Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Ons grootste bedreiging
Max du Preez

Hier is iets van Afrika waarmee ek lankal stoei: ’n Politieke leier kan tienduisende van sy eie mense laat uitmoor en sy land se ekonomie verwoes en hy sal steeds geliefd bly, solank hy net sterk teen Westerse imperialisme staan en wit mense op hul plek sit.

Is die logiese gevolg van só ’n houding dat die lewens van swart Afrikane as minder werd as dié van bleker herkoms geag word?

Dit is dié verskynsel wat maak dat wanneer Afrika-politici, ook hier ter plaatse, onder druk kom, hulle skielik die Weste en wit mense as die vyand opbou en kiesers rondom dié gemeenskaplike vyand mobiliseer.

Dit verduidelik ook hoekom die mantra #WitMonopolieKapitaal nogal suksesvol is om die staatskapingsnarratief te neutraliseer; hoekom die EFF-politiek van ras-bo-alle-ander-oorwegings werk.

Maar eerder as om dit bloot as ’n irrasionele reaksie te sien behoort ons dalk dieper in die geskiedenis te kyk en te besin daaroor dat die werklike skade wat kolonialisme en onderdrukking deur wit mense aangerig het, geestelik en sielkundig was.

Die ergste blywende wond was om mense se selfbeeld en menswaardigheid as swart Afrikane oor baie geslagte heen te ondermyn.

Robert Mugabe is maar die jongste voorbeeld van ’n Afrika-staatshoof wat sy eie mense onderdruk en laat uitmoor het, maar steeds as die groot bevryder van Afrikane geëer word.

Mugabe se magte het in die middel 80’s meer as 20 000 mense in Matabeleland laat uitmoor. In 2005 het Mugabe met Operasie Murambatsvina by ’n miljoen mense dakloos gelaat toe hy wraak geneem het op stedelinge wat teen Zanu-PF gedraai het.

Die grondkwessie oorheers Suid-Afrikaanse politici se heldeverering vir Mugabe.

Mugabe, sy familie en sy binnekring het hulle dik gesteel, verkiesingsuitslae geminag, die land bankrot gemaak en teenstanders laat martel en opsluit.

En tog het die weermag en sy eie party net teen hom opgetree omdat sy vrou in Zanu-PF se sake begin krap het; is hy van vervolging gevrywaar en kan hy sy miljoene dollar hou; is hy deur politici van die ANC en die EFF as ’n groot leier geëer selfs nadat sy eie mense in die strate gedans het toe hy uitgewerk is.

Al sy wandade word oorheers deur twee prestasies: die goeie onderwys wat jong mense van 1980 af kon geniet, en die uitdeel van grond aan inheemse mense nadat die wittes van die plase gesit is.

Die grondkwessie oorheers Suid-Afrikaanse politici se heldeverering vir Mugabe.

Dat die gewelddadige besetting van plase die Zimbabwiese ekonomie byna noodlottig gewond het, dat Mugabe en sy vrou self 20 plase vir hulself gevat en baie Zanu-PF leiers, militêre generaals en regters dieselfde gedoen het, maak geen duik in dié verering nie.

Halleluja, die wit setlaars is ’n les geleer en swart Afrikane het hul grond terug.

Selfs Thabo Mbeki, maar Jacob Zuma, Julius Malema en ander meer geesdriftig, het Mugabe al hiervoor geprys.

Dit is darem ook nie ’n verskynsel uniek aan Afrika nie.

In Serwië, byvoorbeeld, word oorlogsmisdadigers soos Slo-­
bodan Milosevic en Ratko Mladic steeds wyd as helde en slagoffers van Westerse imperialisme beskou.

Daar is baie Afrikaners wat steeds dink apartheidleiers soos Hendrik Verwoerd, John Vorster en PW Botha word onnodig gedemoniseer.

Dalk sê dit alles vir ons dat ongelykheid langs rasselyne ons grootste bedreiging is.

Hoe kan swart mense trots en tevrede voel as die welvaartgaping steeds so skreiend groot is, as soveel swart mense steeds ’n bestaan maak deur wit mense te bedien?

Dit word as ’n eksistensiële ondermyning van swart-wees ervaar, tot op ’n punt waar sommiges hulle tot wraaksugtigheid begin wend.

Meer oor:  Afrika-Politiek  |  Zimbabwe  |  Mugabe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.