Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons het nie nou Tarzans nodig

Die wyse Salomo het seker nie aan Fikile Mbalula en Bheki Cele gedink toe hy geskryf het dat mens moenie ’n man wat sy mag misbruik, beny nie en ook nie self maak soos hy nie.

Terwyl hierdie land hom voorberei om die piek van Covid-19 nog uit te klim, wil Mbulula en Cele almal wat nie gehoor gee aan die nasionale ramp-regulasies nie, met soldaat en polisiestewels platskop en links en regs taai klappe uitdeel.

Soos Tim du Plessis dit Sondag in Rapport netjies saamgevat het: toe Mbalula, Cele en Lindiwe Zulu op die skerm verskyn om die inperkingsregulasies te bepraat, toe val die hyser skielik van die vyfde na die kelderverdieping.

Mbalula, Cele en Zulu is politieke esels. Wanneer hulle hul monde oopmaak, is dit niks anders as verbale diarre­e en ’n gespeel vir die kameras nie. Ligte, kameras, aksie!

Hulle val oor eie voete en beduiwel net pres. Cyril Ramaphosa se pogings om hierdie gevreesde virus in sy spore te keer. Maar vir Cele blyk dit ’n spel te wees van hy wil wys wie se pinkie is die dikste. Dit is asof hy ’n institusionele aptyt het om alles te wil reg bliksem.

Allan Boesak het op ’n kol gesê Suid-Afrikaners is so gewoond aan geweld dat ons dit nog altyd doen.

Allan Boesak het op ’n kol gesê Suid-Afrikaners is so gewoond aan geweld dat ons dit nog altyd doen. Ons is ontsteld oor geweld, maar ons soek dit steeds. Ons aanbid dit steeds as ’n oplossing vir ons probleme, ons verafgood dit in ons taalgebruik, ons denke is deurweek daarvan . . .Die geweld wat ons platslaan en verneder, die geweld wat ons veroordeel en verafsku, is die geweld wat ons koester. Die geweld wat op ons afkom, is die geweld wat van binne groei.

Dis maklik vir mense te sê om nie uit hul huise te kom nie en hulle te dreig om hulle in die tronk te stop en ’n boete van R1 500 op te lê. Maar hoe gemaak met mense wat honger is, in beknopte ruimte leef en wat na sy kinders of familie moet omsien. Die huishulp en die tuinwerker wat nie as essensiële werkers ingetel is nie. Waar die beginsel van geen werk geen betaling soos ’n doodskoot is.

Net die pas afgelope week het ek dit eerstehands ervaar toe my getroue helper verskeie oproepe na my gemaak het. Eers het ek dit geïgnoreer, maar toe besef ek hy mag dalk in nood wees en het my hulp benodig.

Op die ou einde het hy darem iemand se erf in die geheim skoongemaak en dit was sy redding.

En so was dit. Hy het hulp nodig gehad. My helper wat op stukwerk aangewese is om brood op die tafel te sit vir sy gesin, wou met alle mag ryloop na my huis om net ’n werkie te kom doen. Ek het hom op die gevare van die virus gewys en hom ook herinner aan die inperkingsbevel.

Hy het dit heeltemal verstaan, maar die inperkingsbevel stil nie sy óf sy kinders se honger nie. Hy was bereid om homself en ook my in effek bloot te stel aan die virus sodat hy net ’n daaglikse loon kon verdien.

’n Mens het magteloos gevoel. Op die ou einde het hy darem iemand se erf in die geheim skoongemaak en dit was sy redding.

Op pad terug na sy gelapte sinkplaat-woning, is hy egter deur die polisie voorgekeer, aangerand en onseremo­nieel in ’n vangwa gestop. Daardie klein bietjie geld wat hy verdien het vir die dag het sommer in die aanklagkantoor verdwyn. Niemand kon rekenskap gee van sy loon toe hy vrygelaat is nie. Nêrens is dit in die bateregister aangeteken nie. Hoe vernederend. Gestroop van sy menswaardigheid

Ek is eens met die president dat ons hierdie kurwe van die koronavirus moet verlaag sodat ons die land van ’n algehele ineenstorting kan red.

Maar hy moet sy Tarzans, soos Mbalula en Cele, in toom hou. Hulle en hul onderdane spring na verkeerde takke.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Tarzan  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.