Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons het optimisme nodig, maar dis harde werk

Soms is die energie en moontlikhede van optimisme meer nodig as wat ’n mens dink. Maar optimisme verg harde werk, skryf Leslie van Rooi.

Ons wil opruim en skoonmaak. Dít was die boodskap van hoop tydens pres. Cyril Ramaphosa se besoek op Mandeladag aan Meadowlands, Soweto, waar gemeenskapslede ingespring het om opruimingswerk te doen ná die onlangse onluste. Foto: Gallo Images

Dit is winter in Suid-Afrika. Oor die afgelope paar weke het ons regte winterkoue beleef. Op sekere plekke was die bergpieke spierwit en die grond goed nat. En op ander plekke het die kwik elke aand tot ver onder vriespunt gedaal.

By ander is daar geplunder en gesteel.

Tydens ’n Bolandse wintersoggend, ná ’n aand van reën, voel die oggend vars en skoon. Die koue lug vlieg byna deur jou wanneer jy dit inasem en dan is jy saam met die skepping dankbaar vir herstel en ’n nuwe begin. Ons het immers byna al voor droë krane gestaan.

Dit blyk egter dat hierdie vars, koue lug nie al bries is nie. As ’n mens ver en diep kyk, kan jy dalk selfs reeds die groen lote van die nuwe seisoen bespeur. Of só lyk dit.

Die ekonomiese aanduidings hier en elders toon tekens van herstel en groei.

Dalk is daar tog tekens dat ons ’n draaipunt in Suid-Afrika bereik het.

Ná jare se plunder en steel is daar nou minder krane oop waaruit geld vloei – die produk van korrupsie. Of so blyk dit te wees. En nie net drup minder krane nie; dit lyk of dié met die hande wat dit oopdraai en oophou en diegene met ’n oop mond wat onder die krane staan, stadig maar seker vasgevat word. Of ten minste is die storie van die druppende kraan nou meer duidelik sigbaar en blootgestel.

Tyd sal leer of dit te vroeg is om so optimisties te wees.

Dan is daar ook ander tekens. Ná die diepe Covid-19-pandemie lyk dit of daar positiewe tekens is. Ook die ekonomiese aanduidings hier en elders toon tekens van herstel en groei. In vorige tydperke van wêreldwye ekonomiese herstel, byvoorbeeld ná die finansiële krisis van 2008, het Suid-Afrika(-ners) die herstel grotendeels misgeloop juis weens die effek van staatskaping.

Maar daar is belowende tekens dat dit (dalk) nie hierdie keer sal gebeur nie. Ook hier is daar iets anders in die lug.

Dit lyk tog of die data van kritieke aanwysers en grafieke hoër neig – selfs hoër as wat ons ’n rukkie gelede verwag het.

Gesprek op straat

Leslie van Rooi

En dan daardie gesprek op straat – ’n belangrike aanduiding van waar ons dink ons is. So agter die maskers lyk dit of daar ’n ander deuntjie te bespeur is. Selfs ná die neerdrukkende beelde en ervaringe van onluste en strooptogte in KwaZulu-Natal en Gauteng het daar ook ander tekens gekom wat ons red van ’n gevoel van hopeloosheid.

Hierdie tekens raak diep en laat jou positief voel juis omdat dit kom van gewone burgers wat die land wil laat werk omdat die alternatief nie oorweeg kan word nie. Ondanks swaarkry, vrees en onsekerheid het die burgery oor die laaste ruk hard en duidelik néé gesê vir ’n opstand wat ons almal, direk of indirek, negatief geraak het.

Of die onluste beplan was en dalk hoe en wie dit beplan het, sal waarskynlik mettertyd meer duidelik word. Maar ek vermoed die planne het nie ingereken dat gewone burgers hard néé sou sê nie.

Perspektief help jou om dinge te relativeer en om raak te sien wat regtig saak maak.

Die miskien-is-ons-oor-die-ergste-bries is dalk net hier. Die ons-kan-dit-laat-werk-gevoel maak ’n mens opgewonde. Die vreesaanjaende alternatiewe en die opwinding van nuwe moontlikhede maak almal meer bereid om weer te probeer.

As daar só ’n gevoel in die lug is, voel gewone dinge sommer ook anders. Dalk is ons nog nie heeltemal daar nie, maar die gevoel dat ons dalk tot op rock bottom (sal) daal, help ’n mens soms met perspektief.

Perspektief help jou om dinge te relativeer en om raak te sien wat regtig saak maak.

Soms is die energie en moontlikhede van optimisme meer nodig as wat ’n mens dink. Hierdie soort optimisme is nie blind en doof nie, maar is gebed in die werklikheid van daaglikse swoeg en sweet.

Dit is optimisme wat ’n mens help om te stoei sodat jy uit die kloue van die koue kan ontsnap.

Hierdie optimisme onder gewone mense is noodsaaklik juis omdat dit sentiment aanwakker wat ons meer laat doen, meer laat deel en meer laat bied. Dit gee aan ons ’n probeer-maar-weer-houding en is maklik oordraagbaar – selfs met ’n masker op ons gesig.

Optimisme is nie maklik nie

Maar optimisme is nie maklik, eenvoudig of goedkoop nie. Dit vra vir harde saamwerk en vir onderlinge ondersteuning en ’n weer-probeer-houding. Dit is aktief en nie passief nie en dit vra van ons om deelnemers en nie toeskouers te wees nie.

Dit laat ons nie in vrees vasval nie en help ons om nie net teoreties te dink en te doen nie. Dit is ’n proses waarin jy jou hande moet vuilmaak en wat jou kan uitput. Maar dit is ’n moegheid wat jou daaraan herinner dat jou aksies die moeite werd is.

Dalk is daar tog ’n ander bries in die lug. En net dalk is die seisoen aan die draai. Die tyd sal leer.

• Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Korrupsie  |  Plunder  |  Staatskaping  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.