kantoor, insluitende manne soos Nic Bezuidenhout, Gert van der Westhuizen en Dana Snyman, misdaadverslaggewers, nog nat agter die ore, het hom grootoog aangekyk.

In daardie stormagtige jare was die propaganda meestal daarop gefokus om die destydse KP (die Konserwatiewe Party) en die HNP (die Herstigte Nasionale Party) so sleg moontlik te laat lyk. ’n Mens kon tog nie dat ’n Andries Treurnicht of ’n Jaap Marais die Nasionale Party se projek van versoening in die wiele ry nie.

Jan sou daar sit in sy ongestrykte grys baadjie en swets terwyl hy met een vinger die storie inkleur.

Stories van die KP-parlementslede wat in ’n donker hoekie met ’n nagvlinder die Ontugwet oortree het was veral gewild.

Jan sou daar sit in sy ongestrykte grys baadjie en swets terwyl hy met een vinger die storie inkleur. Min mense kon by hom kers vashou. Selfs 30 jaar later sê sy ou vriend Murray La Vita ook so. En Murray weet van skryf.

Ná 1990 was dit natuurlik ’n heel ander storie. Bloed het gevloei en die koerant moes mense op ’n manier oortuig dat hulle moet inkoop in FW de Klerk en kie se drome van vrede en demokrasie.

Jan het politiek geskryf, maar was nooit lid van die uitgesoekte politieke span met hul blink skoene wat later redakteurs sou word nie. Daarvoor was hy heeltemal te stroomop en hardkoppig. Maar hy het van alles die meeste geweet.

Liesl Louw-Vaudran

Dit was ’n uitsondering om ná werk saam met die ringkoppe genooi te word vir ’n bier en ’n geselsie oor die dag se nuus by die hotel oorkant die straat. Saam met Jan was dit meestal die misdaadmanne en die filosowe wat Saterdag se rugbywedstryd en die sin van die lewe met ewe groot passie bespreek het. ’n Mens het baie geëerd gevoel in hierdie klub.

Mense wat vir Jan in die latere jare geken het vertel net van motorfietsry.

Maar ek sien hom hemel toe ry in een van daardie roomkleurige Corollas van die Pretoria-kantoor, asbakkie oorvol van die stompies, Hunter S. Thompson se The Great Shark Hunt op die sitplek – sonder voor of agterblad, geriffelde bladsye uitgekonsertina omdat dit net te veel kere in die bad geval het. Op die vloer ’n kopie van Deneys Reitz se Commando.

Jan het heeltemal te vinnig gegaan. ’n Mens wens hy kon een van sy beroemde handbreak-turns maak en net vir ’n kort geselsie terugkom.

Daar is nog só baie om te sê.

Hopelik is daar genoeg slim mense daarbo dat hy nie té verveeld sal raak nie.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies en ’n voormalige redaksielid van Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Beeld  |  Liesl Louw-Vaudran  |  Fw De Klerk  |  Jan Taljaard  |  Pretoria  |  Joernalistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.