Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons het nuwe stories nodig om ons te rig

Dag 1. Dit is stil hier in my ark. Net die drie honde is by my. E moet naby haar brose ouers en haar kind op Y wees. Liefde in die Tyd van die Virus. Sal ons aan mekaar mag raak wanneer ons mekaar weer sien?

Ek het vanoggend ’n avokado oopgesny, die pit uit­ge- haal, drie tandestokkies daarin gedruk en dit laat sak in ’n leë agurkiebottel halfvol met water. Dit staan nou op die vensterbank in die kombuis. Oorlede Ma het dit altyd gedoen. Dit was deel van haar evangelie. My kop is vol los gedagtes. Ek sukkel om in paragrawe te dink.

Dana Snyman

C het ’n WhatsApp aangestuur: “Government arranged lockdown from 26 March 2020, and the Bible verse Isaiah 26:20 says: Go home, my people, and lock your doors! Hide yourself for a little while until the Lord’s anger has passed.”

Wil God ons werklik met hierdie virus straf?

Ek weet te min van God af om te weet of dit waar is.

Dis vir my onbegryplik dat party mense kan dink gebed kan jou teen die virus beskerm, en dat God jou met ’n wonderwerk gesond kan maak wanneer jy dodelik siek is.

Hef die hande na bo, bekeer jou, en betaal asseblief vir ons ’n stewige bedraggie in by die rekeningnommer wat nou oor die TV-skerm rol.

Ek sukkel om aan God te dink as ’n god van kits­oplossings.

Ek wonder hoe gaan dit met Kitte, die werklose swerwer wat tydelik asiel in ’n samaritaan se buitekamer op Eden­ville gekry het. Ek bel hom, maar sy foon is af. Kitte, kom in, kom in! Is jy nog gesond, my vriend?

Ek het Sydney gistermiddag Diazville toe geneem, township toe. In die nege jaar wat hy aan en af stukwerk by my doen, is dit die eerste keer dat ek by sy woonplek kom. Drie vertrekke vir ses mense en ’n kous sonder ’n maat in die voortuin.

Ons het nuwe stories nodig om ons lewens mee te rig. Die oues het ons wreed gemaak.

Op pad soontoe, deur Saldanha, het dit soos die dag voor Kersfees gevoel. Net sonder die geskenke. Lang, somber rye in die winkels. ’n Man wat met ’n sak toiletrolle soos ’n baba in sy arms straataf stap.

’n Virus is vir ons gebore in ’n stad in China. Miskien dra die aarde al té lank té swaar aan ons met ons onbeperkte begeertes en onversadigbare drome. Nóg plastiek, nóg rooivleis, nóg steenkoolwolke wat die lug in gepomp word.

Dis mooi en goed dat die Rupert- en die Oppenheimer-familie R1 miljard elk geskenk het vir ondernemings wat in hierdie tyd gaan sukkel, maar hoekom het hulle in die eerste plek R1 miljard om weg te gee? Behoort enige mens soveel geld te hê?

Hoekom is die BMW X5 opgevolg deur die X6 opgevolg deur die X7? Hoekom skeer ek my wange met ’n Gillette Vector Plus terwyl ’n oudtydse Minora-lemmetjie net so goed gewerk het? Wanneer is genoeg genoeg? Miskien sal ons in hierdie tyd tot besinning kom oor sulke dinge.

Ons het nuwe stories nodig om ons lewens mee te rig. Die oues het ons wreed gemaak. ’n Wonderwerk gebeur, sê ds. R, waar mense ten koste van hulself deernis en barmhartigheid bewys.

Ek het pas gaan kyk: Die son skyn helder op die bottel waarin die avokadopit gekruisig in die water hang. Een van die dae behoort ’n fyn, dun stingeltjie deur te breek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.