Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons Handves van Regte word nog só bedreig

Vandag vier ons een van ons heel kosbaarste besittings, die Handves van Regte. Suid-Afrikaners van alle kleure, sosio-ekonomiese posisies, geslagte, seksuele oriëntasies, tale, kulture, en godsdienstige en sekulêre lewensbeskouinge stem saam oor die waardes en regte van die Handves.

Die vieringe onthou die tragiese gebeure van 21 Maart 1960 toe 69 mense wat in Sharpeville teen onder meer paswette geprotesteer het, deur die polisie doodgeskiet is.

Die Handves staan vir menswaardigheid as die mees basiese van alle waardes. Dít is ons gesamentlike identiteit. Om ’n Suid-Afrikaner te wees, is om menswaardigheid te erken, te bevestig en te bevorder. Die boustene van onvervreembare menswaardigheid is die heling van ons tal­lose wonde: versoenende geregtigheid, verantwoordelike vryheid, gelykheid in waardigheid en in toegang tot basiese lewensmiddele, en die vestiging van ’n samelewing van ewewig waar party nie te veel en ander te min het nie.

Drie generasies of dimensies van menseregte bevorder die vervulling van menswaardigheid: burgerlike en politieke regte, sosio-ekonomiese regte, en ontwikkelings- en ekologiese regte.

In ’n samelewing met soveel ongelykheid soos ons s’n gebeur dit meermale dat die handveste net vir meer welvarende mense goeie nuus is. Hulle kan verseker dat burgerlike en politieke regte toegepas word. Só kon selfs oudpres. Nelson Mandela geroep word om in die hof te getuig.

Suksesverhale bestaan wel, maar dis nie genoeg nie.

Mense wat erge sosio-ekonomiese en verwante agterstande het, kan hulle egter nie met dieselfde sukses op die vervulling van sosio-ekonomiese regte beroep nie. Die sosio-ekonomiese regte op toegang tot basiese behoeftes soos kos, klere, behuising, gesondheidsorg, onderwys, ’n veilige omgewing en deelname aan die ekonomie kan nie alte gemaklik afgedwing en vervul word nie.

Suksesverhale bestaan wel, maar dis nie genoeg nie. Die indruk word te dikwels geskep dat die Handves net vir meer welvarende mense goeie nuus is, en nie vir arm mense nie.

Die viering van Menseregtedag geskied met dubbelslagtigheid. Ons is enersyds bly ons het só ’n dokument met die edel visie van ’n menswaardige lewe vir almal. Ons is bly oor die vordering wat gemaak word met die skep van ’n menswaardige samelewing.

Andersyds betreur ons die tragiese werklikheid van (toenemende) armoede, ’n groeiende kloof tussen ryk en arm, en werkloosheid.

Geloofsgemeenskappe, opvoedkundige instellings, die res van die burgerlike samelewing, die korporatiewe sektor en die regering moet eenvoudig hande vat en saamstaan vir die bou van ’n samelewing van menswaardigheid. Vieringe soos vandag help ons op daardie weg.

  • Nico Koopman is ’n teoloog en viserektor van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Menseregte  |  Menseregtedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.