Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons – ek en jy – is die eintlike taalmakers

Hierdie 139ste rubriek van my is my laaste Volksblad-rubriek.

Want daar is mos ’n ou oerwoudgesegde wat lui: “139 is ’n mooi ronde getal.”

En as dit nie rede genoeg is om die pen vir eers neer te lê nie, dan berus ek my by Langenhoven: Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Gerhard van Huyssteen

In die eerste rubriek van 23 Januarie 2016 het ek geskrywe dat hierdie rubriek sal handel oor Afrikaans se taalmakers: oor die woordwisseling van alle Afrikaanstaliges wat talig besig is om die taallig brandend te hou.

Oor ’n tydperk van byna drie en ’n half jaar het ek oor almal van ons se taalgebruik probeer skryf.

En ek het – op Volksblad se rug, met dankbaarheid – veel geleer.

’n Paar van die veranderinge in my eie gedagtegoed:

    Die invloedrykste taalmaker van alle taalmakers is die subredakteur.

      Jy sien hulle nie raak nie as jy gladweg jou pad deur die koerant lees, maar as ’n slim kop jou oog tref of ’n taalglips jou de josie in maak, dan is dit ook meestal die subredakteur se handewerk.

        “Is dit korrek/verkeerd?” is ’n uitgewaste vraag.

          Vra liewer: “Is dit interessant/belangrik?”

          As iemand op die draadloos “onderwýs” (in plaas van “ónderwys”) sê, moet ons nie wonder of dit korrek of verkeerd is nie, maar eerder die interessantheid in die verskuiwing van klemtoon probeer raaksien.

          Is dit belangrik om iemand te kapittel omdat hy “op dit” (in plaas van “daarop”) sê.

          Of het jy in ieder geval verstaan wat die persoon wat so praat, bedoel?

          So ja, sien die interessantheid raak.

          En laat onbelangrike slapende honde lê . . .

          Want daar is ’n reuse-verskil tussen ’n behoefte om jou taalinstrument so vlytig as moontlik te gebruik en ’n meerderwaardigheid wat mense vir ewig afskrik van jou en jou taalgenote.

            Variasie is een van die natuurlikste eienskappe van alle tale.

              Party mense sê “saam met jou”.

              Ander sê “saam jou”.

              Sommige het ’n “pah en mah”.

              Ander ’n “pô en mô”.

              Verbly jou in andersgeit.

              Eerder as om almal te wil dwing om presies soos jy te klink.

                En les bes: Alle tale verander altyd.

                  Die Afrikaans van Autshumato is nie dieselfde Afrikaans as dié van Louis Trichardt nie. Dit is nie dieselfde as dié van sjeg Abubakr Effendi en SJ du Toit nie. Dit is nie dieselfde wat ek en jy vandag op Facebook lees of oor die eter hoor nie.

                  Dit is ’n fait accompli, ’n feit soos ’n koei.

                  En dit is dié feit wat maak dat Afrikaans se liggie lank nie gedoof is nie . . .

                  Want ons – ek en jy – is die eintlike taalmakers.

                  Hoe óns praat en skryf, bepaal hoe hierdie taal oor 100 jaar van nou gaan klink en blink.

                    Laat die ligte brand! Van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. gerhard.vanhuyssteen@ nwu.ac.za

                      Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen
                      MyStem: Het jy meer op die hart?

                      Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

                      Ons kommentaarbeleid

                      Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

                      Stemme

                      Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.