Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons gedeelde erfenis deur die krummels van beskuit
Cornelia de Kock

Die San-gemeenskap voel hulle is te na gekom met ’n afbeelding van ’n San-reëndans op die bokswyn van ’n kelder daar doer in Namakwaland. Dit is hul goeie reg, want watter bevolkingsgroep wil nou uitgebeeld word as wyndrinkers?

Gestel ’n neef en niggie in volkspeledrag verskyn op ’n wynetiket, elk met ’n glas wyn in die hand, met die volgende daarby: “Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo. Hulle hou van partytjies, en dan maak hulle so.” ’n Mens kan net dink watter kabaal dit sal veroorsaak.

Dit het my laat wonder oor “kunswerke” op handelsware. Erfenismaand was toe ’n goeie verskoning om in my Anglo-Boereoorlog-memorabilia rond te snuffel. In 1999, 100 jaar ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, het ’n boksie met mini-likeurbotteltjies as aandenking op die mark verskyn, kompleet met interessante (en korrekte) feite oor die oorlog.

Op drie van die botteltjies is foto’s van Boeregeneraals: Christiaan de Wet s’n op rooiboslikeur, Koos de la Rey s’n op nartjielikeur, en M.T. Steyn s’n op suurlemoenlikeur. Op die heuningboslikeur-botteltjie pryk die foto van Danie de Jager se aangrypende beeld Afskeid.

Nou, ja, afstammelinge van die Boere het nie hieroor gekla nie. Per slot van sake bevat hierdie flessies maar 50 ml likeur. In teenstelling met die gewraakte bokswyn van ’n hele 5 liter.

Twintig jaar gelede is die Anglo-Boereoorlog ook herdenk met ’n beperkte uitgawe van Ouma-beskuitblikke.

Twintig jaar gelede is die Anglo-Boereoorlog ook herdenk met ’n beperkte uitgawe van Ouma-beskuitblikke.

Op hierdie blikke is foto’s van drie vroue: Emily Hobhouse, die Britse vrou wat tot die redding van vroue en kinders in die konsentrasiekampe gekom het; Hansie Armstrong, die verpleegster wat in die Boerevlugtelingekamp in Irene gewerk het; en die hooffoto is van ouma Elizabeth Ann “Nannie” Greyvensteyn met ’n beskuitpannetjie in die hand.

Wat is nou meer Suid-Afrikaans as juis beskuit? Een van Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon se grootste hunkering is na beskuit. Vra maar vir die bekroonde romanskrywer Marita van der Vyver wat in Frankryk woon.

’n Mens kan amper sê beskuit het in 1939 amptelik deel van die Suid-Afrikaanse leefwyse geword.

’n Mens kan amper sê beskuit het in 1939 amptelik deel van die Suid-Afrikaanse leefwyse geword. Op Molteno het die plaaslike predikant, geïnspireer deur die gelykenis van die talente, toe vir vroue in sy gemeente ’n halfkroon gegee en hulle uitgedaag om dit te vermeerder.

Ouma Greyvensteyn het begin beskuit bak en verkoop. Haar resep en bakvernuf het aan haar bekendheid besorg – en die res van Ouma-beskuit se sukses is nou soos hulle sê geskiedenis.

Italiaanse “cantuccini/biscotti”, Franse “biscotte” of Duitse “Zwiebac” kan nooit as te nimmer beskuit se plek inneem nie.

In die gees was ek op Erfenisdag in die Stadsaalgrotte in die Cederberge. Met verwondering het ek na die San-rotstekeninge gekyk. Hulle tekeninge het die toets van die tyd deurstaan en ons gesamentlike erfenis verryk.

Meer oor:  Cornelia De Kock  |  Gebak  |  Kultuur  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.